Die einde van die jaar bied nie net geleentheid om terug te kyk oor ’n jaar wat verby is nie, dit bied ook geleentheid om vorentoe te kyk na die nuwe jaar wat kom. Doen ’n mens dit, word dit gou duidelik dat 2026 ’n hoofletterjaar op die reis van die NG Kerk behoort te wees. Die rede is voor die handliggend: Dit is die veertigste herdenkingsjaar van die beleidsdokument wat as Kerk en samelewing: ’n Getuienis van die Ned Geref Kerk bekendstaan wat in 1986 deur die Algemene Sinode aanvaar is. Daarin is die nuwe koers waarop die NG Kerk besluit het verwoord, naamlik om amptelik weg te draai van die teologiese ondersteuning van apartheid.
Die spesifieke besluite wat in Kerk en samelewing vervat is, wat die kerk egter binne dae in beroering gehad het, was die volgende:
- Die beklemtoning van sigbare kerkeenheid (paragraaf 275).
- Die lidmaatskap van die NG Kerk is oop (paragraaf 270).
- Die deure van die NG Kerk is oop (paragraaf 273).
- Rasgemengde huwelike is nie langer as Bybels verbode beskou nie (paragraaf 368).
- Die regverdiging van apartheid uit die Skrif was ’n fout (paragraaf 305).
Reaksie teen die besluite was fel en het gelei tot landswye protesvergaderings en uiteindelik tot die stigting van die Afrkaanse Protestantse Kerk in Junie 1987 toe groot getalle lidmate die NG Kerk verlaat het.
Ten spyte van die hartseer gebeure was Kerk en samelewing inderdaad die eerste tree op ’n nuwe pad. Dit het die deure oopgemaak vir die belydenis van prof WD Jonker tydens die Rustenburgberaad in 1990. In aanloop tot die 1994-verkiesing het kerkleiers uit die NG Kerk ’n belangrike versoeningsrol gespeel tydens erge politieke konflik en in 1994 het oud-pres Nelson Mandela die eerste swart president geword om ’n Algemene Sinode van die NG Kerk toe te spreek. In 1997 kon ds Freek Swanepoel voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) getuig dat die kerk op ’n nuwe pad was. Op internasionale vlak het die nuwe koers die NG Kerk terug gelei na die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke en die Wêreldraad van Kerke.
Wanneer ’n mens daarom vorentoe na 2026 kyk om dan terug te kyk oor veertig jaar, is die herdenking van Kerk en samelewing een van die groot roetemerkers in die geskiedenis van die NG Kerk. Alhoewel die bekende teoloog, John de Gruchy, oor Kerk en samelewing skryf dat dit “te min te laat was”, sou die verhaal van die NG Kerk heel anders gelees het as dit nie vir Kerk en samelewing was nie. Daarom behoort die kerk dit in 2026 nie net te herdenk nie, maar behoort dit met vreugde gevier te word.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.
