Erns Grundling het op sy televisieprogram gesê daar is perde op Las Herrerías voor die klim tot bo by O Cebreiro, maar toe ek die dag daar kom, is daar geen perd in sig nie.
Dit was nog pikdonker in die herberg dié oggend toe ek agterkom my gunsteling-donkerbril is weg. Ek wou nie die res van die stappers wakker maak deur die slaapsaal se ligte aan te sit nie. Ek het gesoek met my flits waar ek kon. Óf hy is gesteel, óf ek het hom misplaas – nietemin het die dag nie goed begin nie.
LEES OOK: Om nee te sê vir lui wysheid en Christen-clichés
Die stapdag na O Cebreiro is die tweede moeilikste op die hele Franse Weg van die Camino de Santiago. Slegs die klim oor die Pyreneë-berge aan die begin is nóg meer uitdagend. O Cebreiro is ’n historiese dorpie geleë in die Ancares-berge in Galisië, in die noordweste van Spanje, op ’n hoogte van ongeveer 1 300 meter. Dit staan bekend as die eerste Galisiese dorpie op die Camino Francés, en veral vir die uitdagende, dikwels mistige bergpas.
Na sowat 140 km en ses dae op die pad was my bene moeg. Ek was alleen op die roete vanoggend. My stapmaat, Francois, het die nóg moeiliker Dragonté-roete aangedurf.
Die mooi omgewing omvou my. Die sonsopkoms laat die bome en valleie al hoe duideliker word – maar dit is die eerste dag wat die Camino my begin vang. Ek en die Here gesels lank. Dalk was hierdie té veel van ’n uitdaging vir my. Miskien nie die slimste besluit nie. Ek voel sommer moedeloos oor die hoeveelheid kilo’s wat nog voorlê. “Maar darem gaan ek die laaste moeilike afstand kan perd ry,” dink ek.
LEES OOK: Oor die profesie van pizzaverkope
Teen twee-uur is dit vyf-en-veertig grade Celsius. Die laaste skof vanaf Las Herrerías na O Cebreiro is ’n uitdagende roete van sowat 9 km, met ’n hoogtewins van ongeveer 600-700 meter. Dit volg steil en rotsagtige paadjies teen die berg op.
Ek vra rond. “Daar is geen perde vandag nie,” sê die restauranteienaar waar ek stop vir middagete. “Jy sal moet gou maak as jy voor donker ’n bed wil kry.” Bo-op die berg is daar net ’n munisipale herberg met 120 beddens. “First come, first served.” Anders moet jy in die donker aanstap tot by die volgende dorp vir ’n slaapplek.
Teen vieruur steek ek uiteindelik die provinsiale grens na Galisië toe oor. Die inspanning word beloon met asemrowende uitsigte. Ek stop by die klein restaurant naby die bo-punt en sit my stapstokke neer. Sopnat-gesweet en met beperkte Spaans bestel ek eers ’n aqua grande en toe ’n cerveza grande!
Tussenin stuur ek ’n boodskap huis toe: “Ek het dit gemaak,” net om uit te vind O Cebreiro is nog twee kilometer verder. Ek gesels weer lank met die Here oor my lewenskeuses.
Ek sit uiteindelik ’n uur later my stapsak op bed 114 neer en hoop my vriend Francois het die Dragonté oorleef – betyds genoeg om ’n bed te kry. Langs my sit ’n Chinese oom en tannie wat glimlag, asof hulle die storie van my dag in my oë raaklees. Met ’n stille begrip groet hulle my in die Camino se gedeelde taal: “Ultreia” – hou aan, een voet voor die ander, vorentoe.
Ek en Francois praat nie veel nie. Ons eet dankbaar die kos voor ons en probeer ons voete se gevoel weer vind. Die son sak uiteindelik op hierdie dag. Die uitsig oor die berge asemrowend mooi.
Daar is dae in hierdie lewe wanneer dit net jy en die Here op die pad is. Dae sonder buitehulp, met min in die rugsak. Dae waarin alles wat jy het, binne jou lê – gestroop van die krukke en hulpmiddele waarop jy so maklik steun. Jy bevind jou op hierdie roete – partykeer as gevolg van jou eie besluite, partykeer sonder dat jy dit gekies het.
Nietemin het jy net een keuse: Ultreia.
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
