Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Cas Vos van Pretoria skryf:
My en Bertie du Plessis se verhouding was soos sy inskripsie in DJ Opperman se Digters van Dertig “kollegialiteit van die woord”. Ons was geesgenote. Hy was die eerste persoon wat my aangemoedig het om te dig. Soms, Sondagaande na kerk, het ek en hy in ons pastorie gesellig verkeer. Dan het hy my gedigte gelees. Met verstommende insig en integriteit. Hiervoor sal ek Bertie altyd dankbaar wees.
Bertie du Plessis was hoogs begaafd. Saam met sy teo-logiese studies het hy sy MA in Afrikaans met lof behaal. Sy proefskrif oor die gelykenisse was baanbrekerswerk. Dit is jammer dat die magistrale werk nie gepubliseer is vir wyer toegang nie.
Bertie was ’n uitmuntende prediker. Hy het altyd met ’n verbysterende insig en taalvernuf die teks vir die hoorder oopgemaak. In die tyd dat hy in Suidoos-Pretoria predikant was, het hy die evangelie op die samelewing en sosiale onreg laat val. Vreesloos en met onstuitbare oortuiging.
Hy was ook ’n skilder van aansien. Veral sy portretstudies was uitmuntend. Bertie het verskillende kunsvorme met gemak beoefen. Hy het die kuns van die lewe en die lewe van kuns omhels.
Bertie het twee benoemings gelyktydig ontvang. In die Departement Afrikaans by UP en in die Departement Nuwe Testament by Unisa. Hy het laasgenoemde aanvaar. Ek was nie verbaas nie toe ek hoor hy het ander weivelde gaan opsoek. Hy moes met mense werk. In die sakewêreld het hy met sy innoverende gedagtes ’n reuse-sukses gemaak. Ten tye van sy afsterwe was hy die hoof van Naspers se Opleiding.
Ek sal Bertie du Plessis se vlymskerp insigte, belesenheid en vars humor nooit vergeet nie. Sy klokhelder lag sal altyd in my hart eggo.
Bertie du Plessis was een van die mees begaafde mense in die kerk. Miskien té begaafd. Hy was sy tyd ver vooruit. En nou het hy op 17 Desember 2015 ons vooruitgegaan na dáár waar lof en lied opklink.
Ons dank die Here vir iemand soos Bertie du Plessis.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
