Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boek waarin Dana Snyman die spoor van die waarheid vat, sny diep

Seun deur Dana Snyman

Tafelberg, 2024

Resensent: Laurie Gaum

Dana Snyman het sy pad al geruime tyd gelede gevind tot in die hart van die volk. Hy kry dit reg om algemene vrese en ervarings so raak te verwoord dat hy self al bekommerd was dat dit lesers kan laat vasval in nostalgie eerder as wat dit hulle in die spieël laat kyk. Maar Dana skryf fyn genoeg dat hy jou as ’t ware in die web van jou eie emosies vasvang en dan met ’n diep waarheid konfronteer.

Wanneer Dana (verskoon maar die familiariteit; hy’s tog volksbesit) in Seun die spoor van die waarheid vat, is dit soos altyd ingebed in sy ervaring. Dis die pynlike evarings van sy grootwordjare in ’n predikantshuis wat hy onder die vergrootglas bring, van ’n pa wat by die AWB aansluit, selfs op die ou end op Ventersdorp in Eugène Terre’Blanche se skaduwee gaan bly. Maar sentraal in hierdie verhaal staan Dana se Weermag-ervaring, dit wat van hom ’n man moes maak volgens die ou bedeling se terme. Dinge draai dus om hierdie manwees en die verwagtinge wat daaraan gekoppel is.

As jy jou as ’n buitestander in Apartheid-Suid-Afrika belewe, voorspel dit niks goeds nie. Dana se sensitiewe waarnemingsvermoë maak van hom dít: “Die een wat in ’n boom sit, alleen, en kyk wat die ander doen” (bl 65). Oënskynlike random waarnemings word gelaag om grein te gee aan die vertelling. Só word die dreunende Putco-busse deur Pretoria simbool van die alomteenwoordigheid van die swart ervaring, al is dit dan uitgeskuif na die rand van die wit bewussyn.

Dana beland in stryd met ’n soort konvensionele manlikheid. Hy máák dit nie tydens die basiese Weermag-opleiding nie omdat hy ’n korporaal teengaan. Dit laat hom in die psigiatriese saal van 1 Militêre Hospitaal op Voortrekkerhoogte beland. Daar tref hy diegene aan wat “bossies” geraak het van die aksie wat hulle op die grens gesien het, sowel as diegene wat onder dr Aubrey Levin se aversieterapie van hulle gay-wees genees moes word. Hy word self geklassifiseer, want wat maak ’n mens tog met iemand wat sulke diep vrae vra?

Ek het in Seun van die mees roerende beskrywings nóg vanuit ’n oorwegend-heteroseksuele ervaring van die vloeibaarheid van seksualiteit gevind. Dit is onder andere dít wat Tim du Plessis hierdie ’n “dapper memoir” laat noem. Dana bly sekuur na aan die senuwee sny, gee woorde aan moeilike emosies, en skrik nie vir suggestie en oper eindes nie. Soos in sy rubrieke bly hy by eenvoud en vertrou in die krag van blote vertelling.

Syne is ’n alledaagse storie wat diep resoneer, onder meer in Charl-Johan Lingenfelder se merkwaardige fliek Kanarie en Anelia Heese se boek Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so?. “Soveel van wat ek eens geglo het oor God, die Kerk, die Nasionale Party, my Christelik-nasionale opvoeding en die army kan ek nie meer glo nie” (bl 207). Dana gee die vrese en woede van hierdie tydsgewrig weer. Hy herbesoek sy “onverwerkte herinneringe” (bl 225). Só kom sy geboorte tot voltooiing.

Hy herinner ons dat baie meer van ons ons dalk buite die voorgeskrewe verwagtinge bevind en dat dit dus ’n gedeelde ervaring vir baie mense is. Meer wil ek nie sê nie: Lees dit in Dana se taal.

Laurie Gaum werk saam met Genderworks.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top