NG leiers sal in April met kerklike vennote uit die Midde-Ooste ontmoet oor die kwartmiljoen rand wat in Augustus verlede jaar vir noodlydendes in Gasa goedgekeur is, maar nog nie suksesvol oorbetaal kon word nie.
By die jongste vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) in Benoni het verteenwoordigers uit die NG Kerk se nege samestellende steeksinodes meer besonderhede gehoor oor die uitdagings wat daartoe gelei het dat die R250 000 nog nie die bestemming kon bereik nie.
“Lebanese banke weier tans alle bankoorplasings vir Palestyne; selfs oorplasings via Jordanië of enige ander vorm van oorplasing is nie moontlik nie,” luidens ’n skrywe wat die Middle Eastern Council of Churches aan die skenkers in Suid-Afrika gestuur het.
LEES OOK: Vraag en antwoord oor humanitêre hulp aan Midde-Ooste (Amptelike Kommunikasie)
Ds Jan Lubbe het by navraag verduidelik dat die proses om die geld in die gekose vennoot se rekening te kry enersyds ingewikkeld is en andersyds is die rede vir die vertraging die feit dat die NG Kerk “baie seker (wil) maak dat die geld by die regte adres uitkom.”
Die vergadering het van 24-26 Februarie geduur en een van die gassprekers was prof Stephan Joubert, wat vanuit die Bybel oor leierskap gepraat het.
PredikanteSAAMkoms 2026
Die ontwerpspan wat hard aan ’t beplan is vir die predikantesaamtrek wat in Augustus by Goudini in die Wes-Kaap sal plaasvind, het op hulle beurt die droom asook nadere besonderhede en spertye vir inskrywing tot hierdie grootskaalse projek met afgevaardigdes gedeel. Dié unieke saamkoms vir leraars, oud en jonk, vind op 24-28 Augustus plaas in die jaar voor die Algemene Sinode van die NG Kerk weer in 2027 sal vergader.
’n Tema regdeur die vergadering van die ASM was roeping en roepingsverhale. Die laaste bydrae was die onverwagse verskyning van die 21-jarige krieketspeler Miané Smit, wat haar geloofstorie kom deel het voor die afgevaardigdes weer huiswaarts gekeer het.
Spanning tussen ‘susterkerke’
Nog ’n gesprek wat op die NG Kerk wag, is dié tussen die “susterkerke”. Dit speel boonop af te midde van sprake van ’n soort “reset” wat, volgens enkele kerklui met wie Kerkbode gesels het, aan die uitspeel is op breër kerkgebied in Suid-Afrika.
LEES OOK: Spanning loop hoog, maar leiers wil ‘openhartig’ gesels ná GKSA dié besluite neem op Potch
’n Skrywe deur die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) het vlugtig by die ASM-vergadering ter sprake gekom. Dit lui: “Dit is vir ons inderdaad hartseer dat die bande tussen ons drie kerkverbande oor tyd losser geword het. Ons deel die oortuiging dat ’n eerlike en openhartige gesprek die aangewese wyse is om saam aandag te gee aan die huidige stand van ons onderlinge verhoudinge,” lui die skrywe “namens die deputate Ekumenisiteit Binnelands”. Die GKSA se brief volg op die NG Kerk, tesame met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), se versoek om ’n ontmoeting. Dit nadat die GKSA in Januarie by ’n sinodesitting onder meer besluit het om bande met die NG Kerk af te skaal.
Lubbe het gesê: “Ons hoop dat die gesprek (met die GKSA) waarvoor ons gevra het, kan bydra dat ons mekaar weer kan eien aan identiteit. Wat bedoel jy met die woord gereformeerd en wat is ons verband met Christus, want dit gaan op die ou end oor die eenheid van sy liggaam.”
Meiring help in gesprek met VGK
Ook die band met die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) figureer in die ASM-agenda. “Die dagbestuur het in September en Oktober 2025 ontmoetings met verteenwoordigers van die VGKSA gehad, onder andere ook in Chiang Mai, Thailand, tydens die sitting van die World Council of Reformed Churches (WCRC).
LEES OOK: ‘Goedkoop versoening rem eenheidsgesprek tussen VGK en NGK’
’n Opvolggesprek vir ’n breër leierskorps word beplan vir 26-27 Mei 2026, en waarskynlik onder leiding van prof Piet Meiring. Hier sal dokumentasie wat reeds teen 2017 goedgekeur is, ter sprake kom om ’n roetekaart vir ’n herenigingspad en die tussenorde te herbesoek; en om saam met mekaar te konsolideer oor die pad vorentoe,” luidens ’n verslag.
Groote Kerk-kwessie?
Dr Dawie Botes uit die Vrystaat wou deur die loop van die vergadering by die afvaardiging van die Wes-Kaap hoor hoe die geval van die Groote Kerk hanteer is. Dié Kaapse gemeente is verlede jaar in sommige kringe skerp gekritiseer vir die hantering van ’n intergeloofsgeleentheid binne die historiese kerkgebou.

Ds Elmarie Dercksen, die voorsitter van die ring waarbinne Groote Kerk val, het gesê daar was ’n pastorale gesprek met die gemeente se leraars en verteenwoordigers van die ring. Uit die pastorale gesprek was daar “wat ons betref goeie vrug,” het Dercksen gesê en bygevoeg dat ’n opvolggesprek sal volg.



Ds Marinus Theron, die moderator van die sinode van Wes-Kaapland, het gesê: “Ons is tevrede dat ons die ooreengekome weg hoe ons as kerk funksioneer, nagekom het deur met die kerkraad te praat, hulle op hulle verantwoordelikheid te wys. En dat ons gepraat het oor groter sensitiwiteit in ’n baie verdeelde wêreld maar ook kerklike landskap.” Hy het bygevoeg dat dit ’n gemeente is wat probeer om sout en lig te wees. “Ek hoop ons kan nou afstap van hierdie spesifieke saak,” het Theron bygevoeg.

Nee Ds Marinus Theron, ons kan nie nou afstap van hierdie spesifieke saak nie. Julle het net gepraat. En ook nog gepraat. Dit is onaanvaarbaar. Julle is veronderstel om te verhoed dat die kerkgebou vir Palestynse propaganda gebruik word, ongeag of dit met edele bedoeling is. Praat is nie genoeg nie.
“Lebanese banke weier tans alle bankoorplasings vir Palestyne” – ja, want banke is bekommerd dat sulke transaksies verbind kan word met Hamas of Hezbollah. ‘n Mens sou verwag dat die ASM ook sou bekommerd wees, maar helaas nee, die ASM is bloot gelukkig om ons geld weg te gee sodat hulle deugseine kan uitstuur.
So. Daar is dan nou geen, maar geen, mense in ons eie land,op ons eie deurdrumpel wat hulp nodig het nie? Regtig? Galasiers 6: 10.
Uit dieselfde vergadering het ons berig oor Charl van Rensburg wat namens die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) terugvoer gegee het oor die impak van die R1, 5 miljoen wat jaarliks (aan die einde van 2025, 2026, 2027) aan die KMDR beskikbaar gestel word “vir die onmiddelike aanspreek van maatskaplike behoeftes soos deur daardie organisasies geïdentifiseer.”
Die KMDR is ’n nasionale netwerk van geloofsgebaseerde organisasies, wat vanuit die barmhartigheidsinisiatiewe van die NG Kerk ontstaan het. | Die berig is hier te lees: https://kerkbode.christians.co.za/2026/02/26/noodleniging-binne-sa-daar-is-goeie-stories-om-te-vertel-kmdr/