Herlewing vind van tyd tot tyd in die geskiedenis van ’n kerk plaas. Waarskynlik was die Reformasie die eerste groot herlewing in die geskiedenis van die kerk. In die NG Kerk het die eerste herlewing na die pinkstergebeure in die Paarl in die 1860’s plaasgevind. Min is egter nog geskryf oor ’n volgende groot herlewing in die geskiedenis van die NG Kerk wat vanjaar 50 jaar gelede plaasgevind het. Dit was die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974.
Hierdie gebeure was die gevolg van ’n besluit van die Algemene Sinode van 1970 dat 1974 ’n evangelisasiejaar sou wees. Ds Mike Smuts sr skryf soos volg oor die begin van die veldtog: “Op 10 Januarie 1974 het sowat 60 jongmense, vyf spanleiers en ’n koorleier op Achterbergkampterrein buite Krugersdorp vir drie weke se opleiding saamgetrek. Dit was die begin van elf maande waarin hierdie groep betrokke sou wees by ’n jeug- en evangelisasieprogram wat ’n groot impak op duisende mense en die NG Kerk as geheel sou hê”. Deur die loop van 1974 is 10 sentra in die land besoek waar kursusse aangebied is en massasaamtrekke gehou is. Na raming is 180 saamtrekke deur die loop van die jaar gehou wat deur 250 000 jongmense bygewoon is. 23 000 jongmense het na raming die kursusse voltooi.
LEES OOK: ‘Dit was die Here se jaar’ – Prof Malan Nel vertel van die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974
Die invloed van die Jeug-tot-Jeugaksie op die NG Kerk was enorm. Duisende jongmense het opnuut opgewonde geraak oor hulle geloof in Jesus Christus en oor die belang van evangelisasie. Daar was ’n toestroming van jongmense na die teologiese fakulteite van die kerk en ’n nuwe lojaliteit teenoor die NG Kerk het ontstaan. Met reg skryf Smuts: “Die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974 was dus ’n besondere moment in die geskiedenis van die NG Kerk waarvoor God al die dank en eer toekom.”
LEES OOK: Boek waarin Dana Snyman die spoor van die waarheid vat, sny diep
Vyftig jaar later is die vraag of hierdie gebeure nog enige betekenis het? Die doemprofete sou onmiddellik negatief wou antwoord met ’n duidelike “nee”, want dit was deel van die “goue era” van die NG Kerk wat vir altyd verby is. Kyk ’n mens egter na die leierskapspotensiaal, infrastruktuur en intellektuele kapasiteit van die NG Kerk is die doemprofete dalk verkeerd.
Miskien is dit deel van die missionale roeping van die NG Kerk om die gebeure van 1974 na vyftig jaar weer te besoek, om daar energie en visie te vind om iets soortgelyks nie net in die NG Kerk nie, maar saam met ekumeniese vennote vir Suid-Afrika te begin. Dalk wag die volgende groot herlewing dan net om die draai en wie weet, watter verskil dit aan die jeug van Suid-Afrika kan maak?
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.
Luister ook na ’n podsending: HIER