Daar is ’n paar dinge wat my behoorlik laat sug wanneer dit by WhatsApp-boodskappe kom: lang, onnodige stemboodskappe wat maklik eerder ’n getikte sin kon gewees het. Mense wat my mening vra oor ’n 500-bladsye-boek van ’n onbekende “Christelike denker” – sommer in PDF aangeheg – of ’n 75-minute video oor die eindtyd wat ek “net gou moet kyk” en my teologiese opinie oor gee.
En dan, natuurlik, die toppunt van WhatsApp-etiket: die ywerige aanstuur van video’s en selfoonprentjies vol Christen-clichés wat al hoeveel keer rondgestuur is.
Dít gebeur veral tydens krisis of verlies. Mense weet nie eintlik wat om te sê nie – dan stuur hulle generiese verslete beeldspraak of algemene uitdrukkings aan:
“God weet altyd beter.”
“Hierdie maak jou ’n beter mens.”
“God laat alles ten goede meewerk.”
“Alles gebeur vir ’n rede.”
’n Paar jaar terug woon ek ’n skryfkursus van Marita van der Vyver by. Een oggend se skryfles gaan oor “seks en sonsondergange”. Marita verduidelik dat dit van die moeilikste skryfwerk vir ’n skrywer is – omrede dit so maklik in clichés verval. Skrywers spandeer min tyd daaraan of raak lui en dan val hulle terug na geykte beskrywings wat oor en oor al gebruik is.
Clichés is lui skryfwerk en die aanstuur van ’n teologies-verarmde uitdrukking aan iemand tydens ’n krisis help niemand nie.
Om eerlik te erken dat jy nie altyd die regte woorde het nie, is soms die mees helende bydrae wat jy kan lewer aan iemand wat deur trauma gaan.
Een oggend – tussenin vergaderings en gesprekke – mis ek aanvanklik my foon se aanhoudende gelui. My sekretaresse roep my: “Maartje soek jou dringend.” Toe ek my foon in my hand neem sien ek ons naby-vriendin het my drie keer probeer bel. Ek besef dít is wat my vrou onder my aandag wou bring en bel dadelik ons vriendin terug.
“Jy moet kom. Jou vriend is dood.”
LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Oor die profesie van pizzaverkope
Een van die moeilikste oomblikke in ’n mens se lewe is wanneer jy moet hoor jou vriend is oorlede.
Eers die skok om sy liggaam huis toe te bring ná ’n hartaanval op die drafpad. Daarna die byna onmoontlike taak om self die nuus by hulle vier kinders – versprei oor drie verskillende skole – uit te kry, voordat ’n WhatsApp-boodskap met: “Ons is só jammer om te hoor,” by een van hulle opdaag voor ons.
Ek en my vriendin spring in my bakkie. Eers die laerskool. Toe die eerste hoërskool.
Die hoof by dié hoërskool wag ons by haar kantoor se deur in. My moed begewe my. Hoe sê ek vir ’n kind wat voor my grootgeword het haar pa is oorlede? Die hoof kyk my in die oë en omhels my – die vreemdeling – met: “Jy is seker die broer?” Sy hou my vas en ek sê half laggend deur die trane: “Ek is eintlik die dominee.”
“Dit lyk nie vir my of jy vandag die dominee is nie.”
LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Gelykenis van die prater en die grassnyer
Sy neem leiding van die situasie. Sy kan sien hierdie predikant kort ook vandag liefde en hulp. Sy dra tee aan (met baie suiker) en hou ons vas – die kinders, my vriendin en vir my. Ons sit op die lang bank in haar kantoor terwyl sy seker maak die derde skoolhoof beperk solank die deurgee van informasie aan die seuns. Ons neem net eers ’n oomblik voor ons die nuus weer moet breek.
Woorde was min. Geen clichés – net ’n opregte lees van ’n moeilike situasie deur iemand met wysheid en goeie emosionele intelligensie.
Later die aand stuur die skoolhoof ’n WhatsApp: “Die Here is naby dié wat hartseer is. Jy is spesiaal.”
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
