Verbeel ek my of ervaar ’n al groter groep van my dominee-vriende deesdae ’n roeping van die Here Europa toe? Of na Kaapstad? En jy is reg, wie is ék om te oordeel. Ekself het al menigmaal gebid, Here stuur my asseblief na een of ander mooi plekkie in die berge of langs die see!
Toe Nico Smit agt jaar gelede die roepstem hoor, “wie sal Brakpan toe gaan?” het hy geantwoord: Hier is ek Here stuur my.
“Ek woon in Brakpan. En kom ek sê sommer reguit: al daardie grappies wat mense maak, is nie waar nie. Ja, hier is baie arm mense. Hulle is die strate vol. Oor kleurgrense heen. Maar die mense hier is sout van die aarde. Reguit, oop, en altyd gereed om te help as jy jou hand uitsteek. Ek gee regtig om vir die plek. Daar is iets in die water – wat jy nie in ’n laboratorium kan toets nie – maar jy voel dit in jou hart! Dit is hoekom ek gelukkig is hier. Brakpan is die enigste plek waarvan ek weet waar iemand wat regtig sukkel, elke dag, by verskillende instansies, ’n warm bord kos kan kry,” sê Nico.
Eintlik is dit doktor Nico. Hy het ’n PhD in pastoraat en ’n M in kreatiewe skryfkuns. Onder andere.
Hy is passievol oor die kerk, die nood in die gemeenskap en skryf. Sy eerste boek is in graad 11 gepubliseer. Hoeveel mense kan dít sê?
Lees meer oor een van sy boeke: Vars en hoopvolle nadenke oor die wonder van die alledaagse
Ek vra hom waar alles begin het.
“Daar was nie dramatiese oomblikke nie,” sê hy, “eerder ’n tipe stem wat aanhou roep, al probeer jy dit wegredeneer. Op ’n stadium besef jy, jy kan nie langer wegstap nie. Ek het eintlik al in graad 2 gedink, ek gaan ’n dominee word.”
Sy gemeente se naam is Dalpark Kaléo – Kaléo is die Griekse woord vir roep.
Lees ook: Preekreeks: Ons maak Naastes van Verstes
Deel van sy domineewerk, is ’n pastorale spreekkamer waar hy ’n groot deel van sy week deurbring. Die spreekkamer is ’n professionele diens wat die gemeente aan die gemeenskap bied.
“Hier is ontsaglik baie nood. Dikwels sal mense van buite die kerk kom aanklop vir hulp. Dit het al baie keer gebeur dat iemand begin uitvra oor die gemeente en dan later inskakel,” sê hy.
Tussenin skryf hy. Dikwels laat in die nag as die meeste mense slaap. Hy was al teksredakteur vir verskeie uitgewers en TV-kanale, onder andere: Bybel-Media, Tafelberg, eKerk se eUni, Lux Verbi en dan ook vertalings vir programme op e-tv en Showmax. En Nico het al ’n paar boeke geskryf. Sy nuutste manuskrip lê juis tans op die redakteur se tafel.
Hy is lief vir die kerk, maar daar is ook dinge wat hom pla: “Ons vergeet soms dit is genade wat ons dra – en dan raak ons vinnig met vingers wys. En ons as kerkmense (ek sluit myself in) is nie altyd baie akkommoderend nie. Ons oordeel iemand vinnig as hulle effe anders is, of lyk. Ons vergeet, alles wat ons het, is net genade. Net God se kruisgenade, in die taal van Jurgen Moltmann. Ek volg vir Jesus omdat Hy my eerste liefgehad het en Hy my op my slegste nie gelos het nie. Selfs toe ek myself wou los, het Hy vasgehou. Toe ek van myself wou ontsnap, het Hy gesê Hy bly. Ek is dankbaar dat ek daagliks by die put kan gaan water skep.”
Lees ook: NG Kerk gee uit medelye humanitêre hulp in Midde-Ooste
Ons gesels oor Suid-Afrika. Tussen al die onreg, armoede en korrupsie en ander dinge wat hom frustreer, is daar ook oral mooi goed wat hy raaksien. Dinge wat hom fassineer.
“Daar is ’n soort stil krag in ons land wat nie in statistieke of koerante opgesluit kan word nie,” sê hy. “Ek sien dit in die manier waarop mense kan saamstaan, selfs al verskil hulle van mekaar. Dit gee my hoop: dat as ons regtig wil, ons weer ’n gemeenskap kan wees wat mekaar ondersteun, wat lig bring in donker tye. Dit herinner my dat Suid-Afrika meer is as haar probleme. Sy is haar mense, haar veerkragtigheid, dis haar hart.”
Nico is ’n besige man. Wat doen hy vir ontspanning? Wat help hom om sy batterye te laai?
“Stilte. Min mense glo my, maar ek is ’n introvert, deur en deur. Ek dink die bediening leer jou om as ’n ekstrovert op te tree. Maar my eie spasie en stilte energeer my daagliks. Hoewel ek lief is vir mense en ure na mense kan luister, is stilte waarnatoe ek die heeltyd terugkeer.”
Hy vertel van die mense op sy geloofspad. Sy ouers en sussie, sy Afrikaanse onderwyseres, Danie Oosthuizen, die predikant wat hom destyds begelei het as student, sy spreekkamerbestuurder Frikka Reyneke, die skrywer Annelie Botes, Hester Kotze by Bybel-Media en ’n klomp ander.
“Wat is daar wat min mense van jou weet?” vra ek.
“Ek is saam met ’n klomp kenners besig om ’n natuurlike medisynereeks te ontwikkel vir geestesgesondheid.”
Hoe lyk sy toekomsdrome?
“Om eendag net te kan terugkyk en te kan sê ek het gedoen dit waarvoor die Here my geroep het. Ek beplan nie lank vooruit nie (ek is dikwels impulsief-kreatief, so beskryf iemand my wat naby aan my is), maar om eendag in die traliebed te lê of op die aftree-oord (as ek ’n aftree-oord kan bekostig) se stoep te sit en te weet ek het God se roeping uitgeleef. Al wat ons oor het eendag is herinneringe. En ek kies om die goeies te probeer onthou en die slegte herinneringe dood te leef. As my lewe korter is as die traliebed of die aftree-oord se stoep, verloor ek ook niks nie,” sê dr Nico Smit, die dominee, terapeut en skrywer van Brakpan.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
