“Wat het van die dapper NG Kerk geword?” Hierdie is ’n vraag wat een van die sprekers tydens die Kerk en Samelewing 40-konferensie wat onlangs in Pretoria plaasgevind het, beskuldigend gevra het?
LEES OOK: Is NG Kerk ondanks die insigte van missionale teologie steeds besig om wit belange te beskerm?
Die vraag is gemotiveer deur te verwys na die dapper NG Kerk wat sendelinge tot sover as Nigerië in Afrika ingestuur het om die evangelie te verkondig. So verstaan is daar natuurlik baie ander voorbeelde van die dapper NG Kerk uit die verlede:
- Dit is die NG Kerk wat die evangelie in 1652 aan die suidpunt van Afrika kom vestig het.
- Dit is die NG Kerk wat die evangelie met bloed, sweet en trane in 1835/36 die binneland ingedra het.
- Dit is die NG Kerk wat haar lidmate deur twee oorloë en die armblankevraagstuk getrou bygestaan het.
- Dit is die NG Kerk wat in 1986 erken het dat die teologiese ondersteuning van apartheid verkeerd is en tydens die Rustenburgberaad van 1990 by monde van prof Willie Jonker bely het.
- Dit is die NG Kerj wat help sorg het dat die land nie voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in vlamme opgaan nie.
- Dit is die NG Kerk wat, al was dit met ’n gesukkel en nie amptelik nie in 1997 tog voor die WVK getuig het.
- Dit is die NG Kerk wat aan die begin van die nuwe millennium haar roeping in en aan Afrika bevestig het.
LEES OOK: Ontkenning leef voort onder ‘onwetend rassistiese’ lidmate binne NG Kerk, meen navorsers
En die NG Kerk van die hede? Die vraag veronderstel immers dat die dapper NG Kerk van die verlede verdwyn het. Dit is natuurlik nie waar nie. Die dapperheid van die NG Kerk is net op ’n totaal ander plek te vind. Die dapper NG Kerk word sigbaar waar predikante en lidmate in ’n chaotiese land hulle roeping ernstig neem en op gemeentevlak uitleef, waar lidmate Sondag na Sondag saamkom om die lewende Here te aanbid, te loof en te prys en om te luister na sy Woord. Die dapperheid van die NG Kerk word sigbaar waar ’n jong proponent met blink oë georden word en waar senior lidmate pannekoek bak om geld in te samel om ’n kinderhuis te ondersteun. Dit word sigbaar waar jong werkende lidmate van ’n gemeente die slaggate in die dorp of voorstad begin regmaak en ’n projek vir vroeëkinderontwikkeling op die dorp vestig. Die dapperheid van die NG Kerk word sigbaar waar elke gemeente haar roeping in hierdie wêreld op ’n unieke manier aanvaar en uitleef.
So en juis só, is die dapperheid van die NG Kerk in die wêreld van 2026 te vind in haar dienende gestalte wat nie aan die groot klok gehang word of op Facebook en Twitter uitbasuin hoef te word nie. Die NG Kerk het nie haar dapperheid verloor nie – sy is dapperder as ooit tevore.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Johan van der Merwe herinner ons tereg dat die NG Kerk se dapperheid nie verdwyn het nie, maar sigbaar is in die stil, dienende getrouheid van gemeentes. Dit is ’n belangrike perspektief – want die kerk leef nie net in haar groot oomblikke nie, maar in haar alledaagse gehoorsaamheid.
Tog raak die vraag na dapperheid uiteindelik dieper as sigbare optrede. Dit vra nie net waar ons dapper is nie, maar hoe ons onderskei wat getrouheid aan Christus in hierdie tyd beteken. Dapperheid is nie bloot aksie of diens nie; dit vloei uit ’n bepaalde houding van luister – na die Skrif, na die Gees, en na mekaar as geloofsgemeenskap.
Die uitdaging vir die NG Kerk is dus nie net om dienend teenwoordig te wees nie, maar om weer ’n ruimte van gemeenskaplike onderskeiding te word. Sonder hierdie derde dimensie kan selfs opregte diens maklik rigting verloor, of stilbly waar daar dalk gepraat moet word.
Die vraag is dus nie bloot of die NG Kerk nog dapper is nie, maar of sy besig is om op ’n dieper vlak saam te leer onderskei wat dapperheid in hierdie tyd van haar vra.