Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika (VGKSA) het oor die naweek van 12-14 April haar dertigste verjaardag gevier.
Wat maak hierdie gebeurtenis belangrik vir die NG Kerk? Die antwoord lê in die geskiedenis van die VGKSA. Dit is ’n kerk wat diep wortels in die geskiedenis van die NG Kerk het. Die VGKSA het in 1994 ontstaan toe die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NG Kerk vir bruinmense wat in 1881 deur die NG Kerk gestig is) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (NG Kerk vir swart mense wat in 1951 deur die NG Kerk gestig is), saamgesmelt het om ’n nuwe kerk te vorm.
LEES OOK: Politics: Landman on URCSA’s ‘dual identity’ over the years
Dit was nie net ’n nuwe kerk nie, maar die uitwissing van rasgrense in ’n deel van die NG Kerk. Die belangrikheid van hierdie gebeure vir die NG Kerk is in Oktober 1994 verder deur oudpresident Nelson Mandela onderstreep toe hy die NG Kerk tydens sy toespraak voor die Algemene Sinode uitgedaag het om daadwerklik te poog om met die VGKSA te verenig. Sedertdien het dertig jaar se water in die see geloop.
Terwyl daar verskeie gesprekke en vergaderings tussen die kerke die afgelope dertig jaar plaasgevind het, is min vordering gemaak. Een van die groot uitdagings is die Belydenis van Belhar. Terwyl dit vir die VGKSA ononderhandelbaar is, het die NG Kerk met ’n lang proses wat gemeentes en streeksinodes ingesluit het, besluit om nie die Belharbelydenis as belydenisskrif te aanvaar nie. Hierdie gebeure het eenheidsgesprekke in ’n doodloopstraat laat beland. Die groot vraag is wat nou en hoe nou?
Miskien lê die antwoord op hierdie vraag nie in vergaderings en sinodale besluite nie, maar wel op grondvlak in gemeentes. Dit is immers waar kerkwees gebeur. Dit is op gemeentevlak in die dorp en die voorstad waar broers en susters in Christus moet hande vat om ’n verskil in die samelewing te maak.
In ’n land waar armoede, swak onderwys, geweld, korrupsie en werkloosheid endemies geraak het, kan die kerk dit gewoon nie langer bekostig om net op eie belange te fokus nie. Die wonderlike susksesverhale van handevat en saamwerk wat reeds bestaan moet harder en duideliker aan die groot klok gehang word – nie net in die binnekringe van die kerk nie, maar ook buite die kerk – sodat Suid-Afrika kan sien en glo en hoop en nadoen!
Miskien word die uitdaging wat Mandela in 1994 aan die NG Kerk gerig het, dan selfs belangriker as wat hyself besef het en die dertigste verjaardagviering van die VGKSA nog belangriker! Dan is dit meer as ’n wekroep tot groter eenheid. Dan word dit ’n boodskap van hoop aan ’n land wat tot op die randjie van wanhoop gestoot is.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.