Al wat hulle wou doen is om jongmense te inspireer vir Jesus.
“Dit is genoem die evangelisasiejaar van die kerk. Die leuse was ‘Lewe vir Christus en vir sy kerk’.” So onthou prof Malan Nel op 85 nog helder die gebeure rondom hierdie projek wat die Elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) beskryf as “een van die merkwaardigste uitreike van die NG Kerk in die 20ste eeu na die jeug”.
Die aksie het, volgens eCKe, “by baie jongmense tot nuwe entoesiasme vir die kerk gelei en groot getalle het hulle ná 1974 aangemeld vir teologiese studie”.
’n Onbedoelde uitkoms, sê hierdie buitengewone professor in praktiese teologie van die Universiteit van Pretoria. “Dit was nie deel van my en oom Mike (Smuts) se bedoeling nie. Ons het bedoel om jongmense te inspireer oor die saak van Jesus,” vertel hy vir Kerkbode.
