Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die opgedateerde ampsbeskouing binne die NG Kerk beteken dat lidmate wat “geroep word tot die bediening” meer opsies het as tradisionele predikantopleiding. En dié "pioniers" in Namibië het al beleef hoe dit kerkwees kan verander.

Namibië: ’n Besoek aan dié ‘pioniers’ van teologiese opleiding


N!aici Komtsa dra bril en is geklee in kleurvolle Crocs, kniebroek, langmou blokkieshemp bo-oor ’n T-hemp. Ons gesprek vind plaas op lae stoele iewers – as jy nou goed uit-Zoom – tussen Etosha en Botswana. Langs ’n as-vuurtjie en teenaan ’n groentetuin kompleet met koejawelboom en radyse. “Hierdie kool(koppe) haal ek nou uit en sit by plekke waar daar nie plante is nie,” verduidelik die skraal prediker van NG wyksgemeente Aasvoëlnes* oor sy planne vir die groentetuin in die sanderige grond ’n ent buite Grootfontein.

N!aici Komtsa in sy groentetuin. Foto’s: Le Roux Schoeman

Hierdie deel van die NG Kerk in Namibië word deur kerklui in beheer van teologiese opleiding uitgesonder vir die “pionerswerk” wat in dié deel van die sogenaamde Boesmanland gedoen word om pasgemaakte teologiese opleiding by die bediening te integreer in ’n konteks waar basiese geletterdheid nie altyd nie, maar wel soms, ’n wesentlike hindernis is.

Andries Gous verduidelik dit so: “Wanneer jy met mense wat uit ’n orale kultuur kom, werk, dan vertel jy stories, soos Jesus.”

Gous werk by Degnos (Diens en Getuienis Noordooste Streek) wat teologiese opleiding doen met ’n leerplan wat kyk na kennis, karakter en bedieningsvaardighede. Opleiding van plaaslike gemeenteleiers is vir Gous, met sy vervoerekonomiese agtergrond, tweeledig. Kultureel: Die perke wat sy eie “Westerse bril” meebring. En prakties: Afgeleë gemeenskappe sê al jare vir hom: “Ons wil nie meer net sing en bid nie, ons wil die Woord van die Here hoor,” vertel Gous.

Andries Gous

 

Gaping word kleiner tussen dominee en ‘kudde’

Die NG Kerk Namibië is een van tien samestellende kerke, oftewel, streeksinodes van die NG Kerk, wat in 1652 in die Kaap gevestig is.

In koeranttaal is die “storie” van Komtsa en ander soos hy enersyds basies ’n storie van sending wat wasdom bereik het en hoe kerklui nou van die meer kerkburokratiese en interpersoonlike aspekte probeer hondhaaraf maak: Hoe verwelkomend is die NG Kerk werklik teenoor hierdie Boesman-dominees op sinodale vlak? En hoe leerbaar is die NG Kerk en sy leraars en lidmate ten opsigte van wat dié gemeentes na kerk en kansel bring?

LEES OOK: Ds Poppie van Grootfontein

Maar andersyds is dit ’n breër storie. Sedert 2019 het die NG Kerk “standplaasleraars” tot die bediening begin toevoeg as deel van ’n beduidende “verbreding in die ampbeskouing goedgekeur en ook gereglementeer in die Kerkorde,” luidens ’n verslag oor teologiese opleiding wat in 2023 by die vergadering van die NG Kerk se Algemene Sinode gedien het.

’n Opgedateerde ampbeskouing vir die NG Kerk beteken dat lidmate wat “geroep word tot die bediening” meer opsies het as tradisionele predikantopleiding. Hulle kan opgelei word as bedienaars, diensleraars en dan nou standplaasleraars. En daar is vir elkeen van hierdie “bane van opleiding” toepaslike ampsbevoegdhede in die Kerkorde beskryf.

“Standplaasleraars word gelegitimeer na hulle opleiding en kan beroep word na gemeentes wat bedien in die kontekste waarvoor hulle opgelei kan word. Die Sinode van Namibië het in hierdie verband pionierswerk gedoen met hulle opleiding van leraars vir die sogenamde Boesmangemeentes van die Sinode,” luidens dié verslag.

Regina Nauses van NG Gemeente Wildevy.
Lorentia “Poppie” Haramses van NG Gemeente Wildevy.
Saterdagoggend-sopkombuis by ds Poppie.
Ds Poppie se woonbuurt op Grootfontein het volop kuierplekke en sjebeens.

Sinodegangers in 2023 is egter ook gemaan: “Daar sal gewaak moet word dat daar nie teruggekeer word na ’n bedeling waar leraars uit hierdie kontekste as minderwaardig geag word en nie volledig opgeneem word in die strukture van die kerk nie. Dit sal die missionale ekklesiologie weerspreek.”

Wat die verslag aanroer – en wat in die Boesmanland uitspeel – is dat die teologiese gaping tussen lidmate en predikante “betekenisvol verklein”.

 

Missionale ekklesiologie

’n Ondersoek na die ratwerk van teologiese opleiding onder inheemse minderheidsgroepe in die noordooste van Namibië was dus Kerkbode se doelwit met die onlangse besoek aan die Suid-Afrikaanse buurland, energiek vergesel deur dr De Wet Strauss, prinsipaal van NETS (Namibia Evangelical Theological Seminary) in Windhoek, een van die geakkrediteerde opleidingsinstellings van die NG Kerk.

Dr De Wet Strauss (regs) van NETS het Kerkbode vergesel.

“Standplaasleraars (is) ’n belangrike skakel in die verskillende bedieningsmoontlikhede in die kerk,” het hy aan Kerkbode verduidelik. “En wat uniek is, is dit is ’n persoon wat in ’n baie spesifieke konteks in ’n gemeente reeds dien, en dan deur teologiese ontwikkeling gaan, en opleiding tot op die punt waar dié persoon funksioneer as leraar, vir sy konteks, in daardie gemeente. Strauss het ons aan Freddie Faul gaan voorstel by NG Gemeente Mariental, suid van die Namibiese hoofstad. Faul het laat in sy lewe besluit om teologie te studeer, maar het hom uiteindelik as standplaasleraar gevestig. Faul word vanjaar 85.

Minder lidmate, minder poste

Die doel van standplaasleraars is kennelik nie net om ’n vinger in die dyk te steek wat die kwaai afname in leraarsposte binne ’n krimpende NG Kerk betref nie – hoewel dit ’n onteenseglike rol speel. Die kuratoriumverslag wat in Oktober deur sinodegangers bestudeer is, stel dit so: “Hierdie baan van opleiding gee aan die kerk die vermoë om opleiding te gee aan lidmate wat voorheen van opleiding uitgesluit was. Die demografiese werklikhede van Suider-Afrika het hierdie innovasie genoodsaak sodat nuwe geloofsgemeenskappe in hierdie kontekste nie ten opsigte van hulle bediening onbepaald afhanklik sou bly van die ‘moeder’ of sendende kerk nie.”

Koorsang was ’n groot deel van die Sondagdiens wat Kerkbode onder die leiding van die Degnos-netwerk meegemaak het.

Die knap tolk Mishe Mathias moes behoorlik bontstaan om Kerkbode te help onderhoude voer met veral van die ouer lidmate by dié Sondagdiens.
Met die tolk Mishe se hulp vertel Gunja Parata iets van sy storie aan Kerkbode tydens ’n kort video-onderhoud.

Daar word vir ’n geruime tyd in die NG Kerk oor “missionaliteit” gepraat. In die Algemene Sinode van 2023 kom die woord missionaal 13 keer in die agenda voor en die sinne oor die begrip verwys dikwels na paradigmaskuiwe en klink gewoonlik so iets: “Die kerk van die toekoms is nie meer net die mense wat Sondae na ’n kerkgebou toe gaan kom vir eredienste en kategese nie, maar hulle sal ontmoet moet word daar waar hulle werk en leef.”

Die missionale “take” op al die bogenoemde verwikkelinge is dus dikwels: Wat is reeds aan’t gebeur? Eerder as: Wat kan uitgedink word?

In geloofstaal: What is God up to?

 

‘Human condition’

Net voor ons aankoms in Grootfontein het ons vinnig by die Hoba-meteoriet stilgehou – ’n gewilde toeristehalte. Sowat 60 ton en sowat 80 000 jaar oud, lees ’n mens aanlyn oor hierdie mooi meevaller. Wat kom maak julle in Namibië, wil ’n mediavriend via WhatsApp hoor ná hy ons sosiale mediaplasings die voorafgaande paar dae sien. “We’re reporting on the human condition and the religious attitude,” waag ek ietwat tong in die kies oor Kerkbode, ’n 175-jarige kerknuusblad, se gewigtige beat. Maar iets daarvan steek by my vas.

Ons besoek aan die noorde van Namibië wentel aanvanklik om ’n opleidingsentrum in die Grootfontein-woonbuurt genaamd Luiperdheuwel (met die kostelike bynaam van Perdjie), maar kry eers werklik gestalte tydens interaksies met mense in die veld of langs die grondpad. ’n Koor van San-mense in ’n groot warm saal op ’n Sondag. Hulle sing ’n oorwurm van ’n deuntjie en die teks, vertel ’n tolk ons later, is uit Prediker 3. Daar is ’n tyd vir elke saak … ’n Tyd om te huil en ’n tyd om te lag.

Zelda Nandu

Zelda Nandu (24) doen die voorsang. Ná die opvoering verdaag die koor van meestal vroue en Zelda laai ’n groot swart emmer met water op haar kop – “in ‘gedienstig’ ewewig” soos Eugène Marais se Mabalêl, en swenk tussen doringbome deur, huiswaarts om haar suster se hare te gaan regkry vir skool die volgende dag.

Khau Komtsa grou Duiwelsklou.

Dan is daar die oggend by “dominee N!aici”. Ons hurk in die stof tesame met sy vrou Khau, wat moedig maar vergeefs op Kerkbode-versoek probeer om die wortel van die Duiwelsklou-plant onder dié se kruipende stingels uit te grou. Die plant is nog te jonk, beslis die veldkenners, maar dit lewer tog ’n beeld op: Só ’n blitsbesoek is ten beste ’n versigtige opgrawing om iemand anders te probeer ontdek.


Kerkbode se ‘storietoer’ na Namibië het in Mei 2024 plaasgevind. Lees en luister elders op die webwerf meer oor die besoek.

*Aasvoëlnes is ’n wyksgemeente van die NG Kerk Tsumkwe, en die NG Kerk Tsumkwe het altesaam 45 “habitatte” of klein villages soortgelyk aan Aasvoëlnes hier naby die grens met Botswana wat die blyplek is vir meeste van die Ju/hoansi-mense (een van vyf San-volke in Namibië).

Geniet jy ons joernalistiek? Jy kan ons ondersteun deur ’n Vriend van Kerkbode te word. 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.