Wanneer godsdiens en politiek vermeng word is die eindresultaat dikwels ’n dodelike mengsel. Dit het niks met kant kies te doen, maar wel met die wyse waarop godsdiens misbruik word om bepaalde politike doelwitte na te jaag of te keer, skryf Johan van der Merwe.
Hierdie stelling word opnuut bevestig deur die sluipmoord op Charlie Kirk in Utah in die VSA op 10 September 2025. Die wyse waarop godsdiens in politieke retoriek gebruik is en christelike nasionalisme aangemoedig is, is egter niks nuuts nie. Die geskiedenis is deurspek van soortgelyke gebeure wat dikwels tragies geëindig het.
’n Sprekende voorbeeld uit die geskiedenis van die Reformasie het 500 jaar gelede in 1525 in Duitsland afgespeel. Dit was die bekende boere – opstand onder leiding van onder andere Thomas Müntzer. Müntzer het sy optrede op die voorbeeld van Gideon in die Ou Testament geskoei en het homself as ’n vegter-priester beskou. Hy het onder meer sy briewe onderteken met die woorde: “Thomas Müntzer met die swaard van Gideon”. Die uiteinde van die misbruik van godsdiens om politieke ideale te bereik het die dood van bykans 100 000 boere beteken. Müntzer self is op 27 Julie 1525 buite Mühlhausen onthoof.
In Suid-Afrika hoef ’n mens nie te ver in die geskiedenis terug te blaai om te onthou hoe die NGK se teologiese ondersteuning van die Nasionale Party se politieke beleid van apartheid afgeloop het nie. Die wyse waarop godsdiens en politiek vermeng is, word duidelik uit die toespraak van Dr DF Malan, eertydse predikant van die NGK wat in 1948 Eerste Minister geword het. Sy toespraak tydens die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 het die tafel gedek vir wat sou volg. Hy het onder meer gesê: “As daardie sielsdeursoekende vraag hom dan aan u opdring: Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen? … staan dan stil, en draai terug! Terug na u volk, terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar, waarop u offers moet lê, en as dit geëis word ook uself as offerhande; terug na die heiligheid en die onskendbaarheid van die gesinslewe; terug na u Christelike wandel; terug na U Christelike geloof; terug na u kerk; terug na U God.” Op 5 November 1994 het daar ook ’n skoot geklap as nadraai van die ondersteunining van en die weerstand teen die vermenging van godsdiens en politiek toe prof Johan Heyns, die moderator van die 1986 Algemene Sinode, in sy huis deur ’n sluipskutter vermoor is.
Miskien is die dood van Kirk ’n nodige wekroep ook aan almal in Suid-Afrika om opnuut te besef hoe dodelik die mengsel van godsdiens en politiek kan wees.

Wat ‘n niksseggende artikel. Is Charlie Kirk se aanmoediging van sg Christelike Nasionalisme rede om hom te vermoor? Moet godsdiens en politiek nou nie gemeng word nie uit vrees dat iemand vermoor sal word vir die uitoefening van sy/haar reg tot vryheid van spraak? Suid-Afrikaners, soos die res van die wêreld, weet lankal dat die mengsel van godsdiens en politiek dodelik kan wees. Nie nodig vir enige wekroep nie.
Die gevare om godsdiens en politiek te vermeng is welbekend. Ons sou egter armer gewees het sonder die gevaar: Dink maar aan die politieke invloed van Beyers Naudé en Desmond Tutu. Ons maak dikwels die fout deur te dink dat almal dieselfde as ons dink en redeneer. Die wêreld sou ook armer gewees het sonder Charlie Kirk.
Baie dankie, Prof Johan.
U verwys tereg na die dwaling van die Apartheidsteologie van Malan, e.a.
en die uiteinde daarvan.
As een van die oorlewende ondertekenaars van 1982 se Ope brief 123, het ons destyds teenstand van kerkleiers beleef.
Daardie teenstand destyds was ‘n vulletjie in vergelyking met dit wat ons deesdae beleef as jy durf waag om daarop te wys dat die woke-ideologie in die kerk Skriftuurlik net so onhoudbaar is as wat Apartheid was.
Dit is kommerwekkend dat die opdrag van Jesus nl; om die evangelie van Jesus Christus uit dra deur mede christene oor die boeg van die vermenging van christenskap en politieke gegooi word. Hierdie jong man sé fokuspunt was nié politiek nie, maar die verkondiging van ‘n lewenswyse wat voort gespruit het uit die vrug van die Heillige Gees en die Koninkryk van geregtigheid, waarvan Jesus Christus die Koning is. Dit is presies wat die Romeine met Jesus gedoen het deur Hom as ‘n politieke figure voor te hou, terwyl Hy Sy bediening begin het met; “Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby julle gekom.”
Ek kwalifiseer dit deur te sê dat ek nie ‘n geleerde is soos die skrywer nie; maar dat ek tog, soos ander wat kan lees, tot ‘n gevolgtrekking kan kom oor wát ek lees.
Die artikel skep op subtiele manier die indruk dat Kirk se ideologie en sy “misbruik” van godsdiens hom direk in gevaar gestel het. Hierdie stelling is onregverdig en dit berus duidelik meer op retoriese manipulasie eerder as feite.
Die skrywer plaas Kirk se moord direk langs historiese tragedies soos die van Müntzer, sowel as die NG Kerk tydens Apartheid. Hierdie doelbewuste groepering laat die leser stilweg glo daar bestaan ‘n soortelyke of gemeenskaplike oorsaak, gevolg en verhouding tussen die voorbeelde. Die skrywer mag dalk neutraliteit verklaar, maar hy kies dan hierdie selektiewe voorbeelde wat sy stelling ondersteun, terwyl daar hordes ander voorbeelde bestaan soos dié van die Hugenote met hul Protestantse geloof wat verweef geraak het met politieke weerstand teen ‘n monarg se beleid van geforseerde Katolieke homogeniteit. Hierdie eensydige benadering skep die indruk dat Kirk se identiteit en uitgesprokenheid self bydraend was aan sy slypmoord.
Verder gebruik die artikel analogieë om ‘n patroon te vorm: “Godsdiens en politiek lei noodwendig tot tragedie”. Dit suggereer subtiel dat Kirk se moord ‘n onvermydelike gevolg was van sy ideologie. In werklikheid was sy dood die voorbedagte haat(mis)daad van ‘n individu (of moontlik ‘n groep – dit is ‘n aktiewe saak).
Ten slotte word Kirk se dood as “wekroep” vir ons in Suid-Afrika gebruik en dit word in ‘n tipe morele les omskep, maar dit ignoreer heeltemal die rol van geweldadige ekstremisme en verlinkse politieke ideologie (met sterk anti-Christelike retoriek) aan die ander kant – dit gee ‘n misleidende beeld van oorsaak en gevolg.
In kort verstaan ek die implisiete boodskap van die artikel so, “as jy dalk dink soos Kirk of sterk of kontroversiële opinies het – veral vanuit Christelike oogpunt – dink eers mooi, of anders…”