Die eerste demokratiese verkiesing in die geskiedenis van Suid-Afrika wat op 27 April 1994 plaasgevind het, was ’n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die land. Miljoene mense het op dié dag in lang rye gestaan om vir die eerste keer in hulle lewe ’n kruisie op ’n stembrief te trek. ’n Gees van optimisme het in die land geheers. Tereg het aartsbiskop Desmond Tutu kort daarna van die reënboognasie begin praat en toe die Springbokrugbyspan boonop in 1995 die Wêreldbeker wen, en die nuwe kleurvolle vlag oral wapper, was Suid-Afrika in die oë van baie Suid-Afrikaners reg vir ’n blink nuwe toekoms!
LEES OOK: Armoede skep uitdagings vir NG Kerk in Namibië se San-bediening: ‘Ons leer om saam te stap’
Die kerk, en met name die NG Kerk, was nie uitgesluit van die toekoms nie. Tydens die Algemene Sinode van 1994 het president Nelson Mandela die kerk uitgedaag om deel te wees van die heropbou van die land deur betrokke te wees by die stryd teen armoede en ongelykheid, maar om veral ook ’n agent van versoening tussen die verskillende groepe mense van die land te wees.
Dertig jaar het sedertdien verloop. Vir baie mense in Suid-Afrika het die glans van die reënboog verdof of selfs heeltemal verdwyn. Daarom word die 2024-verkiesing as ’n volgende groot waterskeiding in die geskiedenis van Suid-Afrika beskou. Die groot vraag is: Watter rol gaan die NG Kerk ná die verkiesing van 29 Mei 2024 speel?
Luister saam | Lizelle de Bruin oor hoekom hoop belangrik is met groen stories
Die geskiedenis van die NG Kerk vertel ’n verhaal van ’n kerk wat nog altyd ten spyte van groot uitdagings ’n positiewe bydrae tot die samelewing gemaak het. Een van die beste voorbeelde is die heropbou wat na die tweede Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 plaasgevind het. Die noordelike deel van die land is verwoes deur die verskroeideaardebeleid van die Britse regering. Duisende lidmate van die NG Kerk het tydens die oorlog gesterf en baie van dié wat oorleef het, het alles verloor. Tog lees ’n mens merkwaardige verhale van opstaan en vasberadenheid soos dié in die godsdiensverlsag van die NG Gemeente Carolina in April 1903: “Hoe gansch anders ziet alles er tans uit vergeleken met Nachtmaal in vroegere jaren. In plaats van osse wagens en tenten, veerwagens en kapkarren ziet men thans een aardige mengelmoes van karretjies zonder tenten, verschillend van fatzoen en grootte en deur de eigenaars zelven samengesteld. Velen kom te paard op na de kerk en sommigen te voet.”
Miskien sal die president dit nie weer sê nie en sal dit nêrens aan die groot klok gehang word nie, maar die NG Kerk het ’n onmisbare rol te speel in die toekoms van Suid-Afrika na 29 Mei 2024. Dit is ’n nuwe uitdaging aan die kerk wat nie van die hand gewys mag word nie. Mag die kerk lidmate help om soos vroeër opnuut “karretjies” te bou.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.