Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die geskiedenis van die kerk maak min mense opgewonde. Voeg die geskiedenis van ’n kerkvergadering soos die Algemene Sinode daarby en die belangstelling taan verder. Waarom sou dit dus belangrik wees om in 2024 die ontstaan van die eerste Algemene Sinode op Suid-Afrikaanse bodem 200 jaar gelede te herdenk?
Miskien help die bekende teoloog Karl Barth om die vraag te beantwoord wanneer hy skryf dat ons verstaan van wie en wat die kerk is, die struktuur en regering van die kerk bepaal. ’n Mens sou die stelling natuurlik ook kon omdraai en vanuit die huidige konteks sê: “Hoe die kerk werk wys hoe ons verstaan wat die kerk is.” Maak ’n mens dit van toepassing op die eerste sinode wat op 2 November 1824 byeengekom het, gaan die gebeure oor veel meer as die historiese byeenkoms van ’n kerkvergadering. Dit wat 200 jaar gelede gebeur het word dan ’n eerste belangrike tree op pad na ’n bepaalde manier van kerkwees in Suid-Afrika, ’n manier van kerkwees, waar die struktuur van die kerk die gemeentes van die kerk tot diens behoort te wees. Anders gestel: Hoe die kerk werk moet altyd in diens van die roeping van die kerk op grondvlak wees.
LEES OOK | Uitreik: Ek het besef dat Jesus klaar dáár is
Natuurlik was die NG Kerk se kerkwees nie net ’n pad van maanskyn en rose nie. Die verbreking van hierdie eerste kerkverband deur die ontstaan van verskillende Afrikaanse kerke in die Zuid-Afrikaanse Republiek (die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika) en die Loedolff-saak van 1862 wat aanleiding gegee het tot verskillende sinodes van die NG Kerk in die Vrystaat, Natal en Transvaal, is van die groot laagtepunte terwyl die ontstaan van die Algemene Sinode in 1962 en die uitbreiding van die kerk tot 10 streeksinodes waarskynlik as van die grootste hoogtepunte uitstaan.
Tweehonderd jaar later is die groot vraag: Wat beteken hierdie geskiedenis vir die kerk in Suidelike Afrika? As ons in ag neem wat Barth gesê het, handel die gebeure van 200 jaar gelede oor veel meer as die ontstaan van ’n kerkvergadering. Wat gebeur het, herinner ons opnuut aan die roeping van die NG Kerk. Dit daag elke gemeente van die kerk uit om waarlik kerk te wees in die konteks en tyd waarin ons leef. Kry die kerk dit reg, is die herdenking van die eerste Algemene Sinode in 1824 nie ’n stuk vervelige kerkgeskiedenis nie, maar word dit ’n belangrike moment in die geskiedenis van die NG Kerk. Miskien kan dit wat 200 jaar gelede gebeur het, so ook ’n baken van hoop, herstel en genesing word in ’n land wat daarna smag.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.
Eerste nuus wat Ek hoor van n herdenking van die Algemene Sinode van 1824. Wat gaan nou gedenk word? Gaan die dolerende en vry gemaakte gemeentes ook toegelaat word om dit by te woon? Of gaan hulle uitgeskuif en die verbod op kommunikasie met hulle gehandhaaf word?
“Dit daag elke gemeente van die kerk uit om om waarlik kerk te wees in die konteks en tyd waarin ons leef”. Is konteks en tyd dan die kerk se dryfvere? Die kerk moet eerder die dryfveer agter konteks en tyd wees: Dit daag elke gemeente van die kerk uit om steeds getrou waarlik kerk te wees ten spyte van die konteks en tyd waarin ons leef.
Ek onthou nog ´n brief wat prof Johan aan Kerkbode in Oktober 2022 geskryf het, waarin hy gevra het of die AS se rakleeftyd verby is. Daarin vermeld hy ook die geskiedenis van die voorafgaande byna 200 jaar en noem hy die moontlikheid van ’n nuwe vorm van eenheid soos ek nou ook tussen die lyne van hierdie brief lees.
Die AS het die afgelope paar dekades talle besluite geneem wat die totstandkomingsooreenkoms (1962) tussen die destydse samestellende NG kerke misken, ignoreer en ondermyn. Verder eien hulle vir hulself gesag toe wat nie deel was van die oorspronklike ooreenkoms nie. Die NGK gebruik die Presbiteriaanse kerkstelsel – die moderator is dus nie soos ‘n “pous” nie. Dit werk “van onder na bo”; dus van presbiters/ouderlinge na die algemene sinode. Die Kerkraad is die regerende liggaam van ’n plaaslike gemeente. Die algemene sinode is, anders as die kerkraad, bloot tydelik van aard en is geen permanente bestuursliggaam nie.
‘n Bepaalde groep gemeentes het ‘n besluit geneem het om uit die verband met die AS te tree en weer hul regmatige gesag as plaaslike kerkraad terug te neem. Dit is volgens my in lyn met die 1824 gebeure en resoneer dus vir my met wat prof Johan skryf: “(Dit kan) ‘n eerste belangrike tree (wees) op pad na ’n bepaalde manier van kerkwees in Suid-Afrika, ’n manier van kerkwees, waar die struktuur van die kerk die gemeentes van die kerk tot diens behoort te wees. Anders gestel: Hoe die kerk werk moet altyd in diens van die roeping van die kerk op grondvlak wees.”