Ds Nico Swart beoog om van 30 Maart tot 2 Mei 2026 ’n plaaslike pelgrimstog af te lê wat hom sal vat van Jeffreysbaai deur Baviaanskloof tot by Uniondale en dan tot by Mosselbaai en uiteindelik tot by Agulhas in 32 dae. Dit sal hom ook die persoon maak wat die grootste afstand afgelê het op die Pelgrimstog van Hoop se netwerk van roetes wat oor die jare uitgebrei en verbind is. Kerkbode wou by hom weet …
Hoekom pak jy hierdie tog aan?
Ek wou al lankal die Camino na Santiago gaan stap en toe ek van ons eie Pelgrimstog van Hoop hoor in die mooiste land in die wêreld, en die moontlikheid om 800 km aaneen te stap, het ek begin droom om dίt eerder te stap om vir myself nuwe hoop te genereer en miskien ook vir andere. Ek het vanjaar 30 dae sabbatsverlof, ek is nou 20 jaar ’n leraar in Skuilkrans-gemeente en word 60 jaar oud.
Die afgelope ses jaar is ek deur groot fisiese en emosionele uitdagings nadat ek eers hard aarde toe gekom het (letterlik en figuurlik) met my bergfiets en toe ’n skouervervanging moes ondergaan.
LEES OOK: Besoek die amptelike webwerf by Hopecamino.co.za
Toe het my verkalkte aorta-hartklep toegegaan en moes vervang word. Twee jaar later moes die operasie herhaal word en toe groei daar infeksie op daardie klep. Aan die begin van verlede jaar is my hartklep toe die derde keer vervang. Die Here het my lewe gespaar en nou wil ek self aarde toe kom en stap en luister wat Hy verder met my lewe wil doen in die bediening en daarna. Iemand het gesê dat ’n “sabbatical is to slow down time and to fall in love again.”

Wat is jou grootste kommer en grootste hoop vir die pelgrimstog en wat sê diegene met wie jy daaroor gesels het as jy dit uitspel?
My grootste kommer is dat my voete gaan blase kry en dat my knieë dit nie gaan hou nie. My hart is mooi gesond na meer as ’n jaar se rehabilitasie en die kardioloog en torakschirurg wat my in Mosselbaai behandel het, het vir my die groenlig gegee.
LEES OOK: Ontmoetings langs die pad wys iets van die pelgrim se etos: oop vir die oomblik, oop vir ander
Die meeste mense wat van my poging hoor, is opgewonde saam met my, veral die leiers en organiseerders van die verskillende roetes wat ek gekombineerd gaan stap. Hulle positiwiteit en hulpvaardigheid gee my baie hoop. Ek hoop ek kan die pelgrimstog voltooi en dat met my sal gebeur wat moet gebeur. Iemand het ook op ’n keer gesê: Aanvanklik stap jy die pelgrimstog en later “stap” die pelgrimstog jou.

Wat is die mees ingrypende ervaring wat jy al ooit gehad het en wat het dit so besonders gemaak?
Behalwe vir die drie opehartoperasies waarin ek God se groot genade beleef het, veral ook deur die ondersteuning van my vrou en kinders, talle vriende en gemeentelede, en wonderlike dokters en verpleegkundiges, sou ek sê die jaarlikse uitreik van ’n groep jongmense, gesinne en ouer lidmate van ons gemeente na dogtergemeentes in Mosambiek om wedersyds in ons geloof versterk te word.
Die radikale gasvryheid en blydskap van die armes, die jubelende lofprysing sonder groot orkeste, die vryheid van hulle eenvoud, tref my elke keer baie diep. Ons noem dit nie meer ’n uitreik nie, maar ’n inreik, ’n pelgrimstog. Ons ontvang meer as wat ons kan gee.
Baie van ons leef omtrent agter lessenaars en voor skerms. In jou ervaring, watter unieke moontlikhede lê daar in iets eenvoudig soos baie ver stap?
Jy hoef nie topfiks te wees om te begin stap nie. Ek dink baie van ons raak met die jare al hoe meer onfiks en styf deurdat ons so baie sit. Die meeste van ons kan gaan stap. My rehabilitasie na die hartoperasies was om vir 10 minute stadig te gaan stap elke dag vir die eerste week en daarna elke week ’n bietjie verder. Nou wil ek probeer om gemiddeld 25-30 km per dag te stap vir 32 dae lank. Ek kan nie regtig daarvoor voorberei nie. Maar die goeie nuus (en my hoop) is dat jy na so vyf dae se stap “ingestap” word, dws jy word stapfiks terwyl jy die pelgrimstog stap en later deur die pelgrimstog gestap word. Om te stap is in ’n sekere sin ’n soort meditasie. Jy haal dieper asem, jou liggaam ontspan en jou gedagtes sit op loop. Jy sien die bome, hoor die voëls, voel die wind, ruik die natuur, en word stil. En dan kan die Gees met jou praat.
Ons leef in ’n mediabemiddelde wêreld wat sommige van ons dubbelsinnig laat oor al die selfoonkameras en sosiale mediablaaie waarvan ’n mens nooit ontsnap nie. Hoe dink jy hieroor en watter voorneme het jy rondom iets soos “digital detox” op hierdie staptog?
Hierdie een is nogal moeilik vir my om te antwoord, aangesien ek met my selfoon kort videos moet neem en aanstuur. Ek weet nie tot hoe ’n mate ek van sosiale media kan ontsnap nie. Ek sal nog hieroor moet dink.
Noem twee ander goed wat jy met hierdie tyd sou oorweeg om te doen indien die stap van hierdie pelgrimstog nie ’n opsie was nie?
Ek en my vrou wil graag nog die strande van ons land tydens laaggetye stap en het dit sterk oorweeg om dit tydens hierdie sabbatsverlof te doen. Ons sou natuurlik nie by al die strande kon uitkom nie, maar ons sou darem ’n begin kon maak. Anders het ek dit oorweeg om met my bergfiets ’n toer aan te pak. Ek het in 2017 met my padfiets van Pretoria af Gordonsbaai toe gery en in pastorieë by kollegas tuisgegaan. Ek het omtrent elke aand braaivleis geëet en wonderlike dominees leer ken. Na die 11 dae op my fiets het ek die Pelgrimstog van Hoop vanaf Kaappunt deur Stellenbosch tot by Agulhas gestap. Dit was vir my ’n wonderlike belewenis. ’n Ander moontlikheid is om my tent te vat en by een van die gemeentes in Mosambiek te gaan tent opslaan en net tussen hulle te gaan wees en Shangaans te leer praat.
