Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Resensies + Leesidees vir oud en jonk dié Kersfees


Vir kleintjies

Die verlore skapie deur Martin Schwella

Uitgewer: CLF, 2024

Resensent: Rethie van Niekerk

Wat ’n lekkerte! Die verlore skapie is ’n reeks vertellings oor Leon, ’n nuwe skapie in Blêrfontein. Hy maak vriende met Tjoppie en so verhalend leer hy van die Herder, gebed, die Bybel, kerk en nog baie ander dinge.

’n Mens se enigste kritiek teen die pragtige illustrasies is dat dit te min is! Die speelse, kindervriendelike illustrasies vul die prettige vertellings goed aan.

Die verlore skapie wil hardop gelees word, met woorde soos “maaamaaaa” wat eenvoudig geblêr móét word. Hierdie boek is ideaal vir voorlees aan opgewonde kinders. Selfs die orrelis en kerkbasaar maak ’n draai.

Ek het halfpad deur die lees van Die verlore skapie my Kersgeskenklys aangepas, want hierdie lieflike boek wil ek met al die kindertjies in my kring deel.

Beskikbaar by CLF.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Gemeente Driehoek in Vanderbijlpark.


Vir tieners

Foto’s en fairy lights deur An-Mari do Carmo

Uitgewer: NB Uitgewers, 2024

Resensent: Melanie Thirion

Elzandri, die sewentienjarige hoofkarakter van Do Carmo se tweede jeugroman, is by ’n kruispunt. Na haar grootwordjare op die plaas met tuisskoolonderrig, druk haar pa haar om toekomsbesluite te neem. Hy het egter min vertroue dat sy haar keuse sal kan deurvoer. Elzandri is vasbeslote om hom verkeerd te bewys. In die verkeerdbewysproses, word Elzandri gekonfronteer met die uitdagings van haar neurodiversiteit, ’n (soort van) geheime liefdesverhouding en ingewikkelde familieverhoudings.

Hierdie roman lees soos ’n string feëtjieliggies wat voor Kersfees ontkoek moet word: ’n mens weet hoe dit gaan eindig, maar die knoopplekke hou jou besig. Die “coming-of-age” verhaal beklemtoon tieners se ontwikkelingstaak van identiteitsvestiging en onafhanklikwording. Die spanning tussen Elzandri, haar pa en ander sibbe dui op die beweging weg van die familie as primêre bron van identiteit na die portuurgroep of ander betekenisvolle persone as bron van haar identiteit. In die warboel van gebeure beweeg Elzandri ook na God toe om uit te pluis wie sy is.

Hierdie is ’n maklik-lees-lekker-jeugroman en veral tieners wat met ADHD leef, sal goed met Elzandri kan identifiseer. ’n Mens vang jouself dat jy na ’n dag of twee weer terugdink aan die verhaal. Dit is soos om tydens die Kerstyd ’n hele paar keer na die feëtjieliggies te kyk en te dink: dit was nou die moeite werd om te ontkoek!

*As bonus is daar ’n Spotify-klankbaan vir die boek.

Beskikbaar by loot.

Ds Melanie Thirion is ’n vroeëkinderontwikkelingsbeampte by Little Seeds.


Vir kinders

Die ongelooflikste sending deur De Wet Hugo

Uitgewer: Luca, 2024

Resensent: Anje Zeeman

Die ongelooflikste sending deur De Wet Hugo is ’n boeiende interaktiewe kinderboek wat jong lesers op ’n avontuurlike reis neem. Die boek is ryk aan illustrasies en bevat oomblikke waar die leser self die karakters se reaksies kan bepaal, wat dan na die volgende stap in die verhaal lei. Dit kombineer storievertelling met Bybelse insigte en neem lesers op ’n reis wat fokus op vergifnis en die keuses wat ons in vriendskappe maak.

Die boek lees vinnig en maklik. Die feit dat die leser tot ’n sekere mate beheer het oor die verloop van die storie, voeg ’n opwindende element by. Dit is ’n kreatiewe en interessante manier om kinders aan die lees te kry.

Op ’n langnaweek in die bos het ek my susterskind gevra om die boek te lees en ’n gedeelte van die resensie te skryf (lees hieronder). Deur die naweek het nie net Gian nie, maar albei sy broers die boek opgeslurp en lekker gesels oor die verskillende keuses wat hulle gemaak het in die storie.

Gian de Waal (10 jaar oud): Ek het die boek baie geniet, want daar is baie avonture wat jy self kan kies, en dit leer jou belangrike lesse. Ek het geleer om nie te jok nie, om ander mense te help, en om mooi met ander mense te wees. Ek het ook besef hoe belangrik dit is om goeie keuses te maak. Ek sal die boek vir ander kinders aanbeveel, want dit lees maklik en leer jou dat Jesus altyd by jou is en jou beskerm.

Beskikbaar by Lapa.

Ds Anje Zeeman is predikant by die Parke-gemeente in Kraaifontein.


Temas soos skuld en vrees as dryfveer vaardig aangeroer

 

… so ook op die aarde deur Betsie van Niekerk

Uitgewer: Naledi, 2024

Resensent: Marina van der Linde

… so ook op die aarde vertel die aangrypende verhaal van ’n klein afgeleë gemeenskap diep in die Kalahariwoestyn, wat ’n prototipe word vir alle mense van alle tye en hoe mense se interaksie met mekaar lyk in uitdagende tye.

Temas wat voortdurend deur die verhaal vervleg is, is temas soos om ’n buitestander vanuit ’n drasties ander kultuur te wees, om mense lief te kry in wie jy vantevore ’n weersin sou koester, dat elkeen van ons die potensiaal het om op enige gegewe dag vir mekaar hemel op aarde of loutere hel te skep, dat ons almal maar net mense is en dat die liefde vir ’n ander mens dikwels nie deur morele wette bedwing kan word nie, en lei tot ’n diep worsteling met God en jouself.

Waarskynlik is die sterkste tema, wat briljant deur die skrywer uitgebeeld word, dat baie van ons, veral godsdienstige mense, se gedrag gedryf word deur vrees, skuldgevoelens en skaamte en dat ons hierdie diep dinge probeer verdoesel deur met harde en veroordelende maskers van projeksie te leef, tot ons eie kwesbaarheid ons dwing om onsself eerlik in die spieël te sien. Van Niekerk beeld uit hoe ons mense óf tot bekering kan kom van ons veroordeling wat deur ons eie donker spoke gedryf word óf dan die teendeel, om uiteindelik deur jou donker oorrompel te word en self in die monster te verander wat jy in iemand anders sien.

As daar ’n opvolg sou wees op “… so ook op die aarde”, sou ek dit beslis lees.

Beskikbaar by Naledi.

Marina van der Linde is leraar by die Ooskerk in Pretoria.


Kan oorlogswonde ooit genees?

Bloedbroers deur Deon Lamprecht

Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers, 2024

Resensent: Johan Pieters

“Kan die wonde van oorlog ooit genees?” Dit is die vraag wat Bloedbroers deur Deon Lamprecht relevant maak. Bloedbroers vertel die ware verhaal van die geveg by Smokeshell tydens die bosoorlog in Angola. Twaalf dienspligtiges uit ’n peloton van 44 het die dag gesterf. Nog sewentien is ernstig beseer. Die verhaal word egter verder geneem deur verslae oor hoe van die oorlewendes die ervaring hanteer het, asook ’n herbesoek aan die slagveld ongeveer 40 jaar later.

In die aanloop het die eerste hoofstukke bekend gevoel. Maar soos die spanning gegroei het, het die vertelling in groter en groter chaos verval. Aanvanklik het dit my afgesit, maar gaandeweg het ek besef dat hierdie chaotiese vertelling die akkuraatste beskrywing van daardie dag was. Chaos.

Die tweede deel van die boek bestaan uit verslae oor hoe van die oorlewendes die impak van die gebeure hanteer het – wie gehelp het en wie probeer help het. Die emosies wissel van skuldgevoelens, tot ontkenning en aanvaarding.

Die laaste deel van die boek vertel van die herbesoek aan die slagveld. Die boek sluit af by Klub Omithiya in Bloemfontein, ’n plek vir skouerskuur en gesels vir die veterane van Smokeshell. ’n Plek waar die diep oorlogswonde versorg word.

Bloedbroers gaan oor meer as oorlog. Dit soek na die pad van genesing, die manier waarop dit gebeur en wie betrokke is by die genesingsproses van oorlogswonde.

Beskikbaar by Graffiti Boeke. Ook beskikbaar in Engels.

Dr Johan Pieters is predikant by die NG Gemeente Triomf in Johannesburg.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top