Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Johan van der Merwe: Uitdaging aan die NG Kerk: Tyd vir ’n jeuglekgotla?

Juniemaand is Jeugmaand en 16 Junie is Jeugdag. Wat beteken dit vir die NG Kerk in 2025? Met werkloosheid op 46,1%vir die ouderdomme15 tot 34 jaar (4,8 miljoen werklose jongmense) en 62,4% vir die groep 15 tot 24 jaar is dit duidelik dat Suid-Afrika op ’n spreekwoordelike tydbom sit.

’n Mens kan op een van twee maniere op hierdie statistiek reageer: soos ’n volstruis kop in die sand steek en redeneer dat dit grotendeels “nie ons mense” is nie, of dit kan as die perfekte storm gebruik word om missionale kerkwees hande en voete te gee.

Blaai jy deur die geskiedenis van die NG Kerk, staan een geleentheid uit waar die kerk dit 50 jaar gelede reggekry het om ’n verskil in die lewe van duisende jongmense te maak. Dit was tydens die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974. Die omvang en sukses van die aksie word deur die volgende syfers beskryf: 23 000 hoërskooljongmense, studente en werkende jongmense het die kursusse wat aangebied is voltooi, 310 laerskole is besoek waar 220 000 kinders met die evangelie bereik is, meer as 200 000 mense het 290 eredienste wat deur die span gereël is, bygewoon en 140 saamtrekke is gehou wat deur meer as 260 000 mense bygewoon is. Natuurlik was hierdie aksie net op Afrikaanssprekende jeug gerig, maar dit bewys dat die NG Kerk die kapasiteit gehad het en, glo ek, steeds het om so ’n aksie van stapel te stuur – nie meer alleen nie, maar saam met ander, gerig op al die jongmense van die land. Wat meer is, die Nasionale Dialoog Inisiatief wat of 15 Augustus afskop, het die deur van regeringskant vir kerke oopgemaak om te help soek na ’n oplossing vir die reuse-uitdaging wat die jeug van die land bied. Alhoewel die NG Kerk lank reeds nie meer in die bevoorregte posisie is, waarin dit in 1974 was nie, keer niks die kerk om die inisiatief te neem om saam met ander kerke en organisasies in Suid-Afrika, die bal aan die rol te sit en plan te maak nie.

Miskien is dit nou die tyd om saam met ander kerke in Suid-Afrika ’n jeuglekgotla te reël waar daar saamgebid, saamgedink en saamgewerk kan word aan ’n aksieplan wat daadwerklik ’n verskil kan maak aan die lewe van miljoene hooplose jongmense. Dink net wat kan gebeur as kerke van verskillende denominasies reg oor die land eienaarskap van so ’n plan aanvaar en met ander begin saamwerk op die dorp en in die voorstad. Die geleentheid is daar. Die NG Kerk het die leierskapasiteit. Die groot vraag is: Wil die kerk?

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top