Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

sáám - Elodi en Esmeralde
Élodi Grangier en Esmeralde Roks, Europeërs wat vrywilligerswerk in Pretoria se middestad gedoen het. Foto: Ernst Muller

‘As julle net kan leer om meer sáám te doen’

“Ek het verlief geraak op Suid-Afrika en sy goedhartige mense!”

So antwoord Esmeralde Roks, ’n 26-jarige verpleegsuster uit Frankryk, as ’n mens vra wat sy haar ma gaan vertel as sy terug is in Frankryk. Esmeralda en Élodi Grangier, haar Franse vriendin, het ’n paar maande lank vrywillige liefdesdiens in Pretoria se middestad gedoen.

’n Groot deel van die lokkrag van Suid-Afrika was dat Esmeralda se pa, Henry, nooit uitgepraat kon raak oor die land waar sy gesin van 1973 tot 1974 gebly het nie. Daarna het hulle teruggekeer Nederland toe waarvandaan hulle later Frankryk toe verhuis het.

Hoewel Suid-Afrika haar hart gesteel het, was al Esmeralda se ervarings nie positief nie. Daar was die dag toe ’n grypdief ’n kosbare hangertjie deur ’n motorvenster van haar nek af geruk het. Haar byna onmiddellike reaksie toe was:  “Ek weier om toe te laat dat skelms my belewenis van Suid-Afrika definieer”.

Kort voor haar vertrek terug Europa toe, voeg sy by: “Julle het die wonderlikste mense. Ons het soveel welwillendheid beleef, oral waar ons gaan”.

Élodi knik haar instemming.

Terwyl Élodi dienswerk by Tshwane Leadership Found-ation gedoen het, was Esmeralde betrokke by Pen se “Street Medicine”projek. Dié werk sluit basiese gesondheidsonderrig aan enkelmoeders in, weeklikse uitreike vanuit ’n mobiele eenheid, sowel as ure se stap deur die meer ongure strate van die stad, om hawelose mense te nooi om van dié dienste (insluitende MIV- en TB-toetse, medikasie en voorkoming) gebruik te maak. Sy het groot bewondering en waardering vir werkers wat minderbe-voorregtes jaar in en jaar uit op dié manier bedien.

Esmeralde frons. Daar is een ding wat sy nie verstaan nie, bely sy. “Waarom beleef so min Suid-Afrikaners dit wat ons soveel geniet het, naamlik om hartlik oor kulturele grense met mekaar saam te werk? Daar is nog steeds sulke wye afstande”.

Élodi sê iets in Frans. “Ja,” stem Esmeralde saam, en vertaal: “Dit lyk soms asof apartheid nooit regtig geëindig het nie,” en voeg by: “Dit is so ’n wonderlike land. As julle net kan leer om meer dinge sáám te doen.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top