Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

"Kan KI ’n preek skryf? Ja. Maar wat is die koste vir die kerk as ons nie meer duisende predikante het wat ure elke week reflekteer oor hoe om die Bybel te lees in hierdie tyd, hoe om die gemeente en die gemeenskap te lees, en hoe om ons woorde te vorm op wyses wat met tye ook protesteer teen die oorwegende opinies waarop groot taalmodelle gevorm is." Lees Cobus van Wyngaard se rubriek hieronder. Grafika geskep deur ChatGPT (Julie 2025)

Kan en móét kunsmatige intelligensie (KI) ons preke maak?

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ek wil eenvoudig twee vrae beantwoord: Kan en móét kunsmatige intelligensie (KI) ons preke maak? My vermoede is dat die feit dat KI preke kan maak ’n kragtige herinnering is wat die werklike waarde van preekmaak is, skryf Cobus van Wyngaard. 

 

Die Skriflesing was uit Romeine 12. Gefokus op die middestad van Pretoria. Die preek vertel van die tipiese stedeling – “Red jouself, maak geld, trek weg” – en gebruik Paulus se liggaamsmetafoor om ’n kontras te skets: “as ’n lid in Paul Krugerstraat ly, ly almal; as ’n lid in Sunnypark juig, juig ons saam”. Hoe lyk dit dan as Romeine 12 hier in die middestad van Pretoria sigbaar word? ’n Student wat iemand ondersteun vanuit haar NSFAS-beurs. Eienaars wat geboue opknap om menswaardige behuising te verskaf sonder om meer huur te vra. Dit, vertel die KI-preek, is hoe aanbidding lyk.

Nee, hierdie KI-preek is nooit gepreek nie. Dit is ’n voorbeeld vir hierdie artikel. Maar dit illustreer iets van die tegnologie wat op die tafel is.

 

Taalmodelle wat teks kan genereer en gesprekke kan voer

Toe GPT 3.5 einde 2022 groot taalmodelle gewild gemaak het, is daar gereeld gewys op die generiese a-kontekstuele aard van die tekste wat dit vorendag gebring het. Dat ’n algoritme ’n gedig kon skryf, was oulik, maar wie van ons sou ’n digbundel aanskaf vol GPT 3.5 gedigte? Twee jaar later is die wêreld besaai met KI-genereerde tekste – van storieboeke tot akademiese artikels, nuusberigte tot advieskolomme. En, sonder twyfel, is die kerk besaai met KI-gegenereerde preke.

Alhoewel kunsmatige intelligensie (KI) ’n breër veld is, verwys ek wanneer ons oor preke praat primêr na generatiewe KI, of groot taalmodelle – waarvan ChatGPT die mees bekende voorbeeld is. Modelle wat teks kan genereer, gesprekke kan voer, en wat vanuit eenvoudige versoeke (soos om ’n preek uit die Romeinebrief vir die middestad van Pretoria te skryf) iets kan produseer.

Ten spyte van ’n debat oor hoe ver groot taalmodelle nog kan ontwikkel, is die eerste punt van ’n refleksie oor KI en preekmaak om te erken dat vandag se groot taalmodelle wel ’n gangbare preek kan maak – ’n preek wat ’n basiese kontekstuele sensitiwiteit en ’n aanvaarbare kwaliteit in terme van die taal en teologie toon. Die vraag is dus nie werklik of ek KI kan gebruik om ’n preek te maak nie. Hierdie deel van die gesprek is verby. Dit kán.

Maar juis omdat dit kán, roep dit ons om dieper te dink oor hoekom ons preke maak.

Hoekom maak ons preke?

Ek preek nou al so bykans 18 jaar. Elke kort-kort vind ek myself in ’n gesprek waar ’n vraag of opmerking iets by my oproep, en ek dan onthou dat ek iewers oor die jare oor hierdie saak gepreek het. My antwoord of bydrae is telkens die resultaat van ure se voorbereiding jare gelede, vir ’n ander gehoor in ’n ander tyd. Hoekom maak ons preke? Om Sondagoggend iets sinvols te kan sê? Of is dit deel van ons voortgaande vorming en oordenking van moeilike teologiese en lewensvrae – deel van ons voortgaande voorbereiding om ’n pad saam met mense te stap?

En hoe verander preke oor tyd? Om die breë konteks van ’n gemeenskap in ag te kan neem, is een ding, maar vir die meeste van ons wat oor lang tye preek is daar ’n natuurlike dans saam met die gemeente waar ons mekaar se taal vorm. As ek Sondag preek dan gebruik ek woorde wat binne ons klein gemeentetjie betekenis gevind het oor die afgelope jare – woorde waarvan jy deelgemaak moet word oor tyd as jy by ons sou aansluit. Dit is ons taal. Om kontekstueel te preek gaan oor veel meer as om te weet van Paul Krugerstraat en NSFAS-beurse – belangrike dele van ons konteks – dit gaan oor die verhale van mense en die dag-tot-dag gebeure in ’n gemeenskap. Van hierdie mikrokonteks kan geen taalmodel werklik kennis dra nie. Ons onderskat dalk die ongelooflike hoeveelheid mikrokonteks wat ’n individuele prediker in haar gedagtewêreld bymekaar hou wanneer daar preek gemaak word.

Die weergalmkamereffek (echo chamber)

Laastens moet ons met groot versigtigheid omgaan met die wyse waarop groot taalmodelle ’n breë middelgrond kan versterk deur idees teen ’n tempo te reproduseer waarby geen mens kan bybly nie. Die kombinasie van tekste waarop taalmodelle opgelei word, en die wyse waarop menslike terugvoer modelle leer om tipiese voorkeure te verteenwoordig skep ’n kragtige weergalmkamereffek. Soveel so dat Open AI in April 2025 ’n GPT 4o opdatering moes terugtrek omdat die model te hard probeer het om met gebruikers saam te stem. Die krag van die kerk lê dalk juis in die duisende klein gemeentes wat elkeen onderskei wat die regte ding in hierdie tyd is. Wat die moontlikheid oopmaak dat ons teenstemme kan hoor wanneer die breë konsensus nie belyn is met ons diepste oortuigings nie. Kan die kerk nog praat van ’n profetiese stem as ons preke bloot ’n breë konsensus verteenwoordig?

Kan KI ’n preek skryf? Ja. Maar wat is die koste vir die kerk as ons nie meer duisende predikante het wat ure elke week reflekteer oor hoe om die Bybel te lees in hierdie tyd, hoe om die gemeente en die gemeenskap te lees, en hoe om ons woorde te vorm op wyses wat met tye ook protesteer teen die oorwegende opinies waarop groot taalmodelle gevorm is. Dalk is die moontlikhede wat KI oopmaak ’n herinnering dat preekmaak oor veel meer gaan as die woorde wat Sondag vir 20 minute gepraat word. Die dissipline van preekmaak is ’n kerndeel van hoe predikante deurlopend hulle eie taal vorm om gemeentes en gemeenskappe te begelei. Die feit dat preke skynbaar outomaties gegenereer kan word is dalk juis ’n herinnering aan wat die werklike hart van preekmaak is.


Prof Cobus van Wyngaard is mede-professor in Sistematiese Teologie by Unisa en predikant by die NG Gemeente Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Kan en móét kunsmatige intelligensie (KI) ons preke maak?”

  1. Die Gemeente Dienste Netwerk (GDN) is ‘n vrywillige netwerk van persone wat dienste aan gemeentes lewer, en ontmoet vanjaar vanaf 12 tot 14 Augustus by die Venterskroon-kampterrein. Die tema is Invloed en benutting van kunsmatige intelligensie in die bediening, en die volgende sprekers het reeds hul teenwoordigheid bevestig: Proff Ian Nell (Universiteit van Stellenbosch) en Ferdi Kruger (Noordwes-Universiteit).

    Die reëlings is soos volg:

    • Eie kostes en reisreëlings.
    • Verblyf en etes is by die Venterskroon-kampterrein.

    Inskrywings sluit teen 28 Julie 2025 (ter wille van bespreking).

    Kontak vir Leon (leon@ngkvs.co.za of 083 503 6674) vir meer besonderhede.

Comments are closed.

Scroll to Top