Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Wat is die argument vanuit die Bybel vir of teen die erkennings van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? Piet Otto se standpunt.

Wat sê die Bybel? | ‘Een man, een vrou’


Wat is die oorkoepelende argument vanuit die Bybel vir of teen die erkennings van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? Dít is die vraag waarmee Kerkbode se gay-debat afskop. Twee deelnemers met verskillende perspektiewe op die saak stel hulle standpunte. Hieronder stel Piet Otto sy standpunt. Lees ook wat sê André Bartlett in Wat sê die Bybel? | ‘Liefde is die norm vir gay-verhoudings’


Rasionalisme as teologiese vyand van die gereformeerde leer

Oor die saak van selfdegeslagverhoudinge is die kerk diep verdeeld. Baie reken die verdeeldheid is onomkeerbaar. Hulle is dalk reg. Dit sou egter ’n fout wees om te dink dat die verdeeldheid eks-klusief handel oor die goed- of afkeur van homoseksuele gedrag. Die rede vir die verdeeldheid lê veel dieper en is meer fundamenteel. Dit handel oor Skrifgesag en Skrifverstaan. Wie dit nie herken nie, sal voortdurend die simptome behandel, terwyl die siekte ongehinderd en vernietigend in die hart van die kerk voortwoed.

Byna saam met die koms van die Nuwe Suid-Afrika het onder meer die “rasionalisme” – die ou teologiese vyand van die gereformeerde leer – dit na eeue uiteindelik reg gekry om, saam met sy moderne ateïstiese filosofie-boetie, “teksdekonstruksie”, byna ongesiens by die agterdeur van die kerk in te sluip. Hulle het hulleself op ’n fatsoenlike wyse staan gemaak in die hart en verstand van ons teologiese fakulteite, ons kerkvergade-ringe, ons preekstoele, ons kerklike tydskrifte, ons jong teologiestudente asook talle goedgelowige lidmate.

Nou is die Woord van God nie meer die bril van die geloof waardeur daar sin van die werklikheid gemaak word nie. Die menslike rede is nou die bril waardeur ’n gerespekteerde maar voorwetenskaplike ge-Skrif krities ontleed word ten einde sy “betroubaarheid, bruikbaarheid en toepaslikheid” vir die moderne mense vas te stel.

Bybel gereduseer tot ’n historiese geskrif

Die Skrif is nie meer God se selfopenbaring nie. Geïnformeer vanuit die onderskeie wetenskapvelde, menslike ervaring en die filosofie word die Bybel gereduseer tot ’n historiese geskrif wat net mense se idees en getuienisse oor hulle God bevat. Daarom kan dit ook nie die toets van die tyd deurstaan nie: “Ons weet vandag beter as hulle wat die Bybel geskryf het” is nou die slagspreuk. Of soos met die afsluitingsbyeenkoms van die Algemene Sinode gesê is: “Die teks is die hele week gedekonstrueer en ons moet God anders leer verstaan.” Wie dit nie aanvaar nie en nie die menslike rede tot hoogste norm bo die Skrif verhef nie is gewoon onwetenskaplik, oningelig, fundamentalisties, irrasioneel en daarom irrelevant.

Hierdie “nuwe” vertrekpunt noodsaak: ’n nuwe hermeneutiek; ’n nuwe Godsbegrip; dat menslike ervarings normatief gemaak word en dat etiese standaarde stel-selmatig hierby moet aanpas. Uiteindelik bly net ’n “liefde” oor wat nie meer die sonde bedek of “wegsluit” nie, maar dit openlik in die kerk verwelkom. Dit bring onder andere leraars se legitimasie-eed en bevestiging in die gedrang as hulle verklaar: Hulle aanvaar die kerklike belydenisse omdat dit ooreenkom met die Woord van God en beloof dat hulle die Ou en Nuwe Testament as die enigste, onfeilbare Woord van God aanvaar, aan-gesien dit die volkome leer van verlossing is en beloof dat hulle alle leringe wat daarmee in stryd is sal verwerp.

Die huwelik is ’n skeppingsordening van God

Ongeag enige argument tot die teendeel, is dit onmoontlik om die Bybel gelowig te lees en nie te verstaan nie: Die huwelik is ’n skeppingsordening van God. Die Bybel ken slegs die huwelik tussen ’n man en ’n vrou. God self verbind ’n man aan sy vrou in die huwelik (nie die kerk nie). Alle vorme van seksuele omgang buite dié huwelik is ontoelaatbaar en alle vorme van homoseksuele gedrag in die Bybel word negatief beoordeel. Hier is geen sprake van beter uitlegkunde moontlik nie, maar eerder van onaanvaarbare inlegkunde. Dit is ten beste “onverant-Woord-like” Skrifuitleg en ten slegste leer-dwaling.

Die God van die Bybel is nie verouderd nie

Daar word ook voortdurend verwys na die kerk se sondes en liefdeloosheid van die verlede en dat ons in elk geval gereeld ons “Bybelse” standpunte wysig soos met die dra van hoede deur vroue, die afwysing van apartheid, die feit dat ons nie meer mense stenig nie ensovoorts. Hierdie tipe “voorbeelde” word gebruik om die aanvaarding van homoseksualiteit binne die kerk te regverdig as net nog een van hierdie “noodsaaklike Bybelse regstellings”. Eerstens: Alhoewel alle kerklike sonde met trane en berou betreur word, verkondig ons nie ’n vol­maakte kerk nie maar ’n volmaakte Verlosser. Twee­dens: Liefde in die Bybel is ’n heilige liefde op grond waar­van die sondaar hom/haar moet bekeer. Gelowiges kan hulle nooit op die liefde beroep ten einde sonde aanvaarbaar te maak nie. Derdens: Soos duidelik gestel word in NGB Art 25 is die seremoniële wet in Christus vervul en daarom stenig ons nie meer mense nie. Ensovoorts.

Ten laaste: Die Bybel mag ’n “ou” en “voorwetenskaplike” Boek wees, maar die God van die Bybel is nie verouderd nie. Dit is Hy wat in die Bybel “aan die Woord” kom. Hy is steeds meer relevant as die jongste nuusberig. Hy is immers gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. So sê die Bybel en so glo die kerk. Die selfdegeslagverhoudinge-gesprek kan alleen sinvol gevoer word as dit gegrond word op die beginsel dat “Die Skrif alleen” (sola scriptura) God se Woord is en dat dit die hoogste/finale norm (normata normans) in alle beredeneringe is. Mag dit weer so wees.

▶ Ds Piet Otto is predikant van die NG gemeente Griekwastad en was voorsitter van die mees onlangse sinode van die NG Kerk in Noord-Kaapland.

Hierdie artikel is ná publikasie opdateer.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.