Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
September is Erfenismaand – dit is nou as onthou word dat 24 September Erfenisdag en nie net Braaidag is nie. In ’n sekere sin is die verwording van Erfenisdag na Braaidag simbolies van wat vir baie hulle erfenis geword het. In Suid-Afrika word wit Afrikaanssprekende mense mos gereeld herinner aan apartheid – asof dit die enigste deel van ons nalatenskap in hierdie land is. Die NG Kerk ly ook daaronder en soms daaraan. Dit is die een gebeure uit die geskiedenis wat net nie vergeet mag word nie. Niemand wil ontken dat dit sleg was en in sommige gevalle selfs boos was nie, maar dit is nie die NG Kerk se enigste nalatenskap nie. Daar is baie meer as dit.
Dink vir ’n oomblik aan die sendingwerk van die NG Kerk oor meer as 300 jaar. ’n Kerkleier uit Nigerië kom sê onlangs dankie vir wat die NG Kerk daar gedoen het, en in Malawi, Zambië, Zimbabwe, Mosambiek, Angola, Kenia, Namibië en sou hou die lys aan en aan.
Dink vir ’n oomblik aan die opheffingswerk onder al die bevolkingsgroepe na die tweede Suid-Afrikaanse oorlog van 1899-1902 en die stryd teen armoede en werkloosheid.
Dink vir ’n oomblik aan wat dit die NG Kerk gekos het om in 1986 te erken dat dit ’n fout was om die politieke model van apartheid teologies te regverdig.
Dink vir ’n oomblik aan die trane wat by die Rustenburgberaad in 1990 gevloei het na die belydenis van prof Willie Jonker.
Dink vir ’n oomblik aan die vergifnis en versoening by die Algemene Sinode van 1994 wat nie sonder rede as die Sinode van Versoening onthou word nie.
Dink vir ’n oomblik aan die gebeure in Oos-Londen in November 1997 toe die NG Kerk braaf genoeg was om by die kerkedag van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) op te daag.
Dink vir ’n oomblik aan ’n kerk wat bely dat sy deur God Drie-enig geroep is om deel te neem aan die missie van God in die wêreld, dat sy deur die Heilige Gees opgebou word om God se eer te dien en om die bediening van versoening en die heil van Christus te verkondig.
Dink vir ’n oomblik aan ’n kerk wat meer as 1 miljard rand per jaar aan barmhartigheid bestee.
Dink vir ’n oomblik aan ’n kerk waar baie gemeentes steeds oases van hoop en lewe en genesing is in ’n gebreekte gekaapte Suid-Afrika.
Miskien is die lig dan veel helderder as die donker. Miskien is dit waarom die NG Kerk na 372 jaar steeds voortstry hier aan die suidpunt van Afrika. Miskien hoef ons dan nie te braai om ons erfenis te vergeet nie, maar moet ons juis die vreugdevure aansteek om te onthou!
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.