Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Johan van der Merwe | Nicea 325: Meer as net ’n belydenis

Wanneer ’n mens die naam Nicea hoor, dink ’n mens onwillekeurig aan die Belydenis van Nicea wat 1 700 jaar gelede tydens die eerste ekumeniese konsilie in die stad Nicea aanvaar is. Alhoewel slegs die eerste weergawe van dié belydenis aanvaar is, was die historiese betekenis van die vergadering veel groter as net die formulering van ’n belydenis.

LEES OOK | Jaco Strydom gesels met Nico Smit, die dominee, terapeut en skrywer van Brakpan

Die konsilie is deur Keiser Konstantyn byeengeroep na aanleiding van die hewige stryd wat in die kerk geheers het wat die Godheid van Christus bevraagteken het. Arius en sy aanhangers het beweer dat daar ’n tyd was toe Jesus nie bestaan het nie en dat Hy geskep is uit dit wat nie bestaan het nie. Hierdie standpunt is tydens die sinode verwerp en volgens oorlewering het die emosies so hoog geloop dat een van die biskoppe selfs vir Arius deur die gesig geklap het.

Die debat het voorlopig tot ’n einde gekom toe die vergadering opnuut bevestig het dat Jesus en die Vader beide God is soos wat dit in die Belydenis van Nicea verwoord word. Wat minder bekend is, is die feit dat die vergadering ook die Paasfeesdatum soos ons dit vandag vier, vasgestel het. Daar is besluit dat Paasfees elke jaar op die eerste Sondag na die eerste volmaan na die lente-ewening gevier moes word. Alhoewel die belangrikheid van hierdie besluite teologies en histories nie ontken kan word nie, laat die wêreldwye 1 700-jarige herdenking van dié belydenis, die fokus opnuut ook op die ekumeniese aard van die vergadering in Nicea val.

LEES OOK | Nuwe Testament: Die Bybel as getuienis van die transformerende krag van die evangelie

Reg oor die wêreld kom gelowiges uit verskillende denominasies saam om na te dink en te besin oor die belang van die gebeure in 325. Tydens feeste, eredienste en akademiese kongresse vervaag denominasionale grense waar gelowiges saam besin oor die betekenis van die belydenis en so byna ongesiens word die eenheid van die kerk waarvoor Jesus in Johannes 17 gebid het, meer en meer sigbaar.

Miskien is dit onderliggend die heel belangrikste nalatenskap van Nicea. Nicea was immers die eerste ekumeniese vergadering waar christene uit alle stande van oor die hele bekende wêreld saamgekom het. Vir Keiser Kontantyn was dit so belangrik dat hy seker gemaak het dat biskoppe, teoloë, filisowe en selfs die martelare uit die tyd voor die vergadering teenwoordig was. Hy het selfs so ver gegaan om donkies, muile, perde en kamele te verskaf waarmee mense na die vergadering kon reis. Die tragedie is natuurlik dat die teologiese stryd kort na die sinode hervat is. ’n Mens kan net hoop dat die eenheid wat in hierdie jaar beleef en gevier word, langer sal hou en konkrete gestalte sal gee aan die “een heilige algemene kerk” in ’n wêreld wat daarna smag.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top