Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Oom Sidney lê in ‘n klein saal van die harthospitaal in Sunnyside. Hy is gekoppel aan ‘n klomp masjiene en die kussing onder sy kop lyk vir my ongemaklik. Hy was ’n diep, Engelse, opregte gelowige. Daai tipiese Anglikaanse of Metodiste Christen wat alleenlik liefde met alles wat hulle doen uitstraal.
LEES OOK: Tussenin: Zander van der Westhuizen oor ‘Let them’ en ‘Let me’
Ons gesels. Tussenin is verpleegsters besig om oom Sidney vir teater voor te berei. Die saal is besig. Alarms gaan af en mense praat hard. Ek kry die idee hulle gaan hom binnekort kom haal vir sy groot hartoperasie. Ek bid vir hom. Dat die Here hom deur hierdie operasie mag dra en sy hand van genesing oor sy herstelpad sal hou.
Na my “amen” los ek sy skouer waarop my hand was, maar hy lig sy arm op en sit sy hand op myne. Hy begin bid. Vir my. Dit vang my omkant. Niemand bid in persoon vir die dominee nie. Hy bid ’n diep, opregte kort gebed waarin hy vir die Here vra om ook by my te wees.
LEES OOK: Tussenin: Zander van der Westhuizen oor die krag van oomblikke van konneksie
Sy familie vertel my later hoe hy sommer in ’n winkel na iemand wat hartseer lyk sou stap. Na ’n kort gesprek sou hy vra: “May I pray for you?”. Dan volg ’n kort gebed (net daar in die winkel) en iemand se lewe is diep geraak.
Elize het na ’n klein woonstel van ’n plaaslike aftree-oord getrek. Die eerste vloer se gang is lank. Aan die einde, op linkerkant, is haar deur. Ek klop en stap sommer in sodat sy nie hoef te probeer opstaan nie. Sy sukkel deesdae om te loop. Ons kuier en vertel eers vir mekaar wat alles gebeur het sedert my vorige besoek. Tussenin bring haar versorger vir ons koffie. Ons praat oor haar paar geloofsvrae en voor ek moet gaan vra ek of ek vir haar kan bid.
Ek skuif vorentoe op die stoel en vat haar hand. Ek bid vir haar, haar familie en haar bekommernisse. Ek eindig met “amen” en sy laat nie my hand gaan nie. Dit is haar beurt om vir haar dominee te bid. Sy bid vir my vir rustigheid, genoeg slaap en die wete dat Hy altyd by my is. Sy bid ook vir Maartje en die kinders. Sy dra die gemeente aan die Here op en die ander kollegas en leiers.
“May I pray for you, sir?”
Ons het lekker geëet in Hazelwood by my gunsteling pizzaplek en ek wil die gaste uit die Kaap die mooi nuwe wandelpad wys. In die aand is dit ’n bekoring met al die liggies, die mooi muurskilderye en die versierings teen die nuwe mure.
LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen oor die vreemde vrede van nie te weet nie
Tussenin die geraas, gesels en vinnige groet van bekendes keer ’n jong man my voor. Ek skat hom so 22 jaar oud. Die gaste ignoreer hom en stap aan. Hulle vermy liewers die situasie met die potensiële ongemaklike godsdienstige gesprek wat bestuur sal moet word. Gewoonlik sou ek ook.
“Yes, you may,” sê ek.
Die jong man bid ’n kort gebed (waarvoor ek dankbaar was) en dra my aan die Here op. Na die gebed vra ek hom uit. Hy kom van Madagaskar en is tans op ’n tipe “diensjaar vir Christus”. Hulle doen vir ’n paar maande uitreikwerk in verskillende lande en vertel vir mense van Jesus. Hy wys my hulle sendingorganisasie se materiaal en gesels nog ’n rukkie.
“Thank you, sir.”
Ek is nie mooi seker hoekom hy vir my moet dankie sê nie: “I should thank you.”
“You are the first person tonight who allowed me to pray for them.”
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

Ek sorg dat ek ‘n bottel drinkwater naby het, want ek bewe so groot ek is met die plan in my kop om, op die Ds, wat vir my vrou, onder die kanker byl, kom bid, se amen sommer net weg te val en vir hom te bid. Verbasend laat hy dit, seker meer uit beleefdheid as iets anders, verby gaan. Ek bid bloot vir wysheid, genade en krag vir hom. Hy is mos darem net ‘n mens. Na my amen groet hy vinnig en by die deur hoor ek hy sê, ‘Whatever’. en daar gaat hy. Met of sonder die seën van my bewerige gebed.
Hoe lekker om ‘n stukkie te lees waar mense vir mekaar omgee, en nie net wil ontvang nie, maar ook wil gee.
Sjoe, Christiaan. Dis sekerlik nie verteenwoordigend van predikante se optrede nie. Ek vra namens ons almal verskoning. Jou gebed vir wie ookal is kosbaar vir die Here én vir die persoon vir wie jy bid.