Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die dag is afgesluit met ’n pastorale herinnering: God hou sy kerk in stand. Selfs in ’n tyd van angs, verminderde getalle en veranderende kulturele landskappe, bly God teenwoordig, skryf Anriëtte de Ridder.

Gesprekke oor jeugbediening: Vyf ruimtes, een groot vraag

Wat gebeur wanneer twintig predikante en jeugwerkers saam met een van die wêreld se invloedrykste stemme oor geloofsvorming in ’n sekulêre kultuur begin gesels? Op Stellenbosch het dit op 11 Februarie 2026 uitgeloop op diep teologiese besinning oor die stand van jeugbediening in Suid-Afrika. Anriëtte de Ridder vertel meer. Foto’s Marnus Havenga.

 

Die gesprek het nie in ’n tipiese lesinglokaal plaasgevind nie, maar in vyf verskillende ruimtes: ’n koffiewinkel aan die voet van die Jonkershoekberge, ’n hoërskoolkoshuis, ’n kunsgalery, ’n restaurant en uiteindelik Moederkerk se liturgiese ruimte.

Die gas was Andrew Root, professor in Jeug- en Gesinsbediening aan Luther Seminary in die VSA en bekroonde outeur van meer as 16 boeke, onder andere die Ministry in a secular age-reeks en die boek The end of youth ministry? Root staan bekend vir sy diep teologiese en kulturele analise van kerkwees in ’n post-Christelike wêreld. Sy sentrale vraag is eenvoudig, maar ontwrigtend: Wat is die doel van jeugbediening in ’n sekulêre konteks?

Die aandag-ekonomie

In die koffiewinkel is die gesprek oopgemaak met die erkenning dat die ruimtes waar tieners se identiteit gevorm word dramaties verander het. Jongmense werk vandag hulle identiteit uit, nie meer hoofsaaklik in skool- of kerkruimtes nie, maar op skerms – binne die sogenaamde “attention economy”. Soos een deelnemer dit gestel het: “Ons beskerm fisiese ruimtes, maar onderbeskerm blootstelling aan digitale ruimtes.” Root meen ons sal verder moet dink oor wat dit beteken dat tieners se identiteit aanlyn gevorm word, en hoe geloof daar ’n rol kan speel.

In die koshuis, met die gedrang van skoolkinders in die agtergrond, het die gesprek verskuif na ouerskap. Root het die hedendaagse “Parental Project” beskryf: ouers bestuur hulle kinders se programme en soek hulle “thing” – sport, akademie of kultuur – wat hulle plek in die wêreld moet verseker. Dit word ’n hamsterwiel van aktiwiteite wat nie versadig nie. Die uitdaging vir die kerk is om jongmense te help om hulle identiteit te soek binne God se groter verhaal. Hiervoor is intergenerasionele verhoudings kardinaal, en sal ons dus die bestaande model van kategese moet herbedink. Ouers is hier baie belangrik, en ons sal hulle hiervoor moet toerus.

Geluk en Vreugde

Die gesprek in die kunsgalery het die teologiese kern aangeraak: die skuif van “happiness” na “joy”. Root het gewys hoe die hedendaagse kultuur volgehoue geluk as hoogste doel stel (“happiness”), terwyl die Christelike geloof vreugde vind in God se teenwoordigheid (“joy”) – selfs in pyn of gebrokenheid. Dit beteken dat ons opnuut moet terugkeer na ’n teologie van die kruis, waar identiteit nie self-gekonstrueer word nie, maar ontvang word “in Christus”. Dit is kontra-kultuur en daag ons uit om ons eie opvattings van ’n suksesvolle jeugbediening te heroorweeg.

 

In die restaurant het eerlike pastorale spanning na vore gekom: Hoe kompeteer ’n mens nie met al die ander aktiwiteite wat jongmense se tyd opeis nie, maar raak terselfdertyd as kerk ook nie irrelevant nie? “As ons uit die wedywering vir mense se tyd klim,” het een deelnemer gesê, “is die gevaar dat mense eenvoudig net nie meer opdaag nie.” Sommige deelnemers is self ouers en voel die druk en angstigheid van oorvol programme. Die vraag is dus hoeveel innovasie en kreatiwiteit nodig is om mense te “trek” na die kerk, teenoor om eerder tyd en energie te gebruik om die aard van die byeenkoms of groep te verander. Root se wysheid was eenvoudig: “Moenie vra hoeveel opgedaag het nie; vra eerder wat gebeur het met dié wat wel opdaag.”

Deelname aan God se narratief

Die gesprek het in Moederkerk se liturgiese ruimte geëindig met die rol van stories. Root het beklemtoon dat geloof nie net gevorm word deur ’n stel oortuigings nie, maar deur deelname aan God se narratief. Jongmense het nie nog inhoud nodig nie, maar eerder hulp om hulle eie stories te interpreteer binne God se groter storie. Die kerk moet dus ’n interpretasie-ruimte word, eerder as nog ’n prestasie-ruimte – ’n plek waar mense “net kan wees”. Root vertel ’n persoonlike storie van hoe hy tydens ’n vakansie met sy dogter tussen dolfyne geswem het, en hoe hy amper die oomblik van saamwees met sy dogter gemis het, omdat hy dit op ’n selfoon wou vasvang.

Die dag is afgesluit met ’n pastorale herinnering: God hou sy kerk in stand. Selfs in ’n tyd van angs, verminderde getalle en veranderende kulturele landskappe, bly God teenwoordig. Die uitdaging is nie paniek of nog programme nie, maar getroue teenwoordigheid – en die moed om jongmense te help ontdek wie hulle in Christus is.

Die grootste vraag is dus nie: Hoe kry ons meer tieners terug in die kerk nie? Maar eerder: Hoe word ons gemeente ’n ruimte waar jongmense hulle stories kan vertel en leer interpreteer binne God se groter storie?


Ds Anriëtte de Ridder is predikant in sinodale diens vir jeugbediening in die Wes-Kaap.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Gesprekke oor jeugbediening: Vyf ruimtes, een groot vraag”

  1. Ernst Swanepoel

    Dankie vir hierdie storie. Ek het die voorreg gehad om as Jeugdiaken en later jeugouderling te dien. Dit was my voorreg om by die jeug betrokke te wees in alle aksies en ook my voorreg om my kinders in die jeugaksies te he. Almal was later in een of ander jeugleiersrol in die NGK.
    Nie een van hulle is meer in die NGK nie.
    Dit het begin toe die NGK in hulle (on)wysheid met “jeugleraars” begin het wat ‘n ander kultuur as die “gewone” leraars begin het.
    Ons het in die “gewone” bediening geleer van “vreugde” en “opgewondenheid”, die jeug is geleer van “joy” en “dis amazing”. Ons was gelukkig en het sielsgeluk gevind in die daaglikse “leer en lewe”, dis vervang met “happiness” (“sielsgeluk” is nog nie ver-amerikaans nie).
    In die kerk en Geestelike meelewing het dit gegaan oor getuienis, verhale, ervarings. Nou praat almal van “narratiewe”, wat “stories” is en vals, fiktief of werklik kan wees (sien WAT en wikipedia). Vergeet van “heiligmaking” of “Geestelike groei” want. volgens die ASM, mag dit diskriminerend wees teenoor die outjies wat net stories vertel. (Sien IN-PAS digitaal).
    Wat is fout? Sal ek my kinders en kleinkinders ooit weer terugkry in die NGK? Die antwoord le opgesluit in die kinderlike Waarheid van die Evangelie: verkondig en leef die onvervalste hoop en verwagting van ‘n kinderlike, verloste lewe. Ken die Here in al jou planne, leer wat dit is om Jesus as ons Enigste Verlosser aan te neem en moenie kompromiteer met ander verlossertjies en hulle stories nie.
    Maak geleentheid vir gesprekke, nie narratiewe nie, en kom by die basiese behoeftes van die Jeug uit.
    Ek bid vir die jeug van die NGK en my kinders doen dit ook, solank hulle nie dit nie in die moderne, inklusiewe raamwerk hoef te doen nie.
    Terloops, ek is beindruk met die jeugleraars en die groep wat saamgesels het. Ek bemerk dat daar geen inklusiwiteit van ander gelowe of godsdienste was nie. Beteken dit dat die NGK dus werklik nog glo dat net Jesus Christus die Antwoord is tot Verlossing?
    Groete

Comments are closed.

Scroll to Top