Tussenin die vleis wat op die kole braai, die warm somersdag se in-en-uit die swembad spring en kaart speel met die kinders, vang my oor halfpad ’n gesprek oor pizza. Geïnteresseerd in dié halwe snytjie inligting gaan lees ek verder daaroor op.
Sedert die Koue oorlog het intelligensie-agentskappe begin glo in die “Pizza-indeks” in Amerika. Spioene het begin dophou hoe die pizzaverkope by sekere regeringsgeboue voor groot operasies en aktiwiteite sou styg.
LEES OOK: Gelykenis van die prater en die grassnyer
In die 90’s het die Pentagon Pizza-teorie begin posvat. Frank Meeks, eienaar van die Domino’s-winkels wat pizza in Washington aan baie CIA-geboue verskaf, het begin oplet wanneer verkope sou styg. Kort na ’n waarneming van ’n skielike styging het die nuus gebreek dat Irak vir Koeweit ingeval het.
Sedertdien hou die media en ander “belangstellendes” die pizzabestellings rondom die Pentagon dop. Wanneer daar laer aktiwiteit by die nabygeleë restaurante en sosiale klubs is en die pizzaverkope aanlyn skielik toeneem – dan weet almal iets is aan die gebeur. Die fenomeen was onlangs weer in die nuus met die 2025-aanvalle in die Midde-Ooste. Kort voor die aanvalle van Amerika in Iran het die “pizza-indeks” om die Pentagon, ewe skielik, aansienlik gestyg.
Net dié wat opgelet het, kon die tekens van die tyd lees.
LEES OOK: Gesprekke oor jeugbediening: Vyf ruimtes, een groot vraag
Ek haak vas by dié gedagte. My eie oplettendheid vir dít wat om ons gebeur is nie altyd só gefokus nie. Joune dalk ook nie. Die meeste van die tyd is my fokus op myself en my eie onmiddellike aktiwiteite en interaksies. Hoogstens luister ek na dít wat ander mense vir my van hulle lewe vertel. Ek hoor wat by my kinders se skool aangaan en lees die nuus. Pastorale gesprekke gee vir my ’n venster op die werklikheid van ander kontekste. Meestal leef ons maar binne die beperkinge van ons eie omgewing.
Profesie in die Bybel is kompleks. Om dit vinnig as “toekomsvoorspelling” op te som is myns insiens arm teologie. Profesie was ’n fyn balans tussen “die lees van die tekens van die tyd” en luister na die Here se wil. ’n Goeie profeet sou met wysheid kon sien hoe scenario’s uitspeel en die hoorders help om keuses te verstaan in die lig van die moontlike uitkomste van hulle besluite.
LEES OOK: Fay van Eeden het één voorneme vir 2026: Minder mikroplastiek … Sy deel 10 wenke
In die kerk is ons (gewoonlik) goed met die verstaan van die Here se hart en wil. Ek wonder hoe goed ons nog is om die tekens van die tyd te lees. Sien ons nog raak wat gebeur? Let ons fyn op wanneer die “pizzaverkope” styg? Betyds genoeg om met wysheid ’n profetiese stem in die samelewing te wees?
Dink maar aan waarheen prestasiedruk in skole heen op pad is. Sien die groeiende aanvaarding van vervalle paaie en gedeelde dienste. Let op hoe die polarisering in gesprekke verdiep en hoe ongenuanseerd debat plaasvind. Kyk uit vir die ideologiese pendulum wat nie meer stadig heen-en-weer oor dekades beweeg nie, maar deesdae soos ’n opgewende klok vinnig van posisie verander – soms binne maande.
Ek en jy moet ook stil staan en oplet – kyk wat gebeur – dieper dink. Jy gaan moeilik die hart en wil van die Here met wysheid kan interpreteer en oordra sonder ’n goeie lees van die tekens van die tyd.
Daar is te min profete in ons wêreld. Miskien is jy die volgende een?
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
