Daar strek meer as 200 km tussen die kerkgebou waar Heléne Meissenheimer haar stapstewels op 2 Oktober aantrek en die kerkgebou waar sy dit weer tien dae later uitskop. Lees onder die storie tussenin.
Gou oor Via Baviaans-staproete:
- Is dit veilig? Pelgrimstog van Hoop het al by die 2 000 stappers gehad en nog geen misdaadvoorvalle nie. Soos op die ander roetes stap ’n mens in groepe van so vier tot sewe. Die netwerk van herbergiers kyk ook uit vir hulle rooihoedgaste en sal uitry om te help indien nodig.
- Hoe fiks moet ek wees? Wees gereed om 20 km en selfs meer per dag te stap.
- Wat van WiFi? Die meeste herberge het gratis internetsein (MTN en Cell C was meestal sterker as Vodacom). Langs die pad is sein wisselvallig.
- Wat kos dit? Soos die meeste ander PvH-roetes is R1 000 per persoon per dag die mikpunt. Dit sluit in oornag (beddegoed en handdoek) met aandete en ligte ontbyt (gewoonlik koffie/tee en beskuit). Soms kry ’n mens ’n lekker eetgoedpakkie, ander kere is daar ’n brunch-stop langs die pad.
- Wanneer kan ’n mens stap? Die staproete is oop vir besprekings vanaf 2026 tussen middel-Maart tot middel-November. Hou in gedagte dat dit in die winter bibberkoud word en somerdae diep in die 30 grade kan draai. Vir meer inligting en besprekings, e-pos: viabaviaans@gmail.com of besoek die webblad: hopecamino.co.za
Só ’n ‘spinneweb’ ’n wonderlike gedagte
Dit is ’n wonderlike gedagte dat mense hulle siele kom vul en Baviaanskloof beleef. So vertel Boetie Terblanche, een van die herbergiers op ’n nuwe sewende staproete waarmee die Pelgrimstog van Hoop (PvH) hulle netwerk van staproetes wil uitbrei. Die 77-jarige boer noem wat hom ook opgewonde maak is die geleentheid vir sy geliefde “kloof” se mense om deel te word van hierdie stapinisiatief se netwerk van mense wat al wyer uitkring “soos ’n spinneweb”.
Hy is een van die kloof se mense wat in Oktober reggestaan het vir ’n klein verkenspan wat getaak was om die sowat 211 km stapgedeelte van hierdie nuwe staproete vanaf Jeffreysbaai via dié versteekte kloof tot in Uniondale te ‘recce’.
Pelgrimstog van Hoop se ‘besigheidsmodel’
Pelgrimstappionier dr Frederick Marais het vroeg al genoem op hierdie roete is meer op die spel … slaag Via Baviaans die toets dan word dit moontlik om, in aansluiting met nog twee PvH-roetes (Tuin en Ligtoring), ’n 800 km camino op eie bodem vanaf Jeffreysbaai tot by Kaap Agulhas te kan stap. ’n Eerste vir Suid-Afrika.
By die 2 000 pelgrims het al gestap op een of meer van die ses staproetes wat 1 900 km van die Kaap se mooiste dele deurkruis. Hy sê dit is iets wat hy nooit gedroom het sou kon realiseer 12 jaar terug toe hy, geïnspireer deur sy ervaring van die Spaanse Camino de Santiago, saam met ’n paar ander die eerste staproetes na Kaap Agulhas begin toets het nie.


En dit danksy ’n besigheidsmodel geskoei op vertroue. Pelgrimstog van Hoop steun vir vier van hulle roetes op gemeentes om as plaaslike agente dit volhoubaar te bestuur. Dit werk sover uitstekend, hoor ’n mens by deelnemers soos Gert Nothnagel, leraar van Herold-gemeente wat die Tuinroete hanteer. Hulle moes twee mense aanstel om met al die navrae en besprekings te help. Die verdienste uit die roete vloei ook terug na hulle gemeente en gemeenskap. So kon hulle een van hulle vervalle buitekerkies op Noll in ’n herberg omskep – en in die proses ontdek ’n uilgesin het nes gemaak in die dak!
Nou staan Malvena Carstens van Uniondale saam met Petrus, haar predikant/byeboerman, reg om saam met hulle gemeente deel te word van so ’n netwerk. Hierdie Klein-Karoodorp is reeds die beginpunt van die Tuinroete-been. Sy vertel elke keer as ’n groep stappers vertrek lui die kerkklok en mense van die dorp vertel haar dat hulle daarvan hou.
Hierdie vier het saam met dr Yolande Steenkamp van Hugenote Kollege van 2-11 Oktober die Via Baviaansroete gaan verken. Kerkbode het ook saam gestap.
Ons het ook gou agtergekom die Elders TV-reeks van Erns Grundling het die pelgrims se rooihoede iets gemaak wat mense herken. Meermale het mense langs die pad gestop en gesels omdat hulle die reeks gekyk het. Een klein seuntjie van Uniondale het selfs uitgeroep “Is julle van Elders op die tiewie?”

Oop vir beleef, oop vir enigiets
Dag 1 begin vroeg op 2 Oktober as ’n reënerige oggend op Jeffreysbaai. Ds Joe Janse van Rensburg en sy span het ons ingewag by die Kampuskompleks, een van die drie kerkgeboue van hierdie groot NG gemeente aan die Ooskus.
Elkeen kry ’n kospakkie, die kenmerkende rooipelgrimshoed en ’n paspoort. Een van sy spanlede, Salome Henning, gee ook vir elkeen ’n wit camino-skulpie. Sy het dit self op die strand opgetel. Op elkeen is ’n rooi kruisie geverf. “Weet Jesus stap saam met jou,” groet sy. Joe gee vir ons Matteus 11:28 uit die Message-vertaling as stilwordteks en lees daarna die verhaal van Jesus se stap saam met die Emmausgangers. “Mag ons oë ook oopgaan (Hom herken), God se werke sien, Hom herken in natuur, in mekaar …” sê hy voor ons brood en nagmaalwyn saam gebruik.
So kry ons ‘recce’ ’n spirituele inslag. Hierna sou elke dag begin met die lees van ons stilwordteks gevolg deur ’n uur se stap in stilte. ’n Ritme in pas met die etos van hierdie pelgrimmanier om die natuur en mense van die omgewing met jou voete te beleef. Om oop te wees vir enigiets om te gebeur.


’n Plek om jou oor te verwonder
Soos jy wegstap van Jeffreysbaai met grondpaaie tussen bees- en later wildsplase in, voel jy reeds asof jy ook wegstap van die besigwees van jou alledaagse lewe. Weg raak internetsein. Weg die gedreun van verkeer. Gou is al wat jy hoor die wind in die gras, bokmakieries wat sing en die vibrerende roep van bloukraanvoëls.
Deel van die etos op so ’n pelgrimstap is om jou omgewing te beleef. So het Marais dit vir my verduidelik: “Ons stap stadig. Indagtig (mindful). Ons woerts nie deur nie. Ons ruik die blomme, hoor die voëls en ervaar die landskap waardeur ons beweeg. Ons stap met ’n ingesteldheid van oop wees om te konnekteer met die mense wat ons raakloop …”
Natuurskoon is daar oorvloedig van en om dit met jou voete te beleef is net anders as om daardeur te ry. Dit is iets wat ons in die dae wat kom gereeld vir mekaar sê. Die Baviaanskloof sou ons immers later uitvind is een van die ‘hottest’ van biodiversiteits-hotspots met drie van die totale 34 in die wêreld wat hier voorkom. Dit is in 2004 tot ’n wêrelderfenisgebied verklaar. Sewe van Suid-Afrika se agt biome kom hier voor. Dit geniet ook wêreldwye erkenning as die tuiste van 300 voëlspesies. Ons het Knysna-loeries sien speel in die bome, ’n visarend hoor roep en iemand het sowaar ’n narina trogon of bosloerie gesien – iets wat blykbaar ’n rariteit is.

Ongelukkig mag ’n mens nie deur die natuurreservaat in hierdie wildernisgebied loop nie. Daar is buffels en renosters. Selfs fietsryers en motorfietsryers moet ligloop.
Dawson Ferreira, een van ons gasheerboere, moes ons in sy 4×4-bakkie oor hoë passe met slegte paaie neem. Halfpad deur het ons oorgeklim op sitplekke agterop die Toyota Cruiser waarmee toergids/meganikus Shelton Maarman mense die kloof se wonderwêreld wys. Hy werk vir Baviaanskloof Bewaria, ’n plaaslike nie-winsgewende vennootskap wat op verskillende maniere hierdie gemeenskap bedien. Een daarvan is wildbestuur. So sien ons ’n buffel en baie bobbejane (baviaans is immers Nederlands vir bobbejaan). By ’n bouvallige huisie het hy gestop en beduie dis waar hulle gesin gebly het tot hy 13 jaar oud was – toe kom die buffels en moes hulle trek.
Na hy ons by die westelike ingangshek afgelaai het, het ons so 5 km gestap na Pieter Kruger se gasteplaas, Zandvlakte. Die welige boomryke landskap lyk al meer na die Klein Karoo met aalwyne, wildedruif- en doringbome. Langs die pad sien ons ’n NG Kerk-bordjie wat wys na ’n netjiese spitsdakgebou en losstaande klok wat Frederick toets of dit lui. Dit is die wêreld van skrywer PH Nortje wat sy bekroonde Die wildedruif val oor die Baviaanskloof se groot vloed van 1916 geskryf het (waarin dieselfde kerkie se voorganger weggespoel het).
Soos Kruger, nog een van ons herbergiers, opgemerk het, die Baviaans met sy ryke geskiedenis wat miljoene jare terug loop is ’n plek waaroor hy hom verwonder.
‘Vandag het mense my hart volgemaak’
Malvena het een aand opgemerk, “vandag het mense my hart volgemaak”. Nuuskierig en oop wees vir luister is integraal deel van hierdie stapervaring se etos. Dit is dikwels die mense wat jy ontmoet wat jou ervaring van so ’n pelgrimstap grootliks verryk.
So het dit ons meermale geraak hoe mense in hierdie kloof, ’n plek van droogtes en vloede, dikwels uit niks of min ’n lewe moet maak. Op Rietvlei het Boetie Terblanche ’n ongebruikte opgaardam in ’n dubbelverdiepingslaapplek omskep en in die bekende Makkedaat-grotte op sy plaas van die gebied se eerste gastehuise.




Trevor Philander bestuur ’n padkafee in ’n gebou wat leeggestaan het op ’n gemeenskapsprojekplaas en skep so werk vir ses mense in ’n gebied waar werk so skaars is soos die winterreëns vanjaar.
Tussen dor kliprante het Vero Maganie ’n groen lushof van ’n tuin geskep waar sy selfgebakte roosterkoeke voorsit. Sy vertel op die naweek van die bekende Transbaviaans-fietstoer bak sy tot ’n 1 000. Haar droom is om ander wat minder het in die kloof te help. “Hier is ons soos familie,” sê sy.
So soos ons hart volgemaak is, het ons ervaar dat ons wil teruggee. Petrus het na ’n stilstap opgemerk hy het begin bid vir die plase en mense waar ons stap. Kort hierna word ons een oggend wakker met wapentuig en kanonne buite ons vensters. Die vorige aand het ’n weermagkonvooi by Vaalwater, dieselfde gasteplaas as ons, kom oornag. Ons het die vorige dag uit Baviaanskloof gestap/gery via Nuwekloofpas. So hoor ons hulle het verdwaal en was ook dieselfde pas af en toe terug daaroor. Skielik stel Yolande voor dat ons en hulle saam bid. Hulle was dadelik so bly oor die voorstel. Daar staan ons hand aan hand, sing Amazing grace, luister na die woorde van Matteus 11:28 en toe bid sy vir hulle vir vrede op hulle pad. Die ervaring het ons ligter laat stap die oggend. ’n Paar dae later het ons gesien die weermag het ook hieroor op hulle Facebookblad geskryf: “The moment was incredibly moving,” said Warrant Officer Class 2 Keobakile George Balatseng, the Warrant Officer in command of the convoy. “We serve the nation in uniform, and it was humbling to stand alongside civilians who serve in spirit. We felt a deep sense of solidarity.”

’n Sirkel voltooi
Die laaste drie dae stap ’n mens deur een van die plaaswyke van Uniondale-gemeente. Dis Klein-Karoowêreld met klipkoppies, skape, beeste en wildsplase. Hier hoor ons die Carstense het oor ’n warm Desember in Covid-tyd, toe daar al sewe jaar droogte was, hulle eie camino tussen plase gestap om boere te bemoedig. Sommige van hierdie selfde boere is nou herbergiers. ’n Manier van teruggee en dankie sê.
Elmarine Meyer is een van hulle. Sy woon op 82 nog op hulle familieplaas. Saam met twee ander kook sy vir ons ’n aandete en die volgende dag sit sy ’n spog-ontbyt voor. Voor ons op die tafel is gevulde eiers, tuisgebakte brood en konfyte met tussenin jasmyntakkies vir die mooi. “Dit het soveel beteken om julle hier te hê,” groet sy toe ons gaan.
So volg die hartlike gasvryheid ons al die pad tot op Uniondale. Met ons aankoms lui die kerkklokke en staan Elda van Eck reg om ons in te nooi binne die koel klipkerkgebou. Hier was en olie sy ons moeë voete (sommige met blase), dan steek ons elkeen ’n kers aan en volg haar tot voor in die kerk vir nagmaal.
Daar staan ’n tafel met ’n uitstalling van sommige van die terugvoer van stappers wat die Tuinroete geloop het. Een skryf: “Ai, hoe som ek nou die week op? Daar is nie woorde nie,” en ’n ander “Even die klippe straal liefde uit!”.
- Berig aangepas na publikasie.


Die staproete is op my buchet list… emmerskop lys
My eggenote , Elra , se suster Anna Lamprecht het baie jare die traporreltjie in die Kloof gespeel . Hul seuns Chris en Barend boer nog steeds in die Kloof en haar kleindogter , Jana Meyer, bedryf die BaviJAANS padstal in die Kloof . Wonderlike wêreld en wonderlike mense .