Sowat 3 000 mense het opgedaag om die Groote Kerk in Kaapstad se Kerssangdiens op 22 November 2015 by te woon.
Die Groote Kerk, wat heeljaar gevier het aan hulle geskiedenis van 350 jaar, is dankbaar dat God “die beste vir laaste gehou het”. “Ons Kerssangdiens was na ons skatting die volste ooit – in 350 jaar se geskiedenis! Mense het in gange en in die parkeerterrein gestaan. Daar was nie plek vir die spreekwoordelike (kerk)muis nie,” sê ds Johan van Rooyen, leraar by die Groote Kerk.
“Buiten vir die hemelse musiek, was daar ook heelwat ander hoogtepunte. Dr Quintus Heine van die Bybelgenootskap het vir die gemeente ’n spesiale Feesbybel vir gebruik op die kansel oorhandig en Roucher du Toit het ’n ATKV-oorkonde ontvang.”
Volgens Mercia Eksteen, ATKV se kommunikasiebe-stuurder, het hulle die ATKV-oorkonde aan Roucher toegeken vir “sy musiekbydrae waardeur hy ook ’n ambassadeur vir Suid-Afrika is”.
“In 25 jaar het ek nog nooit so iets gesien nie! Die mense het selfs buite op die sypaadjies gestaan en luister,” sê Roucher du Toit, Groote Kerk se musiekdirekteur en hooforrelis van die afgelope 25 jaar, van dié geleentheid.
Roucher, wat gereeld as orrelis internasionaal in stampvol katedrale optree, sê dit was “wonderlik om dit in my eie land te sien”.
Behalwe vir ’n top-orreluitvoering deur Roucher was daar ook die optrede van sewe kore – wat uit sowat 500 koorlede bestaan het.
“Roucher dien die Here al vir dekades lank met sy talente en gawes as orrelis en musiekkenner. Die afgelope jaar se feesvieringe het ook meestal om hom en om die feeskomitee gedraai. Ons kan net die Here loof en dank vir mense wat hulleself al vir soveel jare tot sy beskikking stel. Aan God al die eer,” sê Van Rooyen.
Roucher du Toit het ook vroeër vanjaar ’n spesiale Andrew Murray-toekenning ontvang vir sy bydrae tot kerkmusiek. Dit was die eerste keer wat ’n musikus die toekenning ontvang het.
