Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johan van der Merwe | Menseregtedag: ’n Uitdaging aan die NGK?

Op 21 Maart vier ons Menseregtedag. Tereg het die dag vir verskillende mense verskillende betekenisse. Hoe ’n mens ook al daaroor oordeel, kan die feitelikheid van die verskriklike gebeure wat op 21 Maart 1960 in Sharpeville plaasgevind het, nie ontken word nie.

Dit is die dag waarop 69 betogers volgens oorlewering deur die polisie doodgeskiet is en 180 gewond is. Die NG Kerk se betrokkenheid by hierdie gebeure sou later daardie jaar meer konkreet word tydens die Cottesloe-kerkeberaad wat van 7-14 Desember 1960 in Johannesburg plaasgevind het. Tydens die beraad, onder leiding van die Wêreldraad van Kerke, het die teologiese ondersteuning van apartheid en samelewingspraktyke soos trekarbeid, grondbesit, die verbod op gemengde huwelike en stemreg vir alle inwoners van die land onder die vergrootglas gekom.

Alhoewel die verklaring wat aan die einde van die beraad uitgereik is, deur die sinodes van die NG Kerk verwerp is, was dit ’n belangrike beroep op die gewete van die kerk. Dit het uiteindelik gelei tot die aanvaarding van Kerk en Samelewing veertig jaar gelede, waarin die NG Kerk formeel afskeid geneem het van die teologiese ondersteuning van apartheid en haar deure en lidmaatskap vir alle mense oopgemaak het.

Lees ook : Johan van der Merwe: In 2026 is dit 40 jaar na Kerk en Samelewing

Die vraag mag gevra word waarom hierdie geskiedenis enigsins belangrik is in die tyd waarin die kerk leef of selfs probeer oorleef? Miskien is herinnering aan die tragedie van 21 Maart 1960 in die jaar waarin ons na veertig jaar nadink oor Kerk en Samelewing nogmaals ’n wekroep aan die NG Kerk om nie die tragedies van ons eie tyd mis te kyk of bloot te ignoreer nie. In ’n land waarin daar elke 20 minute iemand vermoor word, ongeveer 23 miljoen mense in geweldige armoede onder die broodlyn leef, korrupsie en gierigheid ongekende afmetings aanneem en die ekologie deur ekoterroriste genadeloos uitgebuit en gestroop word, is die maklike uitweg om volstruistaktiek te volg, kop in die sand te druk en te maak asof dit nie gebeur nie. Nog gevaarliker is dat lidmate in gemeentes so gewoond raak aan die gebrokenheid van die samelewing en so gewoond raak aan al die slegte nuus, dat dit eintlik nie meer saak maak nie.

Miskien bied 21 Maart die geleentheid aan gemeentes in die NG Kerk en aan elke lidmaat om ons sensitiwiteit vir die gebrokenheid van ons land te toets. Die feit dat dit ook Lydenstyd is, maak dit nog belangriker. Hoe kyk ons na die nood en die seer, hoe dink ons daaroor, maar dalk belangriker: Wat doen ons daaraan? Kry ons ’n antwoord op hierdie vrae, word 21 Maart veel meer as net nog ’n politieke vakansiedag, maar word dit ’n dag wat ons herinner aan ons roeping as kerk.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

5 thoughts on “Johan van der Merwe | Menseregtedag: ’n Uitdaging aan die NGK?”

  1. Sleutelbordkryger

    Ek vra weer, en niemand kan of wil die vraag antwoord nie: hoe lank gaan ons nog moet jammer sê oor apartheid? Moet ons kinders ook jammer sê? En hulle kinders?
    Dalk is dit tyd vir die NG Kerk om ook sy roeping na te kom om die huidige regering vas te vat oor die misbruik van die land se mense. Maar nee, die kerk en bestuur sal eerder vir ons laat skuldig voel oor die verlede as om iets te probeer doen oor die toekoms.

  2. Ek is dankbaar vir die artikel. Hartseer saam met die wie hartseer is. Onthou saam met die wie onthou. Leef ‘n jammer in nederige postuur solank dit vir ander voel soos reapek en liefde.
    Tot miljoene kinders nie meer honger slaap nie kan ons maar effe jammer bly. Nie pateties of verlam nie, maar diep simpatiek en verantwoordelik.

    Ekt nog van min mense gehoor wie werklik jammer gesê het en vergewe is en dit nie uiters positief en as voorreg beleef het nie.

    Kyk en leef verby die propaganda van slagofferskap.

  3. Dankie prof Johan, ons benodig meer van hierdie profetiese stemme. Mag die Here ons oë oopmaak om die seer van ons land te sien.

  4. Rudi Swanepoel

    Dankie Prof Johan vir die lewegewende oproep to betrokkenheid by en liefde vir ons komplekse land. Jy stel ‘n voorbeeld van ‘n Christelike lewenshouding.

  5. Nadine Stoffels

    Baie dankie Prof! Ons moet defnitief meer maak vd nie-Christelike feesdae en dit gebruik om deel te wees vd samelewing!

Comments are closed.

Scroll to Top