Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tussenin | Zander van der Westhuizen: Gelykenis van die prater en die grassnyer

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Sy het grootgeword in ’n gemeente iewers ver van die stad af. Dit was ’n ander era.

Sondae het hulle die liedere se nommers in ’n houtbord, links en regs van die hoë kansel, ingeskuif. Die koster moes vroeg opstaan om die swart en wit letters mooi uit te pak op die konsistorie se tafel. Die orrelis se handskrif was netjies en duidelik. In dié gemeente is daar net Psalms en Gesange gesing. Noukeurig het hy die ooreenstemmende liednommers uitgesoek en geplaas onder die onderskeie kolomme se opskrifte.

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Ons móét kan speel en verbeel

Sy het saam met haar gesin elke week op dieselfde plek gesit. As sy beweeg het tydens die diens het haar pa haar geknyp. Sy kon nie altyd die dominee se hoë woorde mooi verstaan nie, maar sy het geweet dinge was eenvoudig. Daar was ’n God en ’n duiwel. God was goed en die duiwel was sleg. Alles in hierdie lewe wat sleg was (soos vloek, drank, vry, seks, ongelukke en siekte) was van die duiwel af. Ons taal, ons volk, familie, goeie maniere en korrekte optrede was goed. Dit was van God af.

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Toe vra hy, May I pray for you?

Sy was nooit seker of ouma se pampoenkoekies met die soet karamelsous en oupa se bak roomys na Sondagmiddagete by die familie goed of sleg was nie. Die dominee het dit laat klink asof alles wat té lekker was ook van die duiwel af was. Maar sy het besluit sy gaan haarself nie aan die moeilike vrae van die lewe steur op so ’n jong ouderdom nie. Dit is vir wanneer sy eendag groot is.

Nou is sy groot en sy sit voor haar huidige dominee in sy kantoor by die kerk.

Sy is ongelukkig oor baie dinge in hierdie stadsgemeente. Hier is nie meer maklike antwoorde wat gepreek word nie. Die liedere is vreemd en soms in Engels. Die kinders sit nie stil nie en die poppekas in die erediens is onvanpas. Die nuwe instrumente is ongewyd en sy is redelik seker haar ou dominee sou gesê het dit is ook iets uit die bose.

LEES OOK: Tussenin: Zander van der Westhuizen oor ‘Let them’ en ‘Let me’

Intussen wonder sy steeds hoekom die Here haar man weggeneem het – of dalk was dit die duiwel. Sy moet dit van haar hart af kry. Dit is nie dat sy onwillig geraak het om te dien nie; dit is net dat sy nie meer verstaan hoekom sý nog tee moet skink terwyl die jong ma’s met hulle oë op selfone sit, kinders rondry, en – so lyk dit vir haar – nooit so hard werk soos haar generasie destyds nie.

Dit is ook vir haar sleg dat dominees vandag nie meer netjiese pakke aantrek wanneer hulle preek nie. En sy hoor by haar vriendinne in die aftree-oord dat die nuwe tipe professors ook nie meer glo in ’n klomp dinge nie. Daarom maak dit vir haar sin dat die predikante van vandag so sleg opgelei is.

LEES OOK: By Woordfees 2025 | Zoid Psalm (vir elektriese kitare met orrelspel)

Terwyl sy aanhou om oor nog baie dinge te kla, vang Johannes, wat voor sy venster gras sny, die dominee se oog. Johannes het vir alle praktiese doeleindes grootgeword in hierdie gemeente.

Sy vrou is onlangs oorlede. Hy het daardie dag kom hulp vra met sy begrafnispolis wat die kerk vir hom uitgeneem het. Terwyl die dominee hom help, vertel Johannes hom hoe dankbaar hy is vir hierdie kerkfamilie. Hy vertel hoe hy hier hulp kry en tuis voel. Hy is nou alleen. Sy kinders is lankal uit die huis. Dit was net hy en sy vrou. Nou is hierdie sy laaste tuiste.

LEES OOK: Woede: Riglyne vir predikers en gelowiges

Johannes se lewe is eenvoudig. Die Here seën Hom met wat hy nodig het en waar hy kan help, help hy. In hulle informele nedersetting help hulle mekaar as iemand in die tuin werk of iets aan die huis gedoen moet word. Dit is nie soos bure langs die kerk wat kla oor alles en nooit wil help nie.

Die dominee hou Johannes vas terwyl die trane oor sy wange rol. Hulle huil saam.

“Dominee! Luister jy wat ek sê?” Skielik is die dominee se gedagtes terug by die onmiddellike situasie in sy kantoor.

“Ja, tannie. Ek luister.”


Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top