Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ons kweek ontstuimige woedes – deur ons stiltes, ons aandadigheid, ons versuim, ons vooroordeel, ons vroomheid … Só skryf Stephan de Beer in dié hedendaagse klaaglied.
Jesus, Palestynse Jood toe U onder ons kom woon het, waar is U?
Waar, Jesus, wanneer kinders in Gasa vermink en vermoor word?
Het U u eie woorde vergeet toe U gesê het, “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle?” Maar wanneer kinders met uitgestrekte hande smeek vir kos en genade, word hulle die teikens van missiele en granate.
Uself het ernstig gewaarsku dat enige een van ons wat kinders laat struikel met ’n meulsteen om hulle nek in die dieptes van die see moet wegsink! So ernstig was U oor die beskerming van kinders se waardigheid en reg om te leef.
Maar waar is U, Jesus? En waar is u kerk?
Is ons blind vir die vernedering van die Palestyne en die onwettige besetting van hulle grond en nedersettings vir die afgelope 77 jaar? Hoe kry ons dit reg om die sekulêre staat van Israel gelyk te stel met die mense van God in die Hebreeuse Bybel? Maak ons dieselfde denkfout wat ons gemaak het om te dink ons as wit Afrikane(rs) is die uitverkore volk van God?
Jesus, wil U nie die tafels in ons tempels omkeer nie? U wat by Samaritane partytjie gehou het en almal wat ‘anders’ was by u tafel laat sit het? Waarom is U nou stil, Jesus?
Jesus, breek ons hart. Breek die valse voorstellings waarmee ons kwaad goedpraat. Breek die vooroordeel in ons kop en hart.
Help ons om nie ons ore uit te leen aan verkeerde mense of vals boodskappers nie. Verhoed ons om die vals sekerhede waarmee ons grootgeword het as die waarheid te verstaan.
Keer ons om, sodat ons U kan sien, voel en hoor in die verbryselde lyf van nege kinders van een egpaar wat almal op een oomblik uitgewis is. U self moes vlug, Jesus, toe Herodes, soos Moshe Feiglin vandag, daarop uit was om die baba’s te vermoor.
Vredevors, hoe kon Hamas 1 200 mense doodmaak op 7 Oktober 2023?
En tog, miskien verstaan U die verwondheid en verslaenheid van mense wat vir generasies al as minderwaardig behandel is; wie se huise gestroop en afgebreek word sodat ‘God se mense’ hulle daar kan vestig. In u naam.
Miskien verstaan U as diep verwonde mense, met geen opsies nie, hulle wend tot partye van geweld, al stem U dalk nie saam nie. Weerloosheid kweek weerstand.
In ons eie land, Heer, waar amper 40% van jongmense werkloos is sonder enige belofte van iets beters môre – is dit nie ook ’n tydbom nie? Hoe lank sal ons stilbly, of veroordeel, sonder om deur u empatie beweeg te word om te werk vir ’n meer regverdige wêreld? Hoe lank nog …?
Here, ons kweek geweld. Ons kweek Hamas. Ons kweek bendes. Ons kweek ontstuimige woedes – deur ons stiltes, ons aandadigheid, ons versuim, ons vooroordeel, ons vroomheid, en, Here, alles nogal in u eie naam!?
Die staat Israel is nie gelyk aan die mense van God nie.
Om die gewelddadigheid van Sionisme aan die kaak te stel is nie anti-semities nie.
Om uit te roep dat 53 901 mense na 7 Oktober 2023 vermoor is waarvan meer as 16 500 kinders – en 80% mense van die inwoners van Gasa dakloos gelaat is; en honger soos ’n draak sy kloue om klein en groot kom span – is om met u oë te sien.
U hart is vir die mense van Palestina en van Israel, ook met die gyselaars en dié wat bang is. Maar U was nog altyd op ’n spesifieke manier besorg oor die kleinste mensies; die melaatses en verstotenes. U was nog nooit baie gemaklik met die maghebbers nie. Hulle het u wreed vermoor. Hulle maak hulleself god.
So, Jesus, skaar U by hulle wat vir 77 jaar apart gehou word; minder werd geag word; en met die verskoning van 7 Oktober 2023 uitgewis word soos miere. Breek die skanse af. Verwyder die mure. Maak almal vry.
Waar is u kerk? Hoekom weier ons om te luister na die noodkrete van Palestynse Christene? Hoe waag ons om U te vergestalt in hulle wie se dade en woorde daagliks anti-Christus is? Is ons dan ook teen U? Hoe kan Christenstemme opklink om Gasa skoon te vee? Ons hande is met bloed bevlek, Here. U kerk is aandadig. U kerk is nie die bruid nie.
Moenie bid vir vrede as ons nie bereid is om te roep vir geregtigheid nie.
Moenie vrygewig miljoene wil gee om die stadsmure op te bou, nadat ons stilgebly het oor die stadsmure se afbreek nie.
Moenie skree, ‘Here, Here’, maar wanneer die Here vir ons oë gee om te sien, maak ons of ons blind is nie.
Net soos Ragel gehuil het vir haar kinders in Jeremia, so hoor ons bitter weeklag in Gasa, en in Rafah, en in Betlehem, digby u geboorteplek. Ma’s huil vir hulle kinders en kan nie getroos word nie. Heling is nie meer moontlik nie. Alles is tot niet.
Maar êrens wag die aasvoëls gulsig om te eet; om hulle waterfronteiendomme te bou op die ruïnes van kinderlewens. Om gewetenloos te dans op die skerwe van God se beelddraers. Hoekom hoor ons nie? Hoekom sien ons nie? Hoekom is ons hart so hard?
Jesus, waar is U?
- Prof Stephan de Beer is ’n teoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria en direkteur van die Sentrum vir Geloof en Gemeenskap.