Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Brief | Uitreik: Ek het besef dat Jesus klaar dáár is

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


JG de Bruin van Durbanville-Moedergemeente skryf: Dit is ’n week sedert die terugkoms van ons gemeente se jaarlikse ekspedisie na Zithulele in die Oos-Kaap.

Dit het my weereens herinner hoe lief ek is vir Afrika, hoe baie ek glo in Afrika … hoe baie ek verlang na Afrika in my daaglikse lewe.

Sedert die ouderdom van 16 het ek myself al elke jaar bevind op hierdie uitstappie (uitsluitend die Covid-jare), elke jaar met ’n ander doel. Die 16-jarige ek het gegaan met die hoop om mense van Jesus te vertel, maar het vinnig besef dat Jesus klaar daar is. Hy was nog altyd daar, selfs voor die kerk daar was. Dit was nie moeilik om hom daar te vind nie, dit was net moeilik om hom daar te herken. Durbanville-Jesus en Zithulele-Jesus is baie anders.

Toe ek klein was, toe ek elke naweek in ’n Sondagskoolklas gesit het en geleer het van Jesus, die dude wat wonderwerke kon doen, die dude wat gesterf het vir ons sondes, die dude wat opgestaan het uit die dood, het dit ’n prentjie in my kop geteken van wie God is. Hierdie is die Jesus van wie ek mense wou vertel. Jesus die redder! Ek wonder of dit is wie Jesus eintlik wou wees. Zithulele het vir my ’n ander Jesus gewys. Hierdie Jesus het my nie gered nie, hy het my bevry. Hierdie Jesus het nie vir my gepreek nie. Hierdie Jesus was altyd stil. Hierdie Jesus het nie vir my bekering gevra nie. Hierdie Jesus het vir my gedagtes gevra. Hierdie Jesus het nie my aanbidding benodig of gesoek nie. Hierdie Jesus het gesmag na my vrede. Hierdie Jesus het my nie probeer verbeter nie. Hierdie Jesus het my kom herinner dat ek goed is.

Dit was hier, in so ’n m**rtoe dorpie, waar toilette nie spoel nie, dat ek weereens besef het dat Durbanville-Jesus partykeer die pot mis sit. Durbanville-Jesus steek homself weg in my Bybel op my bedkassie. Durbanville-Jesus wag vir my in die kerk. Ek sien hom net op ’n Sondagoggend. My enigste ervaring van Durbanville-Jesus is ’n dude op ’n preekstoel of ’n dude met ’n praise en worship-liedjie. Hy is gewoonlik iemand wat vir my sê “hou op rook” of “wat soek jy in ’n bar?”. Die meeste van die tyd is Jesus net ’n skuldgevoel. Durbanville-Jesus is so ’n bietjie rassisties and baie homofobies. Hemel is vir dié wat die regte dinge glo en hel is maar vir die res van ons. Die meeste van die tyd is ek bang vir Jesus.

Ek verkies Tatamkhulu Jesus. Hy het daar in ’n kerkie gedans met twee krukke, een been, en ’n gees asof hy sopas die dood oorwin het. Hy het my geleer hoe om ’n draad te span. Hy het my geleer dat gasvryheid eintlik vir die vreemdeling bedoel is. Hy het my kom leer dat sementsakke baie swaar is. Hy het my kom leer dat my menslikheid my grootste skat is. Hy het my kom leer hoe om ’n wiel om te ruil. Hy het my kom leer dat ek genoeg is. Hy het my kom leer dat hy nie is wie ek nog altyd gedink het hy is nie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.