Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan van der Merwe | Nicea 1700 – Hoor die liturgiese noodkreet

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


2025 is die jaar van die Belydenis van Nicea. Reg oor die wêreld en ook in Suid-Afrika vind teologiese kongresse en byeenkomste plaas om die totstandkoming van die belydenis te vier. Met reg ook!

Die belydenis is nie net 1 700 jaar oud nadat dit volgens oorlewering by die Konsilie van Nicea in 325 nC aanvaar is nie, dit is ook die enigste werklike ekumeniese belydenis in die Christendom omdat dit deur die Katolieke Kerk, die Grieks-Ortodokse kerk, die Anglikaanse kerk en die Protestantse kerke as gesagvol aanvaar word.

LEES OOK: Brief | Ons identiteit is eerste in Christus, nie die NG Kerk nie

Die ontstaansgekiedenis van die belydenis is egter nie so eenvoudig nie. Die eerste ekumeniese konsilie het van 20 Mei tot 25 Julie in 325 nC in die stad Nicea byeengekom en dit is tydens dié vergadering dat die eerste weergawe van die geloofsbelydenis op 19 Junie 325 met groot vreugde aanvaar is. 56 jaar later is dit egter tydens die Konsilie van Kostantinopel in 381 nC uitgebrei na aanleiding van die dwaling van Arius. Arius was van mening dat Jesus geskape is en daarom aan God ondergeskik was en dat Hy daarom nie die Seun van God kon wees nie, maar bloot ’n uitsonderlik goeie mens was. Hierdie teologiese stryd in die kerk sou voortduur tot met die Konsilie van Chalsedon in 451 nC toe bevestig is dat Jesus Christus ware mens én ware God is. In 1014 nC het Pous Benediktus VIII die belydenis verder uitgebrei deur by te voeg dat die Heilige Gees nie net van die Vader nie, maar ook van die Seun uitgaan. Hierdie formulering was die oorsaak van die groot kerkskeuring in 1054.

Met reg kan ’n mens vra hoe hierdie ou dokument met sy moeilike wordingsgeskiedenis die kerk in 2025 raak? Die eenvoudige antwoord is om gewoon te sê dat dit een van die amptelike belydenisskrifte van die kerk is. Wat dit beteken is natuurlik ’n ope vraag in gemeentes waarin daar van die geloofsbelydenisse tydens eredienste weinig oorgebly het. Saam met die Twaalf Artikels is die Belydenis van Nicea en die Belydenis van Athanasius na die kantlyn gerangeer. Vir hierdie belangrike geloofsformules wat lidmate gehelp het om dit wat hulle glo te verwoord het min plek oorgebly.

Miskien is dit waarin die waarde van die herdenking van Nicea vir die NG Kerk lê. Miskien moet die kerk in die nadenke oor die Belydenis van Nicea ’n liturgiese laat noodkreet hoor. Dalk is dit nodig om hierdie ou liturgiese formules weer ’n slag af te stof en om iewers tussen die lofprysing en aanbidding, prediking en getuienisse en wat nog alles, weer in eredienste op ’n nuwe en innoverende wyse ruimte daarvoor te skep. Dan is 1 700 jaar gelede nie so lank terug nie, maar kry dit waarde in 2025.

 

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.