Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tannie Lenie Moller

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Sam Heine van Kinross skryf:

Die “kwaai” leierdiaken van die NG gemeente Kinross, Lenie Moller. Die statige tannie met haar Mercedes en netjiese hare kon baie formeel voorkom. Klokslag Sondagmôre agtuur het sy voor die konsistorie gestop. Die klik-klak van haar hakskoentjies het die trappe met grasie bestyg. “Môre, Dominee.” “Môre, tannie Lenie, hoe gaan dit?” “Altyd goed dankie. Gee daai bril dat ek dit skoonmaak. Dan sien jy weer.” Daar was altyd tyd vir stories of  ’n grappie.

Kuier was nooit “vinnig” nie. Oor ’n koppie koffie en menige verhaaltjies kon jy gemaklik en ontspanne agteroor sit en die tyd geniet. Hier sou jy ’n mens met ’n mooi hart leer ken. Sy het baie stories om te vertel – ’n hele leeftyd en nog meer. Deur tannie Lenie leer ken ek die liefde van haar hart, ’n aantreklike man, soos die foto in die ou huis se gang getuig het. En ook dorpstories!

Haar kerkstories was ook vol vermaak. Teen 80 km/h af Kaap toe, saam met ds Breytenbach. Op die Sinode in aangrensende kamers met ds Joubert. En die kerkraad wat vra: “Het julle ’n kamer gedeel?” Verontwaardige: “Nee, ons het elkeen ons eie kamer gehad!”

Baie liefde, vreugdes en hartseer is in 30 jaar se kerkraad ingepak. Die laaste paar maande was vir haar sleg omdat sy nie meer aktief kon wees nie. Op 13 November 1985 is sy verkies en op 1 Desember 1985 is sy bevestig as diaken en kerkraadslid van Kinross. Sy wou so graag haar 30 diensjare voltooi, en ons het haar op die kerkraad gehou. Op 28 November is sy oorlede. Dit was ’n voorreg om saam met tannie Lenie diensbaar te wees.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top