’n Maatskaplike werker wat beskryf word as ’n rolmodel en kundige op die gebied van kinderbeskermingsdienste, was Sondag saam met haar twee tienerkinders in ’n noodlottige motorbotsing.
Die nuus oor hierdie ongeluk by Fisantekraal naby Durbanville in die Kaap het wyd opslae gemaak.
Juanita Beukes was “by uitstek ’n kundige op die gebied van kinderbeskermingsdienste en ’n rolmodel vir baie maatskaplike werkers,” luidens ’n plasing op Badisa se Facebookblad. In huldeblyke is ook medelye uitgespreek teenoor haar man, Pieter, “wat sy hele familie in ’n oogwink verloor het”.
Die 49-jarige Beukes was sedert 2003 werksaam as die bestuurder: maatskaplike dienste by dié hulporganisasie se Bestuursprogram. Sy het in 1998 as maatskaplike werker by hierdie Christelike hulpvennoot van Diaconia begin werk en was ook tussenin ondermeer werksaam by die Durbanville Kinderhuis.
“Dit is ’n baie groot verlies … sy was meer as ’n kollega, sy was ’n regte leier en ’n vriendin,” het Annemarie Bezuidenhout, direkteur by Badisa, by navraag vir Kerkbode gesê.
“Juanita was ’n reus in die maatskaplike been van die kerk,” het dr Tinus van Zyl, een van die leraars by NG Moedergemeente Durbanville gesê. Juanita, haar man Pieter, en hulle twee kinders, Emma en Stephan, is lidmate van dié gemeente.
Die gedenkdiens is beplan vir Donderdag, 13 Februarie om 15:00 by Hoërskool Durbanville.*(Bygevoeg na plasing.)
- Diaconia is die eenheidsbediening van die Wes-Kaap Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika en die Verenigde Gereformeerde Kerk se Kaapland Sinode
So jammer om te verneem van dié ongeluk!! Alle sterkte aan haar man wat sy hele gesin in n oogwink verloor het!!