Die Algemene Taakspan Regte (ATR) is besig om nog regsadvies in te win om te bepaal hoe hulle die appèlle teen die Algemene Sinode se besluite oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag moet hanteer.
Prof Johan van der Merwe, aktuarius van die Algemene Sinode, sê die meriete van die sinodebesluite is nie nou op die ATR se tafel nie. Die uitdaging is nou om die saak kerkregtelik korrek te bestuur.
Daar is reeds ’n handvol appèlle ontvang teen verskillende aspekte van die sinodebesluite. Daarby was daar korrespondensie, onder meer die brief van 65 teoloë, predikante, proponente en teologiestudente, wat beswaar maak daarteen dat die uitvoering van die sinodebesluite hangende die appèl opgeskort word. Daar is ook ’n appèl teen dié reëling ontvang.
Van der Merwe sê die handelinge van die sinode is op 13 Januarie gepubliseer. Dit laat 21 dae tot 3 Februarie vir kennis van nog appèlle. Daarna het appellante nog 21 dae tot 24 Februarie om die gronde vir hul appèlle in te dien. Die ATR het dan 21 dae tot 16 Maart om te vergader.
Die hantering van die saak sal verder by die ASM se vergadering van 14 tot 16 Maart in Kemptonpark bespreek word. Daar behoort dan duidelikheid te kom oor die pad vorentoe.
Van der Merwe sê die groot kwessie is of die uit-voering van die sinodebesluite opgeskort moet bly tot die volgende Algemene Sinode.
Hoe die ASM ook al besluit, sal daar dalk mense wees wat die saak in ’n hof sal wil laat toets. Daarvoor wil die ATR ook voorbereid wees, sê Van der Merwe.