Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mag die ‘Noordewind van God se Gees’ steeds in die NG Kerk waai

Herlewing is deel van die DNS van die NG Kerk. Die een herlewing wat sekerlik die grooste invloed op die NG Kerk uitgeoefen het, het in 1861 in die Paarl onder leiding van ds GWA van der Lingen plaasgevind. Sowat 165 jaar later word daar bykans in al die gemeentes van die NG Kerk regoor die land steeds pinksterdienste gehou in navolging van dit wat in die Paarl gebeur het. Johan van der Merwe vertel meer. 

 

Die aanloop tot die gebeure was ’n “verstarde godsdienstigheid” en “’n lusteloosheid in kerklike bedrywighede” by baie lidmate. Om hierdie toestand te probeer beredder verskyn daar in 1859 ’n skriftelike oproep deur ’n aantal predikante aan die lidmate van die kerk getiteld: “Opwekking tot het gebed om de uitstorting van den Heiligen Geest over Zuid-Afrika” wat daartoe lei dat die uitdrukking: “Bid om die uitstorting van die Heilige Gees” vinnig ’n refrein in die NG Kerk word. Montagu was die eerste dorp waar ’n geestelike herlewing plaasgevind het met Beaufort-Wes, Graaff-Reinet, Tulbagh en sover as Bloemfontein wat sou volg. Dit het gelei tot beter bywoning van eredienste en bidure, maar veral ’n voorneme om meer volgens die wil van God te leef. In die Paarl het egter niks gebeur nie.

Die afwesigheid van die kragtige werking van die Heilige Gees in dié gemeente het daartoe gelei dat gebedsgroepies vanaf Hemelvaart op 9 Mei 1861 tot met Pinkstersondag, 19 Mei byeengekom het om te bid om geestelike herlewing. Die bidure was “intens en op meer as een aand vol emosie en aandoening!” Op Pinkstersondag het Van der Lingen uit Lukas 24:49 gepreek. Na die diens het hy alleen in die kerkgebou agtergebly en daar volgens oorlewering ’n visioen gesien wat later deur Van der Lingen self as ’n openbaring van die Here beskryf is.

Die gemeente is so deur die gebeure aangegryp dat bywoning van eredienste soos nooit tevore toegeneem het, godsdienstige gesprekke aan die orde van die dag was, daar ’n oplewing in huisgodsdiens was en lidmate hulle godsdiens begin uitleef het. Die gemeente het gevolglik besluit om die gebruik jaarliks te herhaal. Die nuus van die herlewing het vinnig versprei en gou het dit gebruik geword in al die gemeentes van die NG Kerk. In die woorde van prof PB van der Watt: “Met die Pinksterbidure is iets nuuts die kerklike lewe ingedra, maar tog nie iets vreemds nie!”

Die betekenis van pinksterdienste is in 1986 opnuut deur die Algemene Sinode  bevestig toe die versugting uitgespreek is dat die “noordewind” van God se Gees weer deur gemeentes moes waai.“Maak groot erns met Pinkster sodat daar teruggekeer kan word tot die Here in die ernstige en moeilike tye waarin ons lewe,” lui die notule. Miskien is dit nou meer as ooit tevore nodig.


Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top