Noord-Korea bly die onveiligste land ter wêreld om ’n Christen te wees.
Die vlakke van verdrukking in die wêreld het oor die algemeen skerp gestyg en in 35 van die 50 lande waar Christene die meeste weens hulle geloof verdruk word, is Islamitiese ekstremisme die groot dryfveer.
Dit is van die uitkomste uit Geopende Deure se jaarlike Wêreldwaarnemingslys wat aandui in watter lande Christene die meeste vervolg word.
Die tien gevaarlikste lande op 2016 se lys is: 1. Noord-Korea, 2. Irak, 3. Eritrea, 4. Afghanistan, 5. Sirië, 6. Pakistan, 7. Somalië, 8. Soedan, 9. Iran, en 10. Libië. Lande se posisie word deur ’n puntestelsel bepaal met Noord-Korea wat byvoorbeeld 92 punte gekry het en Libië 79. Die gemiddelde punt van die boonste 50 lande is 2,8 meer as verlede jaar.
Afrikalande is steeds besig om al hoër in die lys op te beweeg, met Libië wat byvoorbeeld die eerste keer ooit in die boonste tien is. Niger, wat 49ste op die lys is, het in die boonste vyftig ingeskuif weens die Boko Haram se groeiende invloed in dié land.
Nog ’n Afrikaland, Eritrea, het van die 9de tot die 3de plek op die lys opgeskiet.
Die verdrukking van Christene is nie altyd die werk van regerings nie. In Pakistan, wat van 8ste tot 6de op die lys opgeskuif het, word radikale Moslemgroepe daarvoor geblameer. Een voorbeeld is die aanval op twee kerke op 15 Maart 2015, waarin 25 mense dood en talle beseer is.
Die ergste verdrukking gaan ook nie altyd saam met die ergste geweld nie. In lande soos Noord-Korea, Eritrea, Somalië, Afghanistan en die Maldives word daar so onmiddellik op enige Christelike getuienis toegeslaan dat min gelowiges dit waag om openlik te getuig, sodat die geweld uiteindelik taamlik min is.
Die lande waar Christene verlede jaar die meeste gewelddadige vervolging beleef het, is Nigerië, Pakistan, Irak, Sirië en Myanmar.
In sommige lande in Sentraal-Asië neem die vervolging ook baie subtiele vorme aan. ’n Kerkleier word byvoorbeeld in hegtenis geneem, vir ’n paar dae goed behandel in die tronk en dan vrygelaat. As hy dan vrygelaat word, glo sy gemeente hom nie dat hy niemand verraai het nie. So word verdeeldheid in gemeentes gesaai.