Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan van der Merwe | 16 Desember: ’n Unieke geleentheid vir NG Kerk en SA


Die datum 16 Desember is om verskillende redes vir verskillende groepe in die land belangrik.

Dit is die dag waarop die Slag van Bloedrivier in 1838 plaasgevind het. Nadat 470 boere ’n gelofte afgelê het, het hulle ’n groot oowinning oor ’n mag van duisende Zoeloes behaal. Daarom is dié dag en datum in die annale van die Afrikanervolk en van die NG Kerk ingegraveer en het dit een van die groot boustene van Afrikanernasionalisme geword. Dié dag is terloops natuurlik ook vir ’n ander groep in die land belangrik. Dit is die dag waarop Umkonto we Sizwe, die gewapende deel van die ANC, in 1961 regeringsinstellings vir die eerste keer aangeval het. Dit was amptelik die begin van die gewapende stryd teen die Nasionale Party-regering.

LEES OOK: Resensies + Leesidees vir oud en jonk dié Kersfees

Miskien is dit waarom die dag verskillende reaksies by mense ontlok. Aan die een kant is daar ’n groep wat meen dat dit tot die geskiedenis hoort en daar moet bly. Dat van die dag vergeet moet word omdat dit ’n dag is wat onnodige polarisasie bewerkstellig. Aan die ander kant is daar ’n groep wat meen dat die dag herdenk moet word omdat dit juis getuig van God se ingrype in ’n benarde situasie in die geskiedenis van die Afrikaner. Wat ’n keuse oor die saak bemoeilik is die feit dat die dag in die geskiedenis van die NG Kerk ’n beduidende rol gespeel het. Dr DF Malan het reeds in 1911 by die Raad van Kerke voorgestel dat die fees as ’n godsdienstige fees in alle gemeentes van die NG Kerk gevier moes word. In 1952 is 16 Desember op aandrang van die Raad van Kerke as “Geloftedag” geproklameer en moes alle Suid-Afrikaners dit as ’n Sondag eerbiedig.

Die Algemene Sinode het ook verskeie besluite oor Geloftedag en Geloftefees geneem. Dit is egter die laaste besluit in 1998 wat ons help om ’n keuse vir of teen Geloftefees te maak. Die besluit het soos volg gelui: “Die Algemene Sinode besluit dat:

  • 16 Desember vanjaar as ’n dag van vrede en verdraagsaamheid gevier word,
  • alle Christelike denominasies betrek word,
  • gedagtig aan die gelofte, almal wat hulle met die gelofte kan vereenselwig, sal onthou dat God daarin erken word as God, die Almagtige en Onderhouer van volke, kulture en tale en dat ons in die lig hiervan in ’n gees van versoening saam voor die Here sal buig.”

So verstaan, mag die NG Kerk 16 Desember nie vergeet nie. Dit is ’n unieke geleentheid om te onthou dat God steeds in beheer is en om ons saamreis met ander in die land te vier.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.