Namibië is ’n land van groot afstande waar Afrika naby aan jou vel voel. Dit is ook ’n land van groot kontraste. So word Kerkbode se storietoer in Mei ’n geleentheid om te sien en hoor hoe lyk kerkwees te midde van enorme verskille in opvoeding, inkomste en leefstyl.
Hy het nie in God geglo daardie dag toe hy en drie San-veldgidse met hulle lywe ’n skerm om ’n wildvreemde Australiese vrou gemaak het teen ’n bosbrand nie. Maar daardie dag en wat daarna gebeur het, het hom oor God laat dink en nou jare later is hy ’n ouderling in een van die NG Kerk in Namibië se vier NG gemeentes onder die San-mense in die noordooste van Namibië.
So het Gert Kaesje onlangs vir Kerkbode vertel, sag in Afrikaans, waar ons in sy tuisgemaakte grashut sit. Bo ons koppe het T-hemde en ander klere gehang oor ’n toutjie. Buite het ons kinders hoor speel en mense wat saggies in klapklanke gesels.

Agter hom was pakke meel sigbaar. Daar is ’n droogte want die somerreëns het nie gekom nie. Ons het later gehoor die regering deel meel uit want die mense kon nie mielies en ander groente plant nie.
Ons het Gert ontmoet op die laaste dag van Kerkbode se storietoer van 10 dae deur hierdie land van groot afstande waar Afrika naby aan jou vel voel. Ons missie was primêr om te beleef hoe ’n nuwerige baan van teologiese opleiding in die praktyk uitspeel. Soos elders in Kerkbode uitgelig, word die NG Kerk in Namibië as “pioniers beskou vir die opleiding van leraars vir die sogenaamde Boesman-gemeentes”.
Lees meer: Namibië: ‘n Besoek aan dié ‘pioniers’ van teologiese opleiding
Van die begin af het ons egter ook bewus geword dat die erge armoede van hierdie gemeentes uitdagings skep. Vir baie gesinne is ’n oupa of ouma met ouderdomspensioen al vaste inkomste. Vir baie kinders is die middagete wat hulle by ’n staatskool kry al kos vir die dag. So word hierdie storietoer ook ’n geleentheid om te sien en hoor van wat die kerk hier leer oor om een liggaam wees te midde van enorme verskille in opvoeding, inkomste en leefstyl.

Dr De Wet Strauss, prinsipaal van die Namibia Evangelical Theological Seminary (NETS) het Kerkbode genooi om met mense te kom gesels soos “oom dominee Freddie Faul” van NG Gemeente Mariental en daarna, soos raak omskryf deur Le Roux Schoeman, in “’n gehuurde Fortuner uit Windhoek noordwaarts na Grootfontein te ry en van daar ooswaarts om te gesels met mense soos Andries Gous van Degnos (Diens en Getuienis Noordooste Streek) en N!aici Komtsa van Aasvoëlnes wyksgemeente* naby (in Namibiese terme) die dorpie Tsumkwe”.
Gert is ouderling in laasgenoemde gemeente. Hy en sy gemeenteleraar doen ook soos NG gemeentes elders dinge soos huisbesoek, maar hier geskied dit te voet deur dik sand, soms kilometers ver.
Mense hier is arm. Gous meen die San-mense is die mees verarmde van al die verskillende kultuurgroepe in die land.

Buite Gert se grashut is ’n oop vuurtjie met ’n paar potte rondom. Hier is nie elektrisiteit waar hy saam met sy gesin en nog ’n paar families bly op wat as “village” aangedui word op ’n houtbordjie bo nog ’n houtbordjie waarop staan “Nhoma Safari Camp” nie. Dié toeristeoord beloof op hulle webblad ’n ervaring van die “Boesman-kultuur” as toeriste-aantreklikheid en was dus die rede hoekom Gert en nog veldgidse daardie dag saam met die Australiese toeris in die veld was. Sy wou graag sien hoe hierdie eertydse jagterversamelaars hulle veldkos herken en jag met pyl en boog.
Meeste van die mense wat ons sien bly in sinkplaathuisies of huisies gebou van modder en houtpale. Daar is ook baksteengeboue – sommige is skole, huiswinkeltjies of kerke en ander staan leeg – ’n nalatenskap van die weermagbasisse wat die Suid-Afrikaanse weermag hier gehad het.


Ons sien kinders wat met plakkies, stukkende skoene of kaalvoet kilometers skool toe loop waar baie hulle enigste bord kos vir die dag sal kry. By een skool hoor ons hulle staatsvoorsiende voorraad kos het opgeraak, toe stuur hulle die kinders vroeg huis toe om in die veld kos te soek.
Op Grootfontein kook standplaasleraar Poppie Haramses elke Saterdagoggend ’n groot pot pasta oor ’n oop vuur wat sy en haar Bybelstudievriendin, Martie Smit later uitdeel vir honger kinders. Martie het vertel sy het besluit om Poppie met hierdie projek te help na hulle een oggend gesien het hoe klein kinders huil buite ’n skool terwyl hulle kyk hoe die leerders kos kry.

Gous vertel hulle beleef dat min San-kinders skoolopvoeding deursien verby graad 4. ’n Komplekse aantal redes sluit in dat die kinders geboelie voel omdat hulle arm is en uit ’n minderheidskultuurgroep is. Twee van die laaste NG sendelinge hier, ds Herman Oosthuizen en sy vrou Elna, het die probleem begin aanspreek deur skooltjies vir vroeëkinderontwikkeling (VKO) te begin. Degnos ondersteun vandag 16 sulke sentrums. Lucia Shikunda is een van die onderwysers van hulle opgelei het en nou ondersteun op Omataku. Sy is ’n enkelma en hierdie werk stel haar in staat om na haar en haar seuntjie te kan kyk.
So ook het die eerste vrouestandplaasleraar, Regina Nauses, so ’n skooltjie begin vir die kinders op die plaas buite Grootfontein waar sy en haar man Jan bly. Haar wens vertel sy is om die evangelie te bring aan al die mense op die plase in haar omgewing. Sy wens ook dat daar makliker vervoer na die naaste staatskool toe was, die staatskole is almal meer as 80km weg van hulle af.


Om VKO-skooltjies soos Regina s’n te ondersteun meen Gous bied van die beste maniere hoe om die mense hier te help. Soos hy dit stel, “ons wil hulle help om hulle plek te kan volstaan in die samelewing”.
Soos ons rondry wys en vertel hy van ander projekte wat Degnos asook ander kerke en NRO’s begin het – landbouprojekte, groentetuine en klein winkeltjies. Die meeste het na ’n tyd platgeval. Gous lys ’n velerlei van redes hiervoor soos donateurs wat onttrek, want hulle sien nie genoegsame verandering nie, die bekwaamheidsoordrag wat nie voldoende is nie, ensovoorts.
Na byna twee dekades se betrokkenheid hier via Degnos verwoord hierdie oud-sakeman en logistiekebestuurder die lesse wat hulle geleer het so: “Daar is geen maklike antwoord op hierdie komplekse mensprobleme nie. Ek dink ons het wel geleer dat mense nie vanuit hulleself projekte bedryf nie. Daarom probeer ons vandag om te help waar iemand alreeds uit hulleself iets probeer doen, en dan versterk ons dit waarmee hulle alreeds besig is, eerder as om te dink dat ons iets van nuuts af kan laat gebeur”.
“Ons het geleer om nie ons Westerse planne op mense te kom afdruk nie. Ons het geleer om nie haastig te wees nie, verandering vat tyd en vra net dat iemand saamstap, oor generasies saam stap.”
*Aasvoëlnes is ’n wyksgemeente van die NG Kerk Tsumkwe, en die NG Kerk Tsumkwe het altesaam 45 habitatte of klein ‘villages’ soortgelyk aan Aasvoëlnes hier naby die grens met Botswana wat die blyplek is vir die meeste van die San-mense.