Die vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke in Chiang Mai, Thailand is ’n geleentheid om terug te loop op die spore van dié ekumeniese liggaam in Suid-Afrika.
Dit is veral die voorloper van die Wêreldgemeenskap, die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, wat diep spore in die geskiedenis van Suid-Afrika en veral die familie van NG kerke, getrap het. Blaai ’n mens terug deur die geskiedenis, kan jy nie anders as om stil te staan by die gebeure wat in Augustus 1982 in Ottawa, Kanada afgespeel het nie. Dit is tydens hierdie vergadering van die Wêreldbond, waar apartheid as teologiese kettery verklaar is en ’n status confessionis afgekondig is. Die gevolge hiervan was om twee redes belangrik:
Jonker oor Ottawa
Die eerste rede, wat die NG Kerk direk geraak het, was die feit dat die NG Kerk, wat apartheid teologies ondersteun het, geskors is. Verteenwoordigers van die NG Kerk moes die vergadering verlaat. Die reaksie op die gebeure is ’n aanduiding dat hierdie besluit van die Wêreldbond die eerste tree was wat die NG Kerk in ’n nuwe rigting sou stuur. Dr Pierre Rossouw, een van die afgevaardigdes, het opgemerk: “Ottawa is nie die einde nie, maar ’n nuwe begin.” Prof Willie Jonker se reaksie was: “Vir ons is dit egter nou belangrik om onsself van elke vorm van rassisme te distansieer, nie omdat Ottawa dit vra nie, maar omdat rassisme eenvoudig sonde is”. Hierdie gebeure het aanleiding gegee tot die besluit van die Algemene Sinode in Oktober 1982 om Ras, volk en nasie grondig te hersien. In 1986 is ’n nuwe beleidsdokument, Kerk en samelewing goegekeur en het die NG Kerk daarmee weggedraai van die teologiese ondersteuning van apartheid.
Belydenis van Belhar
’n Tweede belangrike rede was die gebeure in die NG Sendingkerk (NGSK) in Oktober 1982. Tydens die sinode van dié kerk is ’n nuwe konsepbelydenisskrif aanvaar. Hierdie konsepbelydenis, wat bekend sou word as die Belydenis van Belhar, het in 1986 ’n volwaardige belydenisskrif van die NGSK geword. Die Belydenis van Belhar, met sy fokus op eenheid, geregtigheid en versoening, het nie net die NG Kerk nie, maar kerke regoor die wêreld gekonfronteer met hulle roeping ten opsigte van die sosiale werklikheid. Na bykans veertig jaar, het die stem van Belhar nie stil geword nie, maar weerklink dit nou harder as ooit vantevore nie net in Suid-Afrika nie, maar reg oor die wêreld!
Hierdie gebeure wys hoe diep die Wêreldbond se spore in die geskiedenis van die NG Kerk lê. Meer nog, miskien het die Wêreldbond, deur die NG Kerk en die NGSK gehelp om ook die geskiedenis van Suid-Afrika te herskryf.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.
