Schalk van Heerden, verbonde aan Fontainebleau Gemeenskapskerk, help ons hierdie week in die laaste preek van die preekreeks “So ook op die aarde” met ’n ander lens om Lukas 10:25-37 te lees en te verstaan in 2025 hier aan die Suidpunt van Afrika.
Hy het gekom om “te toets” sê die teks. Die gesprek was ‘n speletjie soos talle Facebook en openbare interaksies van ons tyd: wie is die slimste, wie kan iets kompleks die kortste opsom? Jesus gooi die vraag terug en die bulletjie nail dit: Wees lief vir God met als wat jy het en jou naaste soos jouself. Jesus bevestig hy is in die kol, maar Jesus vat hom van die kop na hande en voete: “doen dit en jy sal leef”.
Dan die miljoen-Rand-vraag, wat steeds vandag ons hele lewe en kerkwees beïnvloed: “Wie is my naaste?”
Wie is my naaste? Wie was daardie tyd hulle naaste? Levitikus 19:18 praat van volksgenote, die bulletjie het seker verwag dat Jesus gaan bly by volksgenoot … Instinktief verwag ons dit ook.

Jesus kom ruk dan teologie en antropologie oop met ‘n storie, nie ‘n storie van ‘n Barmhartige mens nie, maar van ‘n Samaritaan. Samaritane was erger as honde en varke gesien. As ons besef wat die Jode met die Prins van Vrede gedoen het, hulle volksgenoot, dink net hoeveel vrees en haat daar kon wees vir ‘n varksige hond van ‘n Samaritaan. Mens meng mos nie met die goed nie; soort soek immers soort.
Die vyand, hierdie ‘verste’ se binnegoed het beweeg, hy het liefde en ontferming gevoel in sy hart en maag. Hierdie vyand, het naby gekom, gekniel, wonde verbind, iemand gekoester wie hom sou haat en spoeg. Hy het om in sy eie BMW met nuwe leer sitplekke gelaai en veilige blyplek gegee, dit het hom tyd en geld gekos.
In die geskiedenis sou die Nigeriër, hierdie taxi-bestuurder, hierdie EFF-lid, hierdie Moslem, hierdie onwettige immigrant baie bekend word as ‘Die Barmhartige’. Verstes kan naastes word.
Die slim bulletjie word toe deur Jesus gevra wie die slagoffer se naaste was? Die twee NG boere wat eerste verby gestap het en weg gekyk het dalk? Die slimmie kon dit nie oor sy lippe kry om te sê “S A M A R I T A A N” nie… hy sê toe maar: “die een wat medelye getoon het”… Jesus vat die man vir oulaas op ‘n reis van sy verstand (kop) na sy hande, voete, beursie en kalender toe: “gaan maak jy ook so”.
Ai, Here. Was dit nou nodig?
Lees HIER meer oor hierdie preekreeks
