Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dit is vanjaar 50 jaar sedert die NG Kerk se Jeug-tot-jeugaksie van 1974 wat landwyd deur duisende jongmense bygewoon was en baie oortuig het om vir predikant te leer. Foto's: Verskaf

Kyk: ‘Dit was die Here se jaar’ – Prof Malan Nel vertel van die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974


1974. Die NG Kerk het dit genoem die evangelisasiejaar van die kerk. Dit was die jaar van die Jeug-tot-Jeugaksie.

Meer as 350 000 jongmense het hulle saamtrekke bygewoon. As deel van die evangeliese jeuguitreik is sowat 32 000 jongmense opgelei om met hulle portuurgroep oor die evangelie en geloofsake te praat.

Die aksie het, volgens Elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE), “by baie jongmense tot nuwe entoesiasme vir die kerk gelei en groot getalle het hulle ná 1974 aangemeld vir teologiese studie”.*  “’n Onbedoelde uitkoms,” sê prof Malan Nel, wat saam met ds Mike Smuts en ander die kerklike inisiatief gelei het. “Dit was nie deel van my en oom Mike se bedoeling nie. Ons het bedoel om jongmense te inspireer oor die saak van Jesus,” vertel hy in ’n podsendinggesprek vir Kerkbode.

Die buitengewone professor in Praktiese Teologie van die Universiteit van Pretoria het onlangs saam met so 18 van die oorspronklike Jeug-tot-Jeugaksie se leierskapgroep in die Vrystaat reünie gehou om die 50ste herdenking te vier van hierdie inisiatief wat die bedieningsfilosofie wou vestig dat jongmense toegerus moet word om met jongmense te werk. “Daar was by ons almal groot waardering om deel te kon wees van iets so unieks in die NG Kerk se geskiedenis. Al weet ons daar is in daai aksie ook baie foute gemaak, wie sal dit nou ontken? Maar jy kon nie deel wees daarvan en gesien het wat het gebeur … dit was die Here se jaar en ons was bevoorreg om daarvan te kon deel wees,” vertel hy.

Die Jeug-tot-jeugaksie het ’n span van 64 jongmense gehad vanuit al 11 sinodes uit drie lande (Zimbabwe, toe Suid-Rhodesië, was ingesluit as NG Kerk van Midde-Afrika). Hulle het twee op ’n keer aan gespreksgetuienisse deelgeneem en as groep gesing by saamtrekke.

“Die leuse was ‘Lewe vir Christus en vir sy kerk’,” so onthou Nel op 85 helder die gebeure rondom hierdie projek wat die eCKE beskryf as “een van die merkwaardigste uitreike van die NG Kerk in die 20ste eeu na die jeug”.

*Vyftig jaar later is meeste van die groep wat na hierdie uitreik predikante geword het (dié wat steeds in die bediening staan) naby aftrede. Onder volg ’n geredigeerde uittreksel van ons gesprek.

Awie van Wyk was die koorleier.
Die saamtrek op Loftus Versfeld-stadium in Pretoria.
Prof. Malan Nel het onlangs saam met so 18 van die oorspronklike Jeug-tot-Jeugaksie se leierskapgroep by Pro Regno in die Vrystaat reünie gehou.

KB: Wat het ds Mike Smuts destyds vir jou gesê wat jou oortuig het om saam met hom hierdie projek aan te pak?

MN: Oom Mike het dit altyd ’n soort van ’n droom genoem. Sy vrou, Margie Smuts, het ook later ’n boek laat verskyn, Die saak is van God. Hulle twee het lankal gedroom of daar nie ’n groot jeugaksie moet wees in die land nie. In 1972/73 het hy met my gepraat daaroor en gesê dis sy droom om so iets te organiseer. As hy dit regkry en as hy goedkeuring kry, sou ek gewillig wees om saam met hom die leiding te neem? Hy was ons senior leier en ek het onmiddellik gesê ja, want dit lê my na aan die hart om iets te doen wat op daai stadium verbeeldingryk was – om jongmense toe te rus sodat hulle in hulle eie portuurgroep die evangelie mag deel met ander mense.

KB: Dit is wat vir my uitstaan. Die naam is jeug tot jeug. Die fokus was dat jongmense praat met jongmense. Julle het 32 000 jongmense opgelei. Waarin het julle hulle opgelei?

MN: Ons het ’n … die span self was 64 jongmense wat uit al 11 sinodes van die NG Kerk saamgestel is. Twee was van Suid-Rhodesië wat vandag Zimbabwe is en toe die sinode van Midde-Afrika was. Die bekende Henry Murray was van daai sinode in die span. Daai 64 jongmense is opgelei in drie vakke. Die een was doodgewoon ‘Hoe doen ’n mens Bybelstudie?’ Ons het dit genoem Bybelstudiemetodiek. Die ander was Dienswerkmetodiek – hoe organiseer ’n mens dienswerk in jou plaaslike gemeente. Die kerk het toe nog sterk aksies gehad, senior kerkjeugaksie en junior kerkjeugaksie.

KB: KJA

MN: Daai klomp jongmense was die aansluitingspunt vir die opleiding. Dan het ons ook ’n vak gehad wat gebruik is in die twee weke se opleiding wat ons in elke stad gehad het, naamlik persoonlike werk wat ons vandag sou noem: hoe deel jy jou geloof met ander? So ons het vir hulle in die drie vakke opgelei …

KB: Is dit dan uitgewerk na die verskillende KJA’s in die verskillende gemeentes? Hoe het dit gewerk?

MN: Inderdaad. Ons het geen sinode besoek sonder dat ons nie uitgenooi was nie. Die sinodes het ons uitgenooi. Ons was in al 11 sinodes. Ons was ’n hele twee weke lank in die destydse Salisbury (vandag Harare). In Namibië en ons eie land natuurlik. Ons was in al die groot stede. Ek dink ek het getel 10 en daar het ons vir twee weke lank die opleiding gedoen. Met ander woorde die jongmense het jongmense opgelei. En in die span van die sinodes was ’n hele aantal tieners. Die bekende professor Piet Naudé was ’n lid van daai span en hy het pas uit matriek gekom. Hulle het gewoonlik met die tieners die opleiding gedoen en die ouer jongmense met die belydende kerkjeugaksie soos ons dit toe genoem het.

Die laaste week van die drie weke wat ons in ’n stad was, was daar dan saamtrekke gewoonlik in ’n stadion. In Oos-Londen was dit in die groot saal gewees. In Port Elizabeth in die ou Wolsaal as ek reg onthou. In die ander stede was dit op pawiljoene, in rugbystadions gewoonlik. Ons was byvoorbeeld in Goodwoodstadion. Daar was elke aand tussen 12 en 15 000 mense vir ’n hele week lank. Op Loftus was daar met die afsluiting tussen 15 en 20 000 mense wat by die afsluiting van die week se reeks dienste was.

By daai dienste het een van ons gepreek. Minstens twee van daai groep het ons met ’n gespreksgetuienis laat optree, met ander woorde ons het nie hulle hulle storie laat vertel nie, ons het vir hulle vrae gevra oor hulle eie lewe en hulle eie verstaan van geloof en hulle eie geloofslewe en sommer uitdagende vrae vir die jeug van vandag …

Ek kan nie onthou hoeveel honderde skole ons besoek het nie. Ek dink dit was oor die 300. By daardie skole het die jongmense dan ook kans gekry om aan hierdie gespreksgetuienis deel te neem. Daarna het die skole verdaag en op daai speelgronde het hierdie jongmense met tieners in groepies staan en gesels. Dit is van die mooiste beelde in my eie lewe wat ek onthou om iewers te staan saam met ’n skoolhoof en te sien hoe ’n hele skool iewers in ’n gesprek betrokke is …

KB: Ek dink jy het vir my gesê daar was ’n baie mooi storie wat vir jou uitstaan uit daai tyd van ’n meisie wat vir jou gese het die gesprekke op skool het verander?

MN: Ja, weet jy sy is so bekend. Haar pa is al oorlede maar hy is so ’n nasionale figuur dat ek nou nie die naam gaan noem nie. Maar dit is ’n hoërskool hier iewers naby aan Pretoria. Die radio … die wonderlike was dat die land so ingekoop het in die aksie in. Die radio … gereeld was een van ons in radiogesprekke betrokke. Hulle het met hierdie tiener, waarskynlik vanweë haar persoonlikheid – ek het haar later ook as student geken toe ek studenteleraar geword het … het op ’n dag gesê ‘ons het ’n nuwe tema op ons hoërskool se speelgronde, ons praat oor Jesus’. En dit was regtigwaar landwyd so. Die verhale sal net die ewigheid kan vertel wat in mense se lewe gebeur het …

KB: Ons hoor tog … daar is heelwat predikante wat nou uittree, wat sê dit is waar hulle hulle roeping gekry het? Dit was by die Jeug-tot-Jeugaksie?

MN: Ja, ek kan nie glo as ek dink hoe grys ek is dat daai klomp pragtige jongmense vir wie ek toe later kon help klasgee dat hulle al aftree nie. Maar ek onthou ’n dag, as ek dit mag vertel, wat prof Nelus Niemandt – wat nou rektor is van Hugenote Kollege op Wellington – my by ’n groot predikantekonferensie (in 2005), waar ons amper 1 300 predikante van die NG Kerk in Bloemfontein bymekaar was … ek het een van die lesings gelei en toe Nelis my die dag bekend stel, toe sê hy nou ook iets van die jeugaksie wat ek by betrokke was en hy sê ‘hoeveel van ons wat vandag hier sit het ons roeping tydens die jeugaksie’ … en ek kan nou nie sê die helfte het opgestaan nie, maar dit was baie naby aan die helfte van daai saal.

En ons het nooit … dit was nie deel van my en oom Mike se bedoeling nie. Ons het bedoel om vir jongmense te inspireer oor die saak van Jesus. Ons het nooit mense opgeroep om te kies vir die beroep nie. Dit was absoluut een van hierdie unieke byprodukte wat niemand kon voorsien nie. Baie van hulle het nooit beroepe gekry nie, want daar is toe op daai stadium ’n oorskot maar vir baie lank was hierdie klomp mense saam met natuurlik die ander klomp wat hulle roepings op hulle eie maniere gekry het – wie stel nou ooit aan God se vermoë perke waar Hy en wie Hy moet roep? – was hulle die mense wat die NG Kerk gedra het. En ons het nou skielik ’n tekort omdat ’n klomp van daardie kosbare predikante nou op aftree-ouderdom is.

KB: Het dit verander hoe die kerk dink oor jongmense se bediening en hoe die kerk uitreik na jongmense?

MN: Ek dink so. Daar was ’n groot Jeug-tot-Jeugaksiefonds … na die tyd was daar baie geld oor en dit is aan die sinodes pro rata verdeel om met hulle jeug-tot-jeugaksies voort te gaan en baie sinodes het dit gedoen. Dit is in my geheue dat die Wes-Kaapse sinode se aksie van Diensjaar vir Christus soort vanuit daai aksie uit ontwikkel het. Ek het later in my lewe redelik baie gehelp met die opleiding van daai jongmense in Diensjaar vir Christus. So elke sinode kon op sy eie manier voortgaan, want dit was nooit die bedoeling om ’n patroon of ’n model te vestig en te sê so moet dit nou gebeur nie maar om die bedieningsfilosofie te vestig van ‘asseblief, rus jongmense toe om self ander jongmense te bereik. Dit is die enigste weg vorentoe dat ons inderdaad van jeug tot jeug mekaar inspireer om by die saak van Jesus betrokke te bly.

Later in ons gesprek noem hy ook dat daar kritiek was …

MN: Baie mense het baie kritiek gehad op dit wat ons nou daai tyd genoem het persoonlike werk, want dit was mos nou nie … dit kon mos nie aanhou nie. Ons is vanaand daar en môre is ons weg. Maar die bedoeling van die plaaslik opgeleide jongmense was om aan te vat. En elke een se adres is deurgegee aan plaaslike gemeentes. Ek kan nie instaan daarvoor as dit nie voortgegaan het nie, maar ons bedoeling was dat ons mekaar inspireer vir die saak van die koninkryk en dan gee ons terug aan ’n plaaslike gemeente wat in sy eie konteks met sy eie pragtige klomp tieners en naskoolse jongmense die saak aarde toe moet bring. Vandag sou ons dit genoem het die kontekstualisering van die koms van die koninkryk in elke plaaslike gemeente.

  • 1974 was ook ’n verkiesingsjaar soos 2024 met die verskil dat net wit mense kon stem. Die Nasionale Party het die meeste stemme gehad. Dit was ook die jaar wat Anneline Kriel gekroon is as Mej Wêreld.
  • Die berig is opdateer na plasing.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.