Vir my is die hele gedagte van nuwejaarsvoornemens vreemd. Dit is tog nie moontlik om oornag ’n ander mens te word nie. Maar … daar is sekerlik iets te sê vir ’n doelbewuste keuse om ander gewoontes en ritmes in jou lewe te verwelkom. Én die begin van ’n kalenderjaar is sekerlik die sinvolste tyd om ’n verandering van rigting in te slaan. Net na ek finaal besluit het om nuwejaarsvoornemens af te sweer kruis die dokumentêr Plastic people: The hidden crisis of microplastics my pad en skielik is daar ’n nuwejaarsvoorneme in my visier.
Die ontwikkeling van plastiek kan as ’n keerpunt in die mens se geskiedenis beskryf word, en min sal stry dat die verskeidenheid goedkoop, duursame plastiekgoedere, van Tupperware en PVC-pype tot poliësterklere en enkelgebruik mediese produkte, ons lewe vergemaklik en verbeter. Máár die probleem is dat plastiek vir EWIG is. Baie min van die plastiek, wat in die laaste 100 jaar geproduseer is, sal ooit herwin word. Ek lees onlangs dat die VN beraam dat die meeste van die 400 miljoen metrieke ton plastiek wat jaarliks geproduseer word – ’n verdubbeling van produksie sedert 2000 – in een of ander vorm op aarde sal bly voortbestaan.
En ons weet volgens die wet van entropie dat goed heeltyd aan die afbreek is, wat beteken dat hierdie plastiek, waarvan ons lewe vol is, heeltyd besig is om in baie klein stukkies af te breek. Ongeveer 20 jaar gelede het marienebioloog, Richard Thompson, klein stukkies plastiek in die oseaan begin vind. Hy het hulle “mikroplastiek” gedoop.
Navorsers begin ook nou hierdie mikro- en nanoplastiek aan onder andere hart- en longsiektes verbind. Nog meer kommerwekkend is dat hierdie klein stukkies plastiek oral is – in die water wat ons drink, ons kos en selfs in die lug wat ons inasem. Ongelukkig is mikroplastiek nou so wydverspreid dat dit byna onmoontlik is om te vermy, maar ons kan wel ons blootstelling aan hierdie vorm van plastiek verlaag. En as ek enige iets anders in 2026 gaan doen … dan is dit dít. So hier is my tien eenvoudige nuwejaarsvoornemens waarmee ek poog om my en my gesin se blootstelling aan mikroplastiek te verminder.
Vermy gebottelde water
Volgens navorsers mag gebottelde water een van die grootste bronne van mikroplastiek wees. ’n 2024-studie het aangetoon dat gebottelde water baie meer plastiek as kraanwater bevat. In ’n land waar ons nie altyd seker is oor die gehalte van ons kraanwater nie, voel gebottelde water soms na die enigste alternatief. Ons oorweeg ’n ander, en dalk beter, alternatief – ’n NSF-gesertifiseerde waterfilter.
Stoor kos in glashouers
Plastiekhouers word deur sonlig, hitte en sure afgebreek, daarom is dit beter om in goeie glashouers te investeer waarin kos gebêre en veral verhit kan word.
Vermy die hergebruik van enkelgebruikplastiek vir kos en drinkgoed
Vermy die hergebruik van plastiese wegneemetehouers, borsmelksakkies en plastiese koeldrankbottels. Navorsing dui daarop dat enkelgebruikplastiek mikroplastiek en chemikalieë in voedsel kan vrystel.
Moenie plastiek warm maak nie
Al sê dit mikrogolf-veilig, moet eerder nie kos of water in plastiekhouers warm maak nie.
Was plastiek met die hand
Skottelgoedwassers se warm water kan plastiek – selfs plastiek wat aandui dat dit veilig is vir ’n skottelgoedwasser – afbreek wat kan lei tot die vrystelling van mikroplastiek in ons water. Probeer om eerder jou plastiekhouers in koeler water met die hand te was.
Vervang jou plastieksnyplanke
Sommige navorsing dui daarop dat plastieksnyplanke ’n beduidende bron van mikroplastiek in ons dieet is, aangesien herhaalde gebruik sorg vir klein frummeltjies plastiek wat met die kos wat ons daarop sny meng. Houtsnyplanke het ook ander voordele – hulle is beter vir jou meslemme en hou langer as ’n plastiese snyplank wanneer dit reg versorg word.
Vermy plastiek kookware
Ek is op ’n missie om my plastiese spane en lepels met hout of staal te vervang. Die kleefvrye panne is nog iets wat ons stelselmatig met ‘gesonder’ alternatiewe probeer vervang.
Drink anders tee
Volgens navorsers is dit beter om plastiekteesakkies, wat miljarde deeltjies plastiek in jou koppie kan vrystel, te vermy. Oorweeg eerder losblaartee of papierteesakkies.
Let op vir bestanddele
Ek gaan poog om hierdie jaar meer intensioneel te kyk na die inligting op produkte se verpakking, veral die bestanddele van persoonlikesorgprodukte. Vermy velsorgprodukte en tandepasta wat poliëtileen (PE), polipropileen (PP) en ander plastiekbestanddele bevat.
Dink anders oor matte
’n Ander sinvolle verandering is om jou sintetiese matte met matte van natuurlike vesel te vervang – dit is veral belangrik as jy klein kinders of troeteldiere het wat op die mat speel en moontlik die mikroplastiekdeeltjies, wat deur die mat vrygestel word, kan inasem.
Ds Fay van Eeden is predikant van die NG Gemeente Stellastraat en ’n blogskrywer oor omgewingsake.
