“Yes we need prayer!” klink dit op … Toe lees ds Gert Nothnagel vir ons – stappers en soldate – voor uit die Bybel en ons bid en sing saam.
Dié spontane oomblik van konneksie het vroegdag plaasgevind toe ’n groep soldate by dieselfde gasteplaas oorgeslaap as die groepie stappers waarvan Kerkbode vandeesweek deel is.
Ons stap die Pelgrimstog van Hoop se jongste roete. Ons bestemming: Uniondale. En die soldate vertel hulle is vanaf Potchefstroom na Oudtshoorn oppad. Later die oggend, toe hulle met weermagvoertuie verbydreun, het ons vir mekaar gewaai en hulle het toeters geblaas.
Hierdie oomblik wys dalk iets van die etos van die Pelgrimstog van Hoop, meen Frederick Marais. Wat bedoel hy daarmee? “Ons los die pad skoner as wat ons dit kry. Ons los net voetspore. Ons stap stadig. Indagtig (mindful). Ons woerts nie deur nie. Ons ruik die blomme, hoor die voëls en ervaar die landskap waardeur ons beweeg. Ons stap met ‘n ingesteldheid van oop wees om te konnekteer met die mense wat ons raakloop. Ons het respek vir hulle manier van doen en het nuuskierigheid om hulle stories te hoor en vind inspirasie daaruit te put. Ons gee ruimte dat die stap ook ’n spirituele reis kan wees.”

Ons staproete strek van Jeffreysbaai tot op Uniondale en met die skryf van hierdie berig te velde, is dit reeds die agtste stapdag. Daar is drie dae se stap oor voor ons die bestemming bereik.
Hierdie roete is deel van die Pelgrimstog van Hoop. Dit strek 260 km. Organiseerders het reeds twee besprekings ontvang vir volgende jaar. Meer inligting is op die webblad hopecamino.co.za of e-pos viabaviaans@gmail.com.
