Apartheid is weg uit Suid-Afrika se wetboek, maar leef in ’n soort aardse hiernamaals (afterlife) ook binne die NG Kerk voort.
En die gebrek aan eietydse nadenke oor die aard van rassisme is een van die leidrade dat ontkenning voortleef, luidens ’n verslag wat vandeesmaand by die vergadering van die Algemene Sinode (AS) dien.
“Veral die (taakspan-)lede van kleur erken dat rassisme soms versteek kan bly vir wit mense wat hulleself as nie-rassisties of progressief sal wil beskryf,” luidens die verslag van die Taakspan Rassisme, Versoening en Geregtigheid.
LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem
“Sulke mense is dikwels onwetend rassisties omdat hulle self blind bly vir die maniere waarop hulle gevorm is deur ras.
“Dit is dikwels hierdie mense wat oor rasgrense beweeg, en selfs goeie verhoudings met mense van kleur het. Die aard van die rassisme, ook in die NG Kerk, is dus van groot belang om beter te begryp, en aan te spreek, juis vanuit die perspektief en ervaring van mense van kleur,” lui die verslag wat onder meer agt punte maak onder die hofie “Hoe ons God se roeping vir die NG Kerk verstaan”, waarvan Kerkbode vier hieronder vrylik opsom:
Volgehoue “interne werk” is nodig vir wit lidmate. “Ons het geleer dat rassisme wat met witheid gepaard gaan, ontwerp is en in stand gehou word deur wit mense, en daarom is dit nodig dat die herstel vanuit wit geledere moet kom,” meen die skrywers.
Elke generasie moet opnuut leer. “Baie jongmense is onbewus van die verlede, en sien nie die verband tussen hulle belewenisse en vorming deur ras en die historiese realiteite van ras nie,” meen die skrywers.
Praktiese hulpmiddels kan werk. “Daar is steeds groot onsekerheid by mense oor hoe om rassisme in hulle nabye verhoudings aan te spreek.”
Ekumene: Rassisme is nie ’n afgehandelde saak in ander kerke nie. “Die NG Kerk het wel ’n unieke verantwoordelikheid gegewe ons verlede,” luidens die verslag.
Dié verslag kom ná afgevaardigdes by die 2019 Algemene Sinode tien taakspanlede opdrag gegee het om onder meer “konkrete voorstelle (te) ontwikkel oor die plek van restitusie in die getuienis van gemeentes, ringe en sinodes,” luidens die agenda van die AS, wat van 15-20 Oktober in Boksburg duur. (Sien die taakspan se aanbevelings onderaan die berig).
Wat is rassisme?
’n Houding van meerwaardigheid en gevoelens van minagting. Dit is hoe die NG Kerk die afgelope 30 jaar op teoretiese vlak oor rassisme praat, sê twee teoloë in ’n verbandhoudende agtergondstudie wat fokus op die tydperk ná die NG Kerk se formele afskeid van apartheid (1986) tot die sinode van 2019.
Die laasgenoemde is ook die jaar waarin die betrokke taakspan (oorspronklik genoem Versoening en Identiteit) gevorm is waarby die twee skrywers van die akademiese artikel, dr Louis van der Riet en prof Cobus van Wyngaard, betrokke is.
LEES OOK: Hoe om oor verskille te dink
Die verslag sluit ’n hiperskakel na dié verdere navorsing oor die nalatenskap van apartheid in. Die betoog? Daar word veelseggend min gepraat oor die NG Kerk se verhouding met ras en rassisme in die afgelope drie dekades, voer Van der Riet en Van Wyngaard aan in “The other side of whiteness: The Dutch Reformed Church and the search for a theology of racial reconciliation in the afterlife of apartheid”, wat in Stellenbosch Theological Journal 2021 verskyn.
Twee dinge val die skrywers uit die staanspoor op: Die min verwysing na die strukturele dimensies van rassisme, iets wat histories wel in die kerk aangespreek is. Asook ’n huiwerigheid om rassisme op die naam te noem in kerkgeledere.
Betrokkenheid as onderhandelingstyl
Die skrywers misken nie skuiwe wat wel plaasvind nie, en vertel, in akademiese joernaalkonteks, ’n paar gelyklopende stories wat binne die kerk afspeel. Een is die groot omgee van mense oor apartheidsgrense heen. Die “dienskneggestalte” wat soveel lidmate en gemeentes en sinodestrukture in die samelewing inneem. By dié wat glo apartheid was selfgerig, kry ’n mens dus ’n diep soeke na andergerigtheid en diensbaarheid, verduidelik die skrywers. “While the opening of church membership signified the first steps in rejecting apartheid, the discourse around community involvement has become the primary way the DRC negotiates its place within South Africa.” Die skrywers lê ook klem op die breër geloofwaardigheid wat die NG Kerk se skuif na missionale teologie, met dié se klem op betrokkenheid binne die eie gemeenskap, help bou het.
Die tweede storie wat die skrywers bekyk, is dié van ’n steeds grootliks wit kerk met teoretiese “oop deure”. By diegene wat glo die volle getuienis rondom apartheid kan via aanvaarding van die Belydenis van Belhar en die eenwording met die VGK gebeur, hoor ’n mens hier die moedeloosheid wanneer dié tot die slotsom kom dat daardie opsie onbepaald uitgestel word deur hulle medegelowiges.
Nog ’n storie is die vermoede dat onderliggend tot vele van die bogenoemde stories daar sprake is van ’n ontoereikende of selfs onverantwoordelike antropologie wat binne die kerk oorleef. Die laasgenoemde gee dalk meer konteks vir ’n aanhaling van prof Piet Meiring, NG leraar wat ook by die Waarheids-en Versoeningskommissie betrokke was. “It was not that difficult, it seems, to erase apartheid from the statute books, from the official policy documents of the church – but to get it out of our hearts, was quite another matter! It may take generations to do that,” het Meiring in 2003 geskryf.
Die skrywers praat as volg oor die kwessie van ’n grondliggende mensebeskouing: “It is increasingly evident that modern conceptions of the human – including those explicitly named as Christian – have centred around the white male, and that something different from a mere expansion of the human to include female, queer or black bodies would be required.”
Trauma van dienspligjare
Die skrywers vermeld ten slotte ook ’n genesingsnood vir ’n dienspligwond (“From 1968, military conscription in the South African Defence Force was compulsory for all white males in South Africa. The racial formation and trauma incurred through these experiences have been widely studied (and addressed), though not by the DRC.”) en verwys na ’n diep wantroue jeens Swart- en Bevrydingsteologie.
Die navorsers se slotsom blyk te wees dat ’n apartheiddeuntjie steeds binne die NG Kerk draal. “… (the) DRC itself perpetuates the afterlife of apartheid. It remains a structural continuation of the very segregationist imagination that gave apartheid its name. It is also not inevitable that the DRC will commit to the ongoing and persistent dismantling of its white supremacist formation in the near future. Rather, it too remains a site of struggle,” luidens die artikel.
** Die taakspan-verslag se aanbevelings ter oorweging van die Algemene Sinode 2023 lui as volg:
Die Algemene Sinode:
5.1 oordeel dat die werk van rassisme, versoening, en geregtigheid ’n kernprioriteit van die Algemene Sinode bly, en dat werksaamhede in hierdie verband voortgesit word deur die Taakspan Rassisme, Versoening en Geregtigheid.
5.2 moedig streeksinodes aan om sinodale verteenwoordigers aan te wys.
5.3 gee opdrag aan die Taakspan Navorsing om voort te gaan met navorsing oor rassisme, versoening en geregtigheid wat die 2030-scenariobeplanning van die Algemene Sinode sal dien.
5.4 beveel aan dat materiaal vir die mobilisering van bemagtigende leiers verder ontwikkel sal word saam met die INPAS werksgroep.
5.5 ondersteun die verdere ontwikkeling van die Versoen Leergemeenskap as ’n gesinkroniseerde, ekumeniese netwerk wat die bestaande strukture van die Algemene Sinode en streeksinodes sal benut.
- Lees die volledige agenda met ander taakspanverslae hieronder. – Red.

Die opstellers van hierdie verslag is op hulle eie missie. Dit ontbreek hulle aan ‘n behoorlik gefundeerde verledebegrip, hulle aannames is ideologies gekontamineer, hulle gebruik die algemene sinodale verband aa die speelveld om hulle eie vooropgesette idees te propageer, hulle hou hulle blind vir die werklikhede van ‘n hoogs gepolariseerde samelewing waarin persepsies oor ander weens eie optrede tot werklikhede gemaak word en hulle is nie met teologie besig nie maar met sosiale aktivisme. Die wit-swart denkskema het meer met kolonialisme en evolusionisme te doen, as met die NG Kerk se historiese verstaan en vertolking van die bevolkingsituasie in die land wat meer ‘n etniese karakter gedra het. En natuurlik hang die “woke” onderrok ook uit.
Baie goeie en uitdagende stuk om te lees. Baie dankie.
God het ons almal verskillend geskape. Hy het verskillende rasse geskape en een ras/volk, nl Israel uitverkies en bevoordeel bo al die ander. Ek sal graag by die opstellers van die berig wil weet: a) Moet ons, ter wille van politieke korrektheid (wat eintlik die fondament van hulle argument is) nou probeer om God se skeppingswerke ongedaan te maak. b) Sal hulle God dalk ook as rassisties bestempel omdat Hy ons nie almal dieselfde gemaak het nie?