Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Johan van der Merwe | Kerkwees 200: Is dit regtig iets om te vier?

Die eerste sinode van die NG Kerk het op 2 November 1824 – 200 jaar gelede – in Kaapstad byeengekom. Hierdie geleentheid word vanjaar op 3 November met twee feesdienste, een in Kaapstad en een in Pretoria herdenk. Op 2 November vind ’n konferensie oor die gebeure by die kerkargief in Stellenbosch plaas terwyl ’n internasionale konferensie van 5 tot 6 November in Pretoria gehou word. ’n Mondvol om ’n sinodesitting te herdenk! Met reg vra iemand onlangs: “Is dit nou regtig nodig?” En vervolg dan: “Daar is tog seker belangriker sake waarmee die NG Kerk haarself kan besig hou!”

Die antwoord op hierdie vraag is onomwonde ja! Die kerk het nodig om die eerste vergadering van kerkverband op Suid-Afrikaanse bodem te vier. In ’n tyd waarin die onderlinge verband van die kerk onder beleg is, het die kerk en lidmate van die kerk nodig om die waarde van die verband opnuut te ontdek. Daarom is die subtema van die konferensies: Verlede, hede en toekoms!

Lees ook: Vrystaat Sinode: Nabetragting van ’n afgevaardigde: ‘Kompromie skep ruimte terwyl ons verder leer,’ sê leraar oor Vrystaat se versoek rondom verbintenisse by afgelope sinodesitting

Die eerste sinode 200 jaar gelede is gebore uit die behoefte vir samewerking tussen die onderskeie gemeentes aan die Kaap en later ook die Transgariep. Nadat die NG Kerk in 1862 deur die Loedolffsaak verdeel is, het die gemeentes byna onmiddellik in 1863, 1864 en 1865 oorgegaan om die sinodes van die Vrystaat, Natal en Transvaal te stig. In 1907 het die Raad van Kerke as gevolg van die behoefte aan groter samewerking tussen die onderskeie sinodes ontstaan. Dit was die eerste tree wat tot hereniging gelei het met die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962. Sedertdien was die Algemene Sinode die sigbare vergestalting van eenheid in die NG Kerk. (Sien ook onder ’n video hieroor deur Kaapkerk)

Die herbesoek van hierdie deel van die geskiedenis daag die NG Kerk 200 jaar later uit tot nuwe gesprekke oor die waarde van kerkverband in die gereformeerde tradisie en hoe dit op die Afrikabodem neerslag vind. Dit moet die kerk help om nuut te dink oor kerkverband in ’n tyd waarin die gees van individualisme hoogty vier en dreig om die verband te vernietig. Dit moet ook help om na te dink oor moontlike nuwe vorme van verbandvorming binne die sinodaal presbiteriale stelsel van kerkwees wat nie net die NG Kerk kerk nie, maar ook ander kerke en die samelewing tot diens kan wees.

Is dit moontlik? Vir seker! Dink byvoorbeeld net aan die impak wat die gemeentes van die NG Kerk kan maak in terme van onderwys en die stryd teen armoede as gemeentes van die kerk op verskillende dorpe en stede in verskillende provinsies beter in een verband sou begin saamwerk om hier aan die suidpunt van Afrika ’n verskil te maak. Dit sal die 200-jarige herdenking van ’n kerkvergadering vir seker die moeite werd maak!

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top