“Ná 1994 het ons ons aandeel aan apartheid erken, en individue het verskoning gevra, maar daar is nooit ordentlike nabetragting gedoen en gevra – hoe maak ons dinge reg nie,” meen dr Johannes Mouton (JM), ’n leraar by NG Kerk Table View in die Wes-Kaap. “Daar is nooit gevra – wat moet ons dalk prysgee nie?”. Mouton se omvattende navorsing na spesifiek die wyses waarop witheid ook die gesprek rondom missionaliteit binne die NG Kerk beïnvloed en rig, het hom in 2024 ’n PhD aan die Universiteit van Wes-Kaapland besorg.
Baie is op die spel vir die NG Kerk, glo dié navorser en predikant. “Ons gaan sukkel om ’n volledige en geloofwaardige missionale kerk in ’n Afrikakonteks te wees voordat ons nie ons geskiedenis, ons witheid en die mag en bevoorregting wat daarmee saamgaan ordentlik gekonfronteer en deurgewerk het nie.”
Kerkbode (KB) wou by hom weet watter teologiese implikasies dit vir die NG Kerk inhou om nie met selfondersoek rondom ras en mag besig te wees nie. Ons wou ook by hom voorstelle kry rondom “riglyne” vir gemeentes wat reeds op bewustelike wyse met hulle eie komplekse geskiedenisse probeer werk.
KB: Doen die NG Kerk skaduwerk? Is dit deel van ’n kerk se werk?
JM: Ek dink die NG Kerk doen tans maar baie gedeeltelik en met huiwering skaduwerk. Veral wat ons geskiedenis, ons witheid en kulturele normatiwiteit betref. Na 1994 het die kerk gesoek na nuwe maniere om aan te pas in ’n veranderende samelewing (soos deur missionale teologie), maar dit het nie saamgegaan met diepe selfondersoek nie, veral nie oor die manier waarop witheid, kultuur en taal steeds ander uitsluit en marginaliseer nie.
Skaduwerk vra dat ons in die spieël moet kyk, maar ek tel op dat daar ’n onwilligheid is om dit te doen. Veral as ons witheid en bevoorregting benoem en bevraagteken word.
Is skaduwerk deel van ’n kerk se werk? Beslis, ja. As ons werklik wil deel wees van God se missie in die wêreld, moet ons ook ons eie blindekolle erken en aanspreek. God se missie (Missio Dei) stuur ons nie net na buite nie, maar ook na binne toe. Soos David Bosch ons al in 1991 herinner het – die Missio Dei reinig ook die kerk. Sonder sulke skaduwerk gaan dit uiteindelik meer oor selfbehoud, oor die beskerming van die status quo en dit is ’n verskraling van die evangelie. Ware bekering begin immers by selfondersoek – en dít is skaduwerk.
In kort: Ek dink die NG Kerk wend soms pogings aan, maar die skaduwerk wat werklik diep sny is nog nie sistematies of konsekwent deel van ons kerkwees nie. Juis daarom sukkel ons so om uit ons wit raamwerk te breek, selfs al is daar pogings tot transformasie.
KB: In jou PhD skryf jy dat die NG Kerk steeds kortpaaie neem wanneer dit kom by sy eie verlede én die voorrang wat tot vandag – wetend of onwetend – aan witheid verleen word. Hoe vermy ’n mens daai kortpaaie en doen ’n mens die nodige werk?
JM: Dit begin eerstens deur bewus te word van ons witheid, die bevoorregting wat dit bring en die bepalende invloed wat dit elke dag steeds in ons lewe het. Tog is bewuswording alleen nie genoeg nie. Ons moet dit erken ook en dit konfronteer, eerder as om met kleinserigheid te reageer, dit te verdedig of in enklawes te wil terugtrek. Deur dit nie te konfronteer en nie daaroor te praat nie, bevestig ons net die status quo.
Tweedens moet ons soek na maniere om ons bevoorregting op positiewe maniere aan te wend en te deel. Die neiging is mos om dit eerder te beskerm. Dit kan wees om finansies en besittings te deel, maar ook om ons kennis, ervaring en dies meer te deel. Hoe wend gemeentes byvoorbeeld hulle geboue en ander middele aan?
By die Algemene Sinode se moderamenvergadering vroeër vanjaar is daar met dankbaarheid kennis geneem van die kerk se finansies en beleggings (Ten spyte van die globale ekonomiese onsekerhede het die waarde van die beleggingsportefeulje van R111 922 440 toegeneem tot R121 782 644, het Kerkbode in Februarie vanjaar berig).
Daar is genoem dat ons dit (hierdie bevoorregting?) verantwoordelik en in lyn met ons missionale roeping moet aanwend, maar ek het niks gehoor oor restitusie nie. Veral as ons in ag neem dat baie van die beleggings dateer uit die apartheidstyd. Dit is deel van ons probleem. Na 1994 het ons ons aandeel aan apartheid erken, en individue het verskoning gevra, maar daar is nooit ordentlike nabetragting gedoen en gevra – hoe maak ons dinge reg nie. Daar is nooit gevra – wat moet ons dalk prysgee nie. Op ’n sistemiese vlak gaan ons grootliks nog aan soos altyd. En ek vermoed dat missionale teologie ingebring is, vanuit ’n konteks wat beduidend verskil van ons SA konteks, as ’n manier om vorentoe te beweeg na apartheid. Ongelukkig is dit gedoen sonder om regtig die geskiedenis en voortgaande effek van apartheid, ons wit habitus en die teologiese kritiek van ons verlede te bevraagteken en te verreken. Trouens, ek wonder of ons nie nog steeds, soos in die apartheidstyd, besig is om die belange van ’n spesifieke gemeenskap te beskerm en te dien nie, weliswaar in ’n ander vorm.
Ek dink vir ons (wit mense) is daar eintlik net drie maniere om ons witheid te hervorm. Ons moet vriende raak met mense van kleur. Nie net “vriende” wat saamwerk aan projekte nie, maar vriende wat in mekaar se huise kom en saam kuier. Ons moet in ruimtes kom waar ons in die minderheid is en nie in beheer is nie. En ons moet in situasies kom waar mense van kleur ons meerdere is. Maw, situasies waar ons na hulle luister en vir hulle gaan raad en hulp vra. Ek reken ’n mens sou hierdie drie maniere op die kerk as instituut ook kon toepas.

KB: In die lig van die wyse waarop witheid in die NG Kerk gekoester word, watter riglyne sou jy vir jouself as dominee neerlê indien jy, byvoorbeeld, gevra sou word om ’n mylpaal van een of ander aard by ’n gemeente te vier? Gestel Gemeente X word 100 jaar oud … Wat sê ’n mens of wat sê ’n mens nie?
JM: Vier die verlede, sonder om nostalgies te wees daaroor. Erken en vier die positiewe, maar wees ook eerlik oor die foute en die uitdagings. Niks is mos net goed of net sleg nie. Vra ook wat ons kan leer uit die verlede, sodat ons aan die een kant nie dieselfde foute sal maak nie, en aan die ander kant op ’n nuwe manier vorentoe kan gaan.
In die lig van missionale teologie, sou dit ook ’n goeie tyd wees om te vra – hoe lyk ons “footprint” in ons gemeenskap? Watter rol het ons gespeel en speel ons tans? Wie word by ons ingesluit en wie word uitgesluit?
Is ons ’n gemeente wat grense oorgesteek het – as jy dit nie kan vier nie, is daar ’n probleem. As jy vier dat jy die status quo gehandhaaf het, dan is dit gevaarlik.
Kan ons vier dat ons countercultural was/is? Om ’n alternatiewe gemeenskap (countercultural) te wees, is immers een van die hoekstene van missionale teologie. Kon ons breek met ons apartheidsverlede of hunker ons terug na die goeie ou dae? Ons moet hopelik kan vier dat ons nou anders lyk as 50 jaar gelede.

KB: Jou navorsing kyk na die feit dat leiers en lidmate in die NG Kerk dikwels steeds verkies om slegs oor kleur te praat as die kleur nie wit is nie. Het jy dalk voorbeelde hiervan?
JM: Hierdie gedagte kritiseer dat witheid nie uitgewys of ondersoek word nie, terwyl ras wel uitgewys word wanneer daar na mense verwys word wat nie wit is nie. So, ras is net ter sprake wanneer daar gepraat word oor mense wat nie wit is nie. Dit is ’n baie selektiewe gebruik van ras-taal waardeur witheid as die norm bevestig word. Dit is ’n subtiele vorm van uitsluiting waardeur die sistemiese status quo binne kerkstrukture en diskoerse beskerm word. ’n Paar voorbeelde:
Gemeentes noem hulleself multikultureel of inklusief wanneer daar ’n paar mense van kleur inskakel, maar die dominante kultuur van die gemeente (gebruike, leierskap, liturgie, taal) bly steeds “wit” en word nie ondersoek, uitgedaag of verander nie. So, witheid word nie ondersoek nie, terwyl die ander kleure uitgewys word. Ras is slegs ter sprake wanneer die insluiting van mense van kleur ter sprake is, nie wanneer wit norme ter sprake is nie.
- Wit mense sê graag “ek sien nie kleur nie”, “ons is almal net mense”, of “ons is almal mos kinders van God”. Tog word ras baie vining uitgelig wanneer ’n nuwe lid, of leier, of kind wat gedoop word nie wit is nie. So, witheid kruip weg agter neutrale standpunte, terwyl ander uitgewys word.
- Afname in getalle in NG gemeentes word graag toegeskryf aan veranderende demografie, of teologiese verskille ens. Maar nie dikwels aan pogings om witheid in stand te hou of die onvermoë om postief te reageer op diversiteit nie. Maw witheid word nie geproblematiseer nie.
- Konsepte soos transformasie en versoening gaan net oor die insluiting van ander in die wit ruimte. Die gesprek gaan selde oor die verandering van die wit ruimte.
- En dan natuurlik die groot moeilikheidmaker en uitsluiter (gatekeeper) – taal. Of ons dit nou wil erken of nie – Afrikaans word “beskerm” in ons kerk, terwyl ander tale nie oorweeg word nie. Ras word slegs genoem wanneer iemand die kwessie van uitsluiting op grond van taal uitwys en aanspreek. Hoe dikwels het ons nie al gehoor nie – daar is mos ander kerke waarheen die mense kan gaan.
KB: Jy werk ook met James Cone (2004) se redes vir witmense se onwilligheid om aan witheid aandag te gee, waaronder die feit dat daar diepgesetelde skuldgevoelens is en ’n onwilligheid om swart woede te duld. Hoe het jou navorsing oor dié onderwerp jou eie bediening verander of beïnvloed? Wat is nou moeiliker of makliker vir jou om in ’n erediens te sê of doen?
JM: Ek het baie meer bewus geword van my witheid en hoe dit my lewe en die lewe van die mense rondom my beïnvloed. ’n Mens kan nie deur so ’n intensiewe navorsingsproses gaan sonder om bewus te wees van die mag van witheid nie. Ek wil glo (hoop) dat ek nou met meer bewustheid en verantwoordelikheid lewe.
Wat my bediening betref, miskien twee goed:
Ek het onlangs die voorreg gehad om met mense te praat oor Afrikaners en witheid. Dit was ’n diverse gehoor waar wit mense in die minderheid was. ’n Heeltemal ander dinamika dus. Dit was vir my ’n ongelooflik positiewe ervaring, wat my weer laat besef het waarop ons kerk uitmis en hoe ongeloofwaardig ons is omdat ons steeds so monokultureel is. So, dit raak vir my toenemend ongemaklik om predikant in ’n hoofsaaklik wit kerk te wees.
Aan die ander kant dring dit my ook om meer intensioneel geleenthede te soek en te skep om in ons gemeente grense oor te steek. Ons het byvoorbeeld twee Xhosa-sprekende gemeentes wat ons geboue met ons deel en met wie ons goeie verhoudings het. En ons het ons pinksterbyeenkomste saam met Isibindi verander in multikulturele byeenkomste waar ons moeite doen om sprekers vanuit die VGK te kry. Ons het nodig om te luister na mense wat anders lyk as ons en die Isibindi jongmense wat hoofsaaklik bruin en swart is, het nodig om ’n slag te luister na mense wat soos hulle lyk.

Wat die eredienste betref: Afrikaans is ongelukkig een van die grootste redes waarom ons monokultureel bly. Ek was onlangs weer hiervan bewus tydens ’n roudiens. Die persoon wat die oorledene aan die einde versorg het, was ’n Xhosa-vrou van die Oos-Kaap. Sy was in die diens, maar ek het eers na die tyd besef sy verstaan nie Afrikaans nie. So het ons haar dus uitgesluit. Daarom, al is dit vir sommige mense moeilik, is ons nie meer bang om Engels te praat wanneer dit nodig is nie. Ek voel as daar een mens in die erediens is wat nie Afrikaans verstaan nie, moet ons by daardie persoon aanpas, nie andersom nie. Ek praat ook nou meer oor ons verantwoordelikheid as bevoorregte mense, dat ons nie slagoffers is nie, dat ons moet moeite doen met verhoudings met ons landgenote wat anders is en lyk as ons.
KB: Watter rol speel die NG Kerk in die vorming van kulture van oorheersing?
JM: Die kerktaal en missionale praktyke reflekteer dikwels ’n wit wêreld. Dit word as normaal en universeel voorgehou op maniere wat ander marginaliseer en uitsluit tensy hulle by ons aanpas.
Ons hou dit in stand deur voorkeur te gee aan wit stemme, leiers en kulturele raamwerke. Dit is hoekom ons so nodig het om met die VGK te herenig.
Omdat ons nie ons aandeel aan apartheid ten volle gekonfronteer het nie, en omdat ons nie ons huidige rasgebaseerde strukture konfronteer nie, hou ons aan om dit te vorm en in stand te hou. Die sisteme en strukture word in stand gehou omdat ons niks daaraan doen nie. Dit is ook hoekom ons sukkel om weg te kom van wit en Afrikaans – dit is sistemies vasgelê.
Die taal wat ons praat, ons vergaderings, strukture, eredienste, liturgieë, liedere, alles weerspieël en beskerm ’n wit wêreld. Ander stemme word slegs toegelaat as hulle soos ons is. As hulle byvoorbeeld mooi en goed Afrikaans praat.
Baie van die diskoers in ons kerk getuig van nostalgie oor die verlede toe ons kulturele mag gehad het. Dit is ’n subtiele manier om verandering teen te werk en sistemiese status quo te beskerm.
Dan speel die behoud van geld, beleggings en ander bevoorregting wat dikwels nog uit die apartheidstyd dateer natuurlik ook ’n rol. Ons wil nie sommer enige hiervan prysgee nie.
Dus: Dit kom maar neer op ’n onwilligheid om diepgaande selfondersoek te doen en vooroordele en praktyke te konfronteer. As ons dit nie begin doen nie, dan gaan ons aanhou om, dalk onbedoeld, ’n kultuur van oorheersing in stand te hou.
KB: Witheid neig om sigself as die standaard, die middelkol te aanvaar en op te tree vanuit ’n verstaan dat dit dinge moet reël en rig. Hoeveel van daardie beskouing leef binne die missionale teologie wat gewild is onder soveel NG gemeentes en wat op maatskaplike vlak groot verligting in die samelewing bring?
JM: Eerstens moet ons natuurlik onderskei tussen “charity” en “community”. Charity is wanneer ons nood verlig sonder om regtig by mense betrokke te raak. Soos ’n sopkombuis. Jy gee sop, sonder om eers die mense se name te ken. Community is om nood aan te spreek en mense regtig te leer ken en by hulle lewe betrokke te raak. Community is moeilik, ten spyte van ’n sterk missionale gerigtheid. Veral as die mens by wie jy betrokke moet raak swart is, ’n ander taal praat en in ’n township woon.
Tweedens is die vraag nie of gemeentes verligting in die samelewing bring nie. Baie gemeentes doen dit en dit moet as ’n positiewe uitvloeisel van missionale teologie gevier word. Die belangriker vraag is egter hoe dit gedoen word. Ons moet altyd versigtig wees om dit nie vanuit ’n meerderwaardige (white saviour) posisie te doen nie. Ons moet oppas dat dit nie “patronising” oorkom nie. Ons (wit mense) het baie meer mag as wat ons besef. Ons moet bedag wees daarop.
Derdens gebeur dit maklik en onwetend dat die maatskaplike werk gedoen word vanuit ’n wit raamwerk, leierskapstyl en teologiese taal. Maw die wit gemeente bepaal die agenda, definieer wat noodverligting is en behou beheer oor bronne en besluitneming. Op hierdie manier word ongelykheid, sowel as wit dominansie, eintlik versterk. Selfs in missionale ruimtes.

Teologie is veronderstel om die kennis van God te wees. Die kennis bron is God se Selfopenbaring naamlik die Bybel. Hierteenoor is hierdie sg doktorale proefskrif myns insiens eerder ‘n Marxistiese post moderne verkenning van ‘n politiese landskap. Miskien moes die skrywer eerder ‘n goeie politiese boek soos Moeletsi Mbeki se “Architects of Poverty” gaan lees het. Na 28 jaar in die Nuwe Suid Afrika lê die probleme voor die regerende party se deur. Die sentrale tema van die Bybel is dat vergifnis moontlik is – die term witheid sny apriori enige moontlikheid daarvan af. Skuldig ad infinitum – dit klink soos Marxistiese heroine.
Ek vra weereens: hoe lank gaan die NG Kerk nog moet jammer wees? Vir altyd? Lyk my ons moet nou jammer sê vir ons sg. “witheid”? Moet ons kinders ook jammer sê? En hulle kinders?
Wit skuld is soos ‘n onuitputbare bron. Dit laat toe dat identiteitspolitiek van ander lande net so op ‘n “cookie cutter” manier toegepas word op die NG Kerk.
Die “geleerdes” hou aan om sulke onsin te publiseer en dan wonder hulle hoekom wil mense nie meer lidmate van die NG Kerk wees nie. Dis baie meer aantreklik om by ‘n ander kerk met soortgelyke teologie as die NG kerk aan te sluit wat betekenis gee vir lede sonder die wit-skuld las.
Hou so aan en kyk waar staan julle lidmaatgetalle oor 10 jaar. Dalk is daar dan oor ‘n ruk in elk geval nie meer ‘n NG kerk oor wat kan jammer wees nie.
“…maar ek het niks gehoor oor restitusie nie. Veral as ons in ag neem dat baie van die beleggings dateer uit die apartheidstyd.” – So moet die NG Kerk nou sommer bates begin weggee, en daarmee saam Naspers en ABSA ook. Wonder of die skrywer ook sy eie bates en beleggings alles sal aanwend vir restitusie.