Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Johan van der Merwe: In 2026 is dit 40 jaar na Kerk en Samelewing

Vanjaar, 2026, moet die jaar van Kerk en Samelewing wees! Dit moet die jaar wees waarin die NG Kerk met dankbaarheid terugkyk na een van die belangrikste koersveranderende gebeurtenisse in die geskiedenis van die kerk, veertig jaar gelede, naamlik die aanvaarding van die dokument Kerk en Samelewing in Oktober 1986. Die besluite van die Algemene Sinode wat in dié dokument vervat is, het die deure vir die NG Kerk oopgemaak om ’n belangrike rol te speel op pad na ’n demokratiese Suid-Afrika. Die dokument het egter nie uit die lug geval nie. Wat ook onthou moet word is dat dit die gevolg was van etlike jare van worsteling en stryd en selfs verwerping van die NG Kerk.

Die NG Kerk se teologiese verstaan van rasseverhoudinge het in 1974 formeel beslag gekry met die aanvaarding van Ras, volk en nasie en volkereverhoudige in die lig van die Skrif. Die kerk het haar egter heel gou in ’n muur van kritiek vasgeloop. In die buiteland het die Gereformeerde Kerke in Nederland, die Switserse Federasie van Protestantse Kerke en die Reformierte Bund in Duitsland die verslag verwerp.

Hierdie stroom van buitelandse kritiek sou al sterker word en uiteindelik lei tot die aanvaarding van ’n status confessionis oor apartheid en die skorsing van die NG Kerk tydens die vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in Ottawa in 1982.

In Suid-Afrika was die publikasie van die Hervormingsdaggetuienis op 5 November 1980, Stormkompas in 1981, die Ope Brief van 1982 en die aanvaarding van die konsepbelydenis van Belhar in 1982 van die belangrikste momentumbouers om die NG Kerk te laat verstaan dat die teologiese ondersteuning van apartheid soos wat dit in Ras, volk en nasie beskryf is nie aanvaarbaar was nie. Hierdie gebeure het die NG Kerk gehelp om in Oktober 1982 ’n historiese besluit te neem om opnuut na te dink oor die kerk se standpunte.

Die Algemene Sinode het op 14 Oktober 1982 besluit dat Ras, volk en nasie indringend in die lig van die Skrif hersien moes word en dat die beleid van die kerk duideliker, eenvoudiger en korter gestel moes word. ’n Studiekommissie moes aangewys word om die werk te doen en die eindproduk moes vir voorlegging aan die Algemene Sinode van 1986 gereed wees. Hierdie eindproduk was Kerk en Samelewing.

Daar word in die huidige tydsgewrig dikwels maklik gesê dat die NG Kerk haar aandeel aan apartheid nogmaals moet bely. Miskien kan die gebeure rondom die ontstaan van Kerk en Samelewing en die prys wat die NG Kerk daarvoor moes betaal ons van die las vry maak. Miskien sal dit goed wees om die gebeure nie net te onthou nie, maar ook te vier.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top