Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Eerw dr Elias Monhla het ná ds Jan Lubbe (links) opgetree tydens 'n sessie oor eenheid tussen die NG Kerk en die VGK. Foto's: Le Roux Schoeman

‘Goedkoop versoening rem eenheidsgesprek tussen VGK en NGK’

Sonder al vyf R’e is versoening “goedkoop”, het prof Leepo Modise van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) gesê by ’n ekumeniese konferensie in Durban waar onder meer die NG Kerk se toewyding tot ’n proses van eenwording tussen die twee kerke gepeil is.

“Die vyfde R is restitusie,” het Modise gesê in ’n lesing getiteld “Belhar, the poor and the voiceless”. “Só wys jy die gewig van die apologie en druk jy dank uit vir versoening.”

Restitusie was ’n prominente tema onder ’n aantal VGK-leiers se bydraes by dié onlangse geleentheid, wat ook die VGK se 30ste bestaansjaar herdenk het. Die 5 R’e waarna Modise verwys (Reality, Responsibility, Repentance, Reconciliation en Restitution) figureer meermale in dié Unisa-akademikus se navorsing.

“Versoening sonder ander komponente van herstellende geregtigheid is goedkoop versoening wat lei tot strukturele geweld,” het Modise gesê aan die gehoor van sowat 60 in ’n hotelraadsaal aan die wal van die Umgeni-rivier. “Daarom is dit nodig om rondom die tafel te sit met die NG Kerk en hulle by herhaling te herinner aan dit wat nog nie betaal is nie en onafgehandelde sake. Om hulle by herhaling te herinner dat ons moet verenig sodat ons in dieselfde konteks en ruimte kan sit en die behoeftes van die armes kan identifiseer as ’n verenigde kerk … nie as satelliete wat van ver af kyk nie.”

Lubbe aan die woord

VGK-leiers van regoor die land, asook ds Jan Lubbe, die moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, en verskeie “ekumeniese vennote” uit Europa was deel van die geleentheid wat gekenmerk is deur hoflike indien prontuit gesprek oor ’n verskeidenheid van aktuele en teologiese onderwerpe.

Lubbe het gesê hoewel hy as “eerste beskuldigde” agter die podium inskuif, hy dankbaar vir die uitnodiging is. “Ek is jammer om te sê, daar is baie rassisme in die NG Kerk, want daar is ook baie rassisme in Suid-Afrika. Die spook van apartheid en die spook van rassisme spook nog by ons in ons land en ons kerke. Ek is jammer om dit te sê. Wat ons kort is ’n hartsverandering. Bekering.”

Dr Eugene Fortein.
Prof Leepo Modise.

‘NGK verkoop dan eiendom terug aan VGK’

Senior VGK-leiers soos eerw Motlalentwa Betha wou weet of die NG Kerk ernstig is met eenheidsgesprekke en het genoem dat hy al deur die jare leiers sien kom en gaan het en opmerk hoe die geesdrif daarvoor kan taan. Ander, soos PMK Tladi van Polokwane en leier van die VGK se Christian Men Ministry, het gevra of dit nou “dieselfde NG Kerk is wat fondse onttrek het toe die VGK gevorm is … en wat hulleself die moederkerk noem en ons los om die kinderkerk te wees nie?” Eerw Boitumelo Senokoane het oor grond en eiendom gepraat. Hy het gesê namate swart lidmate skuif uit woonbuurte waarheen apartheid hulle gedwing het, moet hulle kerkgeboue terugkoop by die NG Kerk. “En dit is normaal … dis business as usual,” het hy verontwaardig opgemerk. “Dat ons moet grond terugkoop by hulle. Grond wat hulle verniet gekry het van die regering of namens ons besit het (gedurende apartheid) … Nou moet ons dit terugkoop van hulle.” Senokoane wou weet of die VGK nie regstappe teen die NG Kerk moet oorweeg oor die eiendomskwessie nie.

‘Min energie vir eenheidsgesprek’

Lubbe het tydens sy spreekbeurt op Vrydag 12 April onder meer vertel hoe hy as kind op Kuruman by die destydse NG Sendingkerk (waaruit die VGK weldra sou groei) gasvryheid bewys is tydens ’n besoek saam met sy pa. Oor die groter trajek van die eenheidsgesprek met die VGK, het die Vrystaatse kerkleier gesê die fokus op “die gay-vraag” het die NG Kerk die afgelope paar jaar “na binne gedraai” en gesprekke oor eenwording het gevolglik minder “energie” gehad. “Dis geen verskoning nie,” het hy bygevoeg.

LEES OOK | VGKSA op 30 jaar: Dié verjaardag is meer as ’n wekroep tot groter eenheid

Prof Christina Landman, een van die sprekers by die ekumeniese konferensie wat die VGK vanjaar in Durban hou – ook ter viering van hierdie denominasie se 30ste bestaansjaar. Foto’s: Le Roux Schoeman
In haar ontleding van “ekstreme regsgesinde bewegings in Europa” het dr Susanne Bei der Wieden onderskei tussen Regse populisme, Regse ekstremisme en die Nuwe Regse Beweging (New Right). Foto’s: Le Roux Schoeman

Prof Christina Landman het op haar beurt daarop gewys dat daar tog vordering was. Die tussenorde van 2015 het dit moontlik maak vir gemeentes soos Caledon, Tulbagh, Stellenbosch en Bredasdorp in die Wes-Kaap, asook gemeentes in Gqeberha in die Oos-Kaap en in Noordelike Sinode gemeentes soos Nellmapius (VGK) en Lynnwoodrif (NGK) en Pretoria (NGK) en Melodi ya Tshwane (VGK) en ander om tot ’n groot mate te verenig, het sy gesê. Maar verdere eenheidsgesprekke het “prakties tot ’n stilstand gekom”, volgens haar. Landman het daarop gewys dat albei kerke in interne stryd gewroeg is.

‘Ons is ver van mekaar’

Modise het gesê die twee kerke is tans “aparte entiteite” en ’n beeld van wedersydse vervreemding geskep. “As hulle jou sien, sien hulle jou net as ’n nuwe swart elite wat bevoordeel is deur die korrupte demokratiese Suid-Afrika … So ons moet ’n bietjie dieper gaan. Die restitusie waarvan ons praat, moet deel wees van herenigingsgesprekke … Ons is ’n bietjie ver van mekaar.”

Om ’n verwysing na onbetaalde apartheidskuld te verduidelik, het Modise die beeld gebruik van ’n fiets wat ’n tyd lank gesteel en daarna terugbesorg is. “As ek ’n fiets het wat ek elke dag gebruik om mee werk toe te gaan (en jy vat dit). En dan, wanneer ons versoen, gee jy my fiets ná tien jaar terug, maar jy tel nie hoeveel ek verloor het deur nie daai fiets te hê nie, dan aanvaar jy nie verantwoordelikheid nie,” het Modise gesê.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top